Ons ken Suid-Afrikaanse sangers goed. Ons kan hul liedjies woord vir woord saamsing, ons weet of hulle getroud of ongetroud is, wie die nuutste man of vrou in hul lewe is en hoeveel kinders daar is.

bekendes main

Maar eintlik dink jy net jy ken hulle, want het jy geweet Bobby van Jaarsveld se naam is nie eintlik Bobby nie, Jak de Priester se van is glad nie so volksvreemd soos dit klink nie en Adam Tas se regte naam is iets heeltemal meer . . . gewoon?

Ja, talle Suid-Afrikaanse sangers sing onder verhoogname en voor jy dink dit is baie pretensieus, moet jy onthou die verskynsel kom al jare in die vermaakbedryf voor.

Lees ook: Bekendes se verborge talente

In Amerika het sterre soos Marilyn Monroe (Norma Jeane Mortensen, later Baker) en Elton John (Reginald Kenneth Dwight) het hulself aan die wêreld voorgestel met name wat hul ouers nie vir hulle gegee het nie.

Hier in Suid-Afrika het mense lief geraak vir sangers soos Bles Bridges, wat eintlik Lawrence John Gabriel Bridges geheet het, en Min Shaw, wie se naam eintlik Wilhelmina Jacoba Viviers is.

“Baie keer vergemaklik dit dinge vir die musikant,” sê Sean Else, ’n filmvervaardiger wat ook al baie liedjies uit sy pen laat vloei het. “Soms is ’n naam net te moeilik om te onthou en baie van die musikante kies iets wat meer vloei en uitstaan.”

Lees ook: Al kry hy nie Grammy nie, maak SA gospelsanger landgenote trots in VSA

Ons het by van ons land se bekendste kunstenaars gaan uitvind wat hul regte name is en waarom hulle juis dié name gekies het.

Kurt Darren – Kurt Johan van Heerden

kurt

Die musikant Lance James het in die M-NET-program My Story vertel toe hy Kurt in dié se jong dae ontmoet het, was hy bekend as Kurt van Heerden.

“Ek het vir hom gesê dit het nie ’n nice showbiz ring to it nie. Ek het voorgestel ons kry vir hom ’n ander naam. Ons het name begin rondgooi en toe kom dit uit sy broer se naam is Darryn. Ek het vir hom gesê dit klink goed: Kurt Darren.”

Bobby van Jaarsveld – Pieter van Jaarsveld

bobby

Die vriendelike Bobby van Jaarsveld se naam kom van sy pa af. Dié se naam is ook Pieter, en toe sy pa op kleuterskool die rol van ’n bobbejaan kry, het mense hom van Bobbejaan en later Bobby begin noem.

Pieter jr. is toe sommer klein Bobby genoem en die dag toe hy die musiekbedryf betree, het hy besef daar is heeltemal te veel Pieters daar buite. Hy het besluit om Bobby te wees.

Sy ma, Ronél Brink, en mense wat saam met hom grootgeword het, asook sy vrou, Annetjie, noem hom steeds Pieter.

“As iemand wat my gewoonlik Bobby noem my uit die bloute Pieter noem, dink ek altyd ek is in die moeilikheid,” vertel Pieter.

Snotkop – Francois Henning

snotkop

Francois gebruik die naam wat sy pa, Jan Henning, hom gegee het. Jan is vyf jaar gelede aan kanker oorlede.

“Baie tannies dink dit is so ’n verskriklike naam, maar dit is eintlik baie spesiaal,” sê Francois.

Hy vertel toe hy klein was, het sy pa lang ure gewerk. Hy wat Francois is, het behoorlik kattekwaad aangevang wanneer sy pa nie by die huis was nie, en dis hoekom sy pa hom “Snotkop” begin genoem het.

Francois het dit as ’n verhoognaam gekies omdat die lirieke van sy liedjies ook so bietjie stout en tong in die kies is. “Dit (die naam Snotkop) maak my hart warm en laat my aan my pa dink. Boonop is dit eg Afrikaans.”

Nianell – Sonja Nel

nianell

“My geboortenaam is Sonia Aletta Nel.” Toe Nianell begin sing, was daar reeds ’n baie bekende sangeres Sonja op die toneel.

Sy het besluit om die “So” van Sonia weg te laat. “Maar Nia was reeds gebruik toe ek die naam as ’n maatskappy wou registreer. Toe maak ek my van, Nel, aan Nia vas en sit ’n ekstra ‘l’ by, want dit het vir my mooi gelyk. Baie mense noem my Nia. Baie noem my Nianell. My vriende en familie noem my Sonia en my ma het my Sonneblom genoem.” Haar naaste vriende noem haar ook graag Sonskyn.

Dozi – Henk Opperman

dozi

Henk vertel hy het dié naam as jong student in die koshuis gekry terwyl het aan die destydse Technikon Pretoria studeer het.

“Ek het elke aand in een of ander pub gesing. Ek was baie moeg van die singery en het vreeslik baie geslaap.

Toe het een van die seniors my Dozi begin noem.” Toe hy ná baie jare sy eerste CD die lig laat sien, het die platemaatskappy aanbeveel hy doen dit onder Dozi omdat die naam reeds bekend was.

Chris Chameleon – Chris Mulder

chris chameleon

In 1988 het Chris as jong man ’n opvoedkundige treinrit van 10 dae tussen Durban, Johannesburg en Richardsbaai meegemaak. Dis gereël deur ’n rekenaarmaatskappy wat wit en swart jong mense na mekaar wou laat uitreik.

Daar het hy ’n man met albinisme, Cecil, ontmoet met wie hy lang intellektuele gesprekke gevoer het. “Ons het dieselfde belangstelling en filosofieë gehad en idees uitruil.” Hulle het onder meer oor “chameleonism” gepraat.

“’n Mens is ’n ander mens voor jou kêrel as voor jou ma of pa, jou baas of die ou agter die kasregister. Dis nie skynheilig nie; dis net hoe die mens is. Jy word in ’n omgewing gedompel en jy ‘gee ’n sekere kleur af’; daarom is jy nie dieselfde mense nie.”

In daardie stadium was dit vir hom revolusionêr, sê Chris. Hy het baie daarvan in ander mense en in homself raakgesien. In 1990 is sy eerste betaalde orkes die Blue Chameleon genoem, en later jare het hy as Chris Chameleon begin optree.

Jack Parow – Zander Tyler

jackparow

Hy was een aand aan die kuier en het die fliek Pirates of the Caribbean op televisie gekyk. Daarin speel Johnny Depp die seerower Jack Sparrow.

“Toe besluit ek vergeet Jack Sparrow, ek is Jack Parow, die pirate van die caravan park. Gelukkig het ek dit die volgende oggend onthou, al het ek ’n heavy babbelas gehad.”

Zander sê hy is eintlik baie skaam en teruggetrokke en dink die verhoognaam is amper soos ’n skild wat hom beskerm. “Want dit is Jack Parow en nie Zander wat op die verhoog is nie, as dit sin maak.” Hy sê die meeste mense noem hom Zander, maar van sy vriende noem hom Parow. Hy reageer op Parow, Jack en Zander.

Francois van Coke – Francois Badenhorst

francois van coke

Francois het homself dié naam tydens ’n onderhoud gegee nadat Fokofpolisiekar se eerste CD uitgereik is.

“Ek was saam met ’n tromspeler van Vredendal in ’n band en ons het saam met klankingenieur van Vredendal in ’n studio opgeneem. Daar is ’n Coca-Cola-fabriek op Vredendal en almal het iemand van Coke (die fabriek) geken.

"Ons het toe begin dink dit is ’n snaakse van en dit het ’n herhalende grap geword. My ma het my gevra om ’n ander van te gebruik nadat die eerste Fokofpolisiekar CD uitgekom het. My pa is ’n dominee en die hele gemeente het die pastorie gebel om te hoor hoekom ek in so ’n wilde band speel.

"Ek het in ’n onderhoud gesê my naam is nou Francois van Coke omdat ons so lank daaroor grappe gemaak het. Dit het van daar af ge-stick.”

Hy reageer op Francois, Frannie, Van Coke, Francois van Coke en Coke.

Jak de Priester – Jako Roux

jak de priester

Jako sê rondom 2001/2002 was hy ’n student op Tukkies. Sy een vriendin wat kuns studeer het, het haarself Pinkey Lin gedoop en hy het homself Jak de Priester begin noem.

“Daar was nie ’n rede nie. Dit het niks met preek of godsdiens te doen gehad nie. Daai tyd was ons baie beïnvloed deur mense soos Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel.”

Jak de Priester het vir hom “so half Nederlands Hollands en bietjie weird” geklink. Jako sê hy was nog Jako toe hy as onderwyser gewerk het en een oggend voor skool het hy die hoof en die res van die personeel meegedeel dat hy van nou af Jak de Priester sal wees.

Hy sê selfs sy ma sal hom bel en sê: “Hallo, Jak de Priester.” Sy vrou, Michelle Roux, en baie van sy naaste vriende noem hom JDP (Jak de Priester).

Elvis Blue – Jan Hoogendyk

elvis

Hy het lank vergeefs probeer om CD’s onder die naam Jan Hoogendyk uit te reik.

“Ek het geweet die musiek is goed, maar die CD's het nie verkoop nie, ” vertel Jan.

In daardie stadium het sy vrou by ’n hospies gewerk en hy het vir die mense daar gaan kitaar speel. Daar was ’n agtjarige seun met die naam Elvis Blaauw wat graag ’n musikant wou word en hulle het altyd met mekaar geskerts.

“Hy het altyd gesê ek het ’n snaakse naam en ek het vir hom vertel watter cool naam hy het.”

Hulle het nog besluit hulle moet dit dalk na Elvis Blue verander. Jan was baie hartseer toe Elvis Blaauw twee jaar later oorlede is en toe hy die dag vir Idols SA inskryf, het hy besef Jan Hoogendyk gaan nie werk nie en van toe af is hy as Elvis Blue bekend.

Jay – Jaco du Plessis

jay

“Ek reageer meestal op Jaco. Dit is maar my naam van geboorte af . . . eintlik Jan Jacobus Johannes. My Ma noem my Jakkals of Jakes. My vrou noem my manlief en wanneer sy kwaad is, is dit JACO DU PLESSIS!! Op skool is ek Dupie genoem, maar toe ons in die dae voor Afrikaans cool was met Eden begin, het ons die Engelse album Point of No Return opgeneem.

"Daar het ek besluit om al die J’s in my naam te gebruik en vir my ’n verhoognaam te skep. Jay is oorspronklik uit Devanagari (’n ou taal van Indiese en Nepalese afkoms) en kom van die naam Jayavant, wat ‘posessor of victory’ beteken.”

Adam Tas – Francois van der Merwe

adamtas

“Ek het die naam om baie redes gekies. Adam Tas was ’n taalvader: Een van die eerste opgeskrewe pogings van Hollands na Afrikaans was die brief wat Adam Tas aan die VOC geskryf het. Hy was ’n rebel, nes ek ook  in ’n groot mate is.”

Francois sê ’n verhoognaam is bevrydend, want skielik kon Adam Tas goed doen en sê wat Francois nie kon doen nie. “Francois is skaam en teruggetrokke, Adam Tas rock n roll.”

Hy sê die mense na aan hom noem hom steeds Francois; tog reageer hy ewe goed op albei name.

Lianie May – Lianie Oosthuizen

lianie

“Die van May was ’n voorstel van my platemaatskappy, Mozi, in 2007. Johan Vorster en Sean Else wou ’n korter verhoogvan hê wat meer country-agtig klink, soos in die geval van Shania Twain, Faith Hill en LeAnn Rimes.

"Hulle het gevra of ek daarvan sou hou en dit het maar net in plek geval. Ek onthou my pa, wat ’n boer was, het nie geweet wat die idee agter ’n verhoogvan is nie en het gevra wat nou eintlik verkeerd is met ons van (Oosthuizen). Ek moes maar mooi verduidelik!”

- Marelize Potgieter

Lees ook op Huisgenoot.com:

Musiek kan jou liefdeslewe ’n hupstoot gee

Is wolkbrood die antwoord op jou lae-koolhidraat-gebede?

Minder oefening ‘lei tot kleiner brein’

Die eenvoudige geheim om jou selfoon se batterylewe te verleng

Babatoelae, haarsalonne en bier – dié maatskappye het die lekkerste byvoordele

Kantoorchaos kom tot ’n einde danksy ‘slim’ stoele