Eers lyk dit of die kleuter met sy doek en T-hemp aan Rocky, oftewel Sly Stallone, net baie graag van nader wil bekyk . . . tot waar die ikoniese silhoeët van Rocky en daardie eenarm-opstote die televisieskerm vul.

Nes sy rolmodel kies die kleuter koers mat toe – in sy geval die sitkamermat – en die oefensessie begin in alle erns. Behalwe natuurlik dat hy (nog nie) die kragtige eenarm-stote kan nadoen nie.

Maar dis al waar hy effe slap laat lê. Hy rek en strek saam met sy held. Hy klits sy denkbeeldige peerbal teen dieselfde spoed as die gespierde Sly. Daar word saam gewig opgetel, hurkspronge gedoen, die slaansak bygedam, ligvoets op dieselfde plek gedraf, tougespring en ná die uitmergelende oefenroetine gejubel.

Ons sal nie verbaas wees as menige boksafrigters al toustaan om die Rocky in die kleine in hul kamp te kry nie.

Tien kitsfeite oor die Rocky Balboa-flieks

1. Sylvester Stallone het die karakter van Robert “Rocky” Balboa sr. geskep. Die titelgeveg waarmee Chuck Wepner Muhammad Ali in 1975 planke toe gestuur het, was sy inspirasie vir Rocky. Dit was net die derde keer dat Ali in sy loopbaan harpuis geruik het. Chuck het Sly later gedagvaar omdat hy geld uit sy lewensverhaal gemaak het. Die saak is buite die hof geskik.

2. Die van Balboa/Valvoa beteken losweg “mooi vallei”.

3. Die fliek begin op 25 November 1975 in die krotbuurt van Kensington, Philadelphia.

4. Susan Sarandon is opsygeskuif vir die rol van Adrian omdat sy glo te sexy is. Cher en Bette Midler se naam het ook opgeduik, maar Talia Shire het eindelik die rol vertolk.

5. Butkus die hond was Sly se eie hond.

6. Sly het die karkasse in die slaghuis so lank toegetakel dat hy sy kneukels plat geslaan het.

7. Daar was nie geld om te mors met die vervaardiging van die eerste Rocky-fliek nie. Alle buiteskote is met natuurlike lig geskiet. Die enigste maaltyd op die stel was pizza – vir ontbyt, middag- en aandete.

8. Die treine op die agtergrond het bepaal wanneer verfilm moes word. ’n Produksieassistent moes met ’n tweerigtingradio naby die treinspore staan. Hy het dan die regisseur, John Avildsen, laat weet wanneer die treine op pad is sodat aksie op die stel onder op grondvlak kon plaasvind.

9. Die voordeel van ’n skraps begroting het daartoe gelei dat die ateljee geen ander keuse gehad het as om Sly die rol van Rocky te laat vertolk nie. Hulle wou aanvanklik destydse groot kanonne soos James Caan, Burt Reynolds of Ryan O’Neal as die inspirerende bokser inspan.

10. Dolph Lundgren het Sly so hard geslaan dat die arme man agt dae lank in intensiewe sorg moes deurbring.

Bronne: wikipedia.org, moviepilot.com, yahoo.com, mentalfloss.com