Die verwronge breine agter die Crank-rolprente het die aksie-knop nou selfs vinniger gestel. Die vertrekpunt is belowend: Eendag in die nabye toekoms sal regte mense die digitale avatars (inkarnasies) in rekenaarspeletjies vervang. Dan kan jy teen betaling deur ’n speler beheer word of self beheer uitoefen.

As jy ’n aanhanger van die Crank-rolprente is, sal die wilde kamerawerk en die aanslag van kaal borste, geweld en bloed jou waarskynlik bevredig. Maar daar is darem ook ’n storie: Kable (Butler), ’n gevangene in die dodesel, word gedwing om in die aanlynspeletjie Slayers vir sy lewe én die vryheid van sy vrou en dogter te veg. Sal hy uit die speletjie kan ontsnap en met die tegno-genie en skepper van Slayers, Ken Castle, kan afreken?

In een van die twee bonusinsetsels op die DVD erken die regisseurs hulle wou ‘‘die gehoor martel deur hulle met ’n hamer oor die kop te slaan’’. As jy ’n kanniedood-speler is of straf geniet, kyk dit. So nie, hou verby.

Wetenskapsfiksie-aksie. Met Gerard Butler, Michael C. Hall en Amber Valletta. Regie: Mark Neveldine en Brian Taylor. 2009. 95 min. 16GTSN.

Wat ons dink: 2/5