Nee, dis nie ’n padda wat op sy lessenaar sit nie. Die kunstenaar het ons almal laat kopkrap met sy driedimensionele kuns.

Nikola Culjic het die ongelooflike 3D-meesterstukke met potlood, merkpenne en pastelle op papier geskep.
“Ek is ’n 30-jarige ou van Serwië wat myself geleer het. Ek’s minder as drie jaar aktief aan die teken,” het hy op BoredPanda geskryf.
Toe hy begin krabbel, was mense dol oor sy sketse, vertel Nikola, maar hy het nie veel in die tydverdryf belanggestel nie.
“Ek het portrette begin skets en dit was moeilik . . . Toe besluit ek om iets anders te teken.”
Hy begin toe met skaduwees en perspektiewe eksperimenteer en vervolmaak die tegnieke tot dit lyk of sy skeppings van die bladsy af spring.
Al het sy 3D-illustrasies hom roem op Facebook en Instagram besorg, het die kunstenaar aan Mashable gesê sy doelwit is om sy naam “ ’n handelsmerk vir 3D” te maak. Interessant genoeg verkoop hy nie sy werk nie.
“Inspirasie is oral,” sê hy, “jy moet dit net vang”.

Bronne: Instagram, BoredPanda, Mashable.com