Dit was die rol wat hom beroemd gemaak het, gesorg het dat sy naam op almal se lippe is en dat miljoene vroue hom aanbid.

Wie kan Colin Firth vergeet as die aantreklike Mr Darcy in die TV-weergawe van Jane Austen se roman Pride and Prejudice? Of in die rol van Mark Darcy in die moderne weergawe van Bridget Jones’s Diary?

Tog het hy gewens almal wil dit vergeet. Hy het die karakter begin beskou as ’n spook wat hom nie wil uitlos nie, wat soos ’n irriterende skoolbynaam aan hom vaskleef.

Nou het hy eindelik ’n manier gekry om dit af te skud deur ’n heel ander rol te aanvaar waarvoor hy nog lank onthou sal word – veral as hy die Oscar vir  beste akteur daarmee losslaan.

Hierdie keer speel die nimlike Colin ’n hakkelende koning in The King’s Speech – so oortuigend dat hy reeds met die een prys ná die ander daarvoor bekroon is.

In die rolprent beeld hy koning George VI, koning Elizabeth II se pa, uit.

Hy beland onwillig in die kollig en op die troon nadat sy broer Edward VIII (Guy Pierce) geabdikeer het om met die geskeide Amerikaanse sosiale vlinder Wallis Simpson te trou.

Met die Tweede Wêreldoorlog wat dreig om los te bars, moet hy die burgers moed inpraat. Maar die nuwe koning sukkel om ’n woord uit te kry en sy stremmende spraakprobleem maak openbare toesprake vir hom en sy luisteraars ’n beproewing.

Sy vrou, later die koninginmoeder (Helena Bonham Carter), probeer hom help en klop uit wanhoop aan by die spraakterapeut Lionel Logue (Geoffrey Rush). Eers wil die koning nie saamwerk nie, maar mettertyd kry hy vat aan die eksentrieke Australiër se onkonvensionele metodes.

Al kan hy nie sy spraakgebrek volkome oorwin nie, kry hy dit reg om dit te beheer. En in die proses smee hy en Lionel ’n blywende vriendskap.

’n Hele fliek oor ’n man wat hakkel? Dit klink na ’n waagstuk, maar tog ontroer The King’s Speech fliekgangers. Resensente swaai dit hoë lof toe en met 12 benoemings is dit ’n voorloper in die wedloop om die Oscars.

Al is die Britse akteur vir ’n Oscar vir sy spel benoem, was Colin eintlik die derde keuse vir die rol. Die rolprentvervaardigers het Hugh Grant of Paul Bettany in die oog gehad, maar nie een van die twee sterre was geesdriftig oor die ongewone projek nie. Ook Colin het sy bedenkinge gehad, want hy was bekommerd dat hy nie die koning se spraakprobleem oortuigend sou kon uitbeeld nie.

“Daar is hope kennersmenings oor hoe om nie te hakkel nie, daar is boeke geskryf oor hoe om nie te hakkel nie, maar daar is nie veel inligting oor hoe om te hakkel nie,” sê hy.

Dit het darem gehelp dat sy jonger suster, Kate, ’n professionele spraakafrigter is. Sy het hom nie net sy hakkeltegniek geleer nie, maar ook van die bisarre oefeninge voorgestel wat in die rolprent gebruik word om die gehakkel te help beheer.

Hy en die regisseur, Tom Hooper, het ook na beeldmateriaal uit die argief gekyk van koning George wat sukkel om te praat – party daarvan was so hartroerend dat hulle nie die trane kon keer nie.

“Wat so roerend was, is dat jy sien die koning wil graag die regte ding doen,” verduidelik Tom. “Daar is hoop in sy oë. En hy bly stiltes tref waarin hy begin verdrink, wag dan, ruk hom reg, gaan weer aan en verdrink weer.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot, 17 Februarie 2011.