Nie baie van ons kan meer ’n volmaakte handstaan uitvoer nie.

Maar ’n hoogswanger Julia Sharpe steek ons in die skande met haar ongelooflike gimnastiekvaardighede. Die gewilde video toon hoe die 27-jarige toekomstige ma ’n volmaakte handstaan doen al groei daar twee mensies binne haar.

Julia, wat al gimnastiek doen sedert sy twee was, het onder die toesig van haar dokter aanhou oefen terwyl sy haar tweeling verwag het.

“Ek het soveel geoefen as wat ek kon terwyl ek swanger was, want ek het geweet ek wil weer begin gim kort nadat die babas gebore is,” vertel sy in ’n onderhoud met The Cut.

Sy het “so te sê alles” tot op 10 weke gedoen. Wanneer die dokters vir haar gesê het sy moes ophou werk aan haar maagspiere of sekere liggaamsdele, het sy hul raad gevolg.

Sy het aanhou oefen tot sy 34 weke swanger was.

“Ek het nog handstane gedoen, maar meestal net gestap en joga gedoen.”

Bronne: metro.co.uk, dailymail.co.uk