Komedie-drama. Met Adam Sandler, Seth Rogen en Leslie Mann. Regie: Judd Apatow. 2009. 140 min. 16TS.

Al handel die storie oor komediante, is dit Apatow (The Forty Year Old Virgin, Knocked Up) se ernstigste fliek nog. Ira (Rogen) en Leo (Jonah Hill) probeer as skerpskertsers naam maak, terwyl Mark (Jason Schwartzman) ’n rol in ’n swak sitkom losslaan. Maar eintlik wil hulle almal soos George Simmons (Sandler) wees, ’n skerpskertser wat ’n groot rolprentster geword het.

Maar sy sukses het nie vir hom geluk gebring nie en hy het pas gehoor hy het kanker. George keer na die skerpskerts-toneel terug. Daar sien hy Ira raak en stel hom as grapskrywer aan. Hy kom ook weer by ’n ou liefde, Laura (Mann), uit. Maar dan kry hy nuus wat alles verander...

Gaan kyk dit, maar nie ter wille van die skerpskertsery nie – dis nie besonder goed nie – maar oor die skitterende spel. Sandler en Hill is voortreflik, en ook Eric Bana as Laura se man. Daarby bied dit ’n genuanseerde blik op die mededinging en eienaardigheid van die (minder) snaakse mense. Bonus: kommentaar, blapse.

Op die internet

- www.funnypeoplemovie.com

Wat dink jy van hierdie DVD? Gee jou mening in die kommentaarveld hieronder.