Die roofdier is volmaak gekamoefleer op die agtergrond terwyl hy op pad is na ’n maaltyd – ’n smaaklike rooibok wat in die takke van ’n groot boom hang.

Met die eerste oogopslag lyk dit soos ’n donker stuk boombas, maar daardie donker kol is die luiperd se donkerder rug en swart stert waar hy aan die boom klou om by sy ete uit te kom.

Die Duitse natuurlewefotograaf Ingo Gerlach (64) het die foto geneem. “Die luiperd het teen die boom opgespring om sy maaltyd te vreet. Dis ’n karkas van ’n rooibok wat aan die boom hang.

“Die luiperd was baie skaam en ek moes vyf uur wag om die foto te neem. Ek was gelukkig om hom in die eerste plek raak te sien en nog gelukkiger om hom vas te vang waar hy teen die boom opklim. Kamoeflering is baie belangrik vir die luiperd. Wanneer hulle jag, help dit hulle om weg te kruip sodat hul prooi – gaselle, wildsbokke of rooibokke – hulle eers sien wanneer dit te laat is.”

Toemaar, ons het ook gesukkel, hier is hy!

Daar's hy! Foto: Magazine Features