JOU DAG

Leer vandag vrede maak met frustrasie.

AS JY VANDAG VERJAAR

Jy is van nature ’n gevatte mens en talentvolle storieverteller. Jy moet in 2016 nouer betrokke raak by eendersdenkende mense in jou gemeenskap.

RAM, 21 Mrt.-20 Apr.

Moenie vandag aanneem jy weet wat ander dink of voel nie. Jy is waarskynlik heeltemal die spoor byster. As jy wel aannames maak, gaan jy net die situasie ingewikkelder maak en sake verder deurmekaarkrap.

BUL, 21 Apr.-21 Mei

Neptunus verwar sake, veral wat romanse, vriendskap of geldsake betref. Jy kan nie die geheelbeeld sien nie; dus moet jy belangrike besluitneming uitstel tot jy ’n duideliker beskouing kan kry.

TWEELING, 22 Mei-21 Jun.

Wat ’n verhouding betref, wil jy volstoom voorwaarts storm terwyl hy of sy ietwat stadiger te werk wil gaan. Jy sal dus geduldig moet wees, nie een van jou sterker punte nie.

KREEF, 22 Jun.-23 Jul.

Die lewe is verwarrend, maar moenie sake vererger deur van ander se raad afhanklik te word nie. Dit is heeltemal in die haak om raad te vra, maar die onus rus by jou om die besluit te neem. Leer jou intuïsie vertrou.

LEEU, 24 Jul.-23 Aug.

As jy vandag projekte afjaag, sal jy dit later moet oordoen. Wat ’n kind, ’n tiener of ’n hegte vriend(in) betref, moet jy tyd inruim om dieper te kyk en uit te vind wat werklik aan die gang is.

MAAGD, 24 Aug.-23 Sept.

Mik daarna om die balans tussen jou persoonlike en beroepslewe reg te kry. As jy oorkrities is teenoor geliefdes of kollegas, gaan jy net ’n klomp onnodige angstigheid veroorsaak.

WEEGSKAAL, 24 Sept.-23 Okt.

Met Saturnus wat agteruit deur jou gesprek- en reissone beweeg, kan jy vertragings en dramas rakende motors, rekenaars of kommunikasie verwag. Sit ’n bietjie tyd opsy om sake met ’n betroubare vriend(in) te bespreek.

SKERPIOEN, 24 Okt.-22 Nov.

Geldsake raak ernstig terwyl jy getref word deur ekstra rekeninge of stygende koste. Dis noodsaaklik dat jy ’n streng begroting opstel en daarby hou – veral as jy in ’n finansiële vennootskap is.

BOOGSKUTTER, 23 Nov.-21 Des.

Om ’n verhouding aan te jaag klink na ’n goeie idee . . . maar dit sal net later probleme veroorsaak. Met Saturnus wat agteruit deur jou teken beweeg, is stadige, bestendige beweging nou die beste raad.

STEENBOK, 22 Des.-20 Jan.

Verwag maar vandag frustrasies, vertragings of uitdagings terwyl die son en Saturnus oënskynlik elke beweging dwarsboom wat jy maak. Moenie stres nie! Benut die vrye tyd om jou benadering te hersien en jou planne te wysig.

WATERDRAER, 21 Jan.-19 Feb.

Moenie haastig wees wanneer jy met ander kommunikeer nie, persoonlik sowel as op sosiale media. As jy iets sê – of ’n boodskap stuur – terwyl jy gejaagd voel, kan jy jou probleme op die hals haal.

VISSE, 20 Feb.-20 Mrt.

Kyk jy deur ’n rooskleurige bril na ’n romantiese verhouding? Hoe hoër die troontjie is waarop jy jou maat plaas, hoe verder gaan hy/sy val. Leer jou geliefde liefhê met skete, kwale en al.