Toe die man die stuk ys roekeloos met ’n enkele stuk kraggereedskap takel, sien ’n mens net stukkies ys spat. Dit lyk asof hy wild en wakker die blok ys soveel skade en littekens as moontlik probeer toedien.

Elke dan en wan gebruik hy ’n soort skrapertjie om ontslae te raak van die stukkies ys wat hy so hardhandig losgewoel het.

Ná nog ’n paar keer se woeste gedelf binne-in die ysblok trek hy ’n houertjie nader met verskillende gekleurde flessies.

Selfs die inhoud daarvan word redelik ferm gegooi in die kepe wat hy in die ysblok gemaak het.

Dan vee hy vir oulaas die blok skoon en hanteer hy vir die eerste keer die vreemde ysblok-skepping onderstebo. Wel, in hierdie geval beteken onderstebo eintlik die regte kant bo.

Die omstanders snak na hul asem toe hulle sien wat hy geskep het. Wat aanvanklik na lelike letsels in die ysblok gelyk het, is omtower in die delikaatste twee rose, elk sagkens gekleur met lowergroen blare wat die agtergrond vorm.

Daar is ongelukkig geen aanduiding van waar die video verfilm is nie.