Sterre met Arthur Bowman

VERJAARDAGVERSLAG:

Dis nou al ’n rukkie dat jy voel iemand misbruik jou, maar vanjaar doen jy stappe om dit stop te sit deur konfrontasies wat die feite blootlê. Jy neem ’n paar verreikende besluite.

BABAS WAT VANDAG GEBORE WORD:

Hierdie mens sal ambisieus, geesdriftig en ondernemend wees, maar het nie goeie tydsberekening nie en sukkel om geld bymekaar te maak. Spekuleer is nie vir dié mense nie. Hulle is baie huisvas en geheg aan familie en gaan nie maklik met ander mense om nie.

VISSE (20 Feb.-20 Mrt.)

Die volmaan bring goeie omstandighede vir die huwelik en intieme verhoudings. Spits jou toe op dit wat jy kan doen om jou maat gelukkig te maak en geniet die voordele wat dit inhou. Jy kan samesyn bewerkstellig.

RAM (21 Mrt.-20 Apr.)

Jy het ’n verhoogde belangstelling in jou beroep of loopbaan. Jy neem die jaar wat voorlê in oënskou en besef as jy nie nou iets doen nie, gaan jy jou net langer afsloof en absoluut nêrens kom nie.

BUL (21 Apr.-20 Mei)

Jou sterre vir vandag het met kinders te doen. Dit kan baie dinge beteken, maar gewoonlik is dit dat jy deur kleingoed omring is en niks daaromtrent kan doen nie. Geniet dit!

TWEELING (21 Mei-21 Jun.)

Die klem is op die huis en familie. Jy voel jy het verandering en nuwe projekte nodig. Dis baie edel, maar ek sien nie dat jy ander projekte bedink as dié wat reeds begin is nie.

KREEF (22 Jun.-23 Jul.)

Die sterre plaas die klem op denke en om raaisels te ontrafel. Jy sal oplossings vind vir dinge wat jou gewoonlik erg laat kopkrap. Dis ook ’n goeie tyd om te studeer en vir vriende te sê wat jy dink.

LEEU (24 Jul.-23 Aug.)

Vandag se sterre gee jou energie vir jou geldsake en besittings. Jy sal jou bankbalans dophou. Jy kyk na die pryse van dinge wat jy wil koop en wonder of jy dit kan bekostig.

MAAGD (24 Aug.-23 Sept.)

Vandag val die volmaan in jou teken. Dit veroorsaak rusteloosheid wat jy moeilik hanteer. Dis die beste om een ding op ’n slag te doen en hulp te kry as dinge begin skeefloop.

WEEGSKAAL (24 Sept.-23 Okt.)

Die volmaan in jou twaalfde hoek bring vertragings en irritasies. Daar is min wat jy aan die ergernis kan doen buiten om aan te gaan en jou nie te vererg nie. Ek weet dis moeilik, maar dis hoe die lewe is.

SKERPIOEN (24 Okt.-22 Nov.)

Die volmaan is vandag in jou elfde hoek. Dis die hoek vir hoop en drome. Ek sê nie die volmaan sal jou drome laat waar word nie, maar jy sal baie naby daaraan kom – die res is in jou hande.

BOOGSKUTTER (23 Nov.-22 Des.)

Vandag se sterre bring ’n soort goedkeuring en verhoogde aansien. Mense sal jou nie skouerhoog in die strate dra of baklei om aan die soom van jou klere te raak nie, maar party sal vir jou sê hulle is beïndruk.

STEENBOK (23 Des.-20 Jan.)

Twee of drie dinge kom vandag na vore. Die eerste is kontak met skoonfamilie en dat iemand ’n ander uit die verknorsing help. Die tweede is meer gesprekke oor reis. Baie Steenbokke sal vandag vlugte of seevaarte bespreek.

WATERDRAER (21 Jan.-19 Feb.)

Iets sal eindig en ek praat nie net van die week nie. Dit lyk of dit werk behels en ’n projek waarby jy betrokke is. Ek vermoed jy is net in ’n klein mate betrokke, maar jy sal steeds geraak word.