’n Johannesburgse komedieskrywer James (Beukes) raak aan kokaïen verslaaf, en wanneer dit sy loopbaan en persoonlike lewe begin verwoes, stuur sy vriende hom na ’n tronkagtige rehabilitasiesentrum.

Daar raak hy bevriend met ’n twyfelagtige karakter Martin (Newton) wat hom help ontsnap. Genees van dwelms keer James na Johannesburg terug – maar sy ouers het intussen Australië toe getrek, sy meisie het hom vir sy beste vriend gelos en ál werk wat hy kan kry, is as draaiboekskrywer vir ’n flou sitkom. Dan daag Martin by sy voordeur op . . .

Freimond het met sy rolprent Gums & Noses van 2004 gewys hy weet hoe om ’n skreeusnaakse draaiboek, vlymskerp redigeerwerk en akteurs met ’n goeie begrip van komiese tydsberekening te kombineer. Jozi is nog beter. Beukes is uitstekend en al die vertolkings is snaaks maar natuurlik. Die ongenaakbare stedelike agtergrond verleen plaaslike realisme daaraan.

Die fliek bied ’n indringende maar onsentimentele blik op Johannesburgers se liefde-haat-verhouding met hul vreemde stad en sy maltrap-mense. Dis net so snaaks as enigiets uit Amerika, Brittanje of Australië. Bonus: kortfliek.

Komedie. Met Carl Beukes, Lionel Newton en Lindi Matshikiza. Regie: Craig Freimond. 2009. 107 min. 13TD.

Ons dink: 4/5