Sterre met Arthur Bowman

VERJAARDAGVERSLAG:

Jou sterre vir die komende jaar lyk voortreflik. Hierdie sterre gaan groot eerbewyse teweegbring en bowenal groot bedrae geld. Van die geld is wengeld; daarom moet jy gereeld loterykaartjies koop. Jy gaan baie veranderinge aanbring.

BABAS WAT VANDAG GEBORE WORD:

Dié babas gaan ’n goeie verbeelding hê en in die kunste belangstel, veral moderne, ongewone kuns. Hulle gaan ook belangstel in ekonomiese aangeleenthede. Hulle denkwyse gaan ietwat ongewoon wees.

MAAGD (24 Aug.-23 Sep.)

Vandag gaan jy onverwagte uitgawes hê. Dit dreig om die een of twee projekte wat jy aan die gang het, in die wiele te ry, asook dié waarmee jy eersdaags wou begin.

WEEGSKAAL (24 Sep.-23 Okt.)

Iets gaan skielik opvlam. Soms versteur dié sterre skielik jou huweliksgeluk. Vir baie is dit omdat die een nog nie die ander se eienaardighede aanvaar het nie.

SKERPIOEN (24 Okt.-22 Nov.)

Jy gaan ongewone werk moet doen, maar ongelukkig is jy nie voorbereid op die skielike verandering nie; daarom gaan jy ’n ruk lank spartel. Mettertyd sal dit weer rustiger raak.

BOOGSKUTTER (23 Nov.-22 Des.)

Soms dui vandag se sterre op klein bedrae wengeld. Dis onduidelik wat jy kan wen, maar wees verseker, jy gaan nie skatryk word nie. Koop ’n loterykaartjie; dalk wen jy iets. Vandag is ’n goeie dag.

STEENBOK (23 Des.-20 Jan.)

Iets eindig skielik en onverwags. Dit is nie iets groots nie, maar gaan jou roetine versteur en ’n Steenbok wil graag hê alles moet volgens plan verloop. Byt vas.

WATERDRAER (21 Jan.-19 Feb.)

Daar word min of meer van jou verwag om vandag op jou plek te bly, maar iets val voor en jy moet bontstaan. Jy sal vervoer of sake oor die telefoon moet reël en met ’n persoonlike besoek moet opvolg.

VISSE (20 Feb.-20 Mrt.)

Jou geldsake maak jou nogal bekommerd. Ek dink nie jy gaan in die rooi beland nie, maar jou banksaldo lyk ietwat kommerwekkend. Soms beteken hierdie sterre jy kry ’n klein geskenk.

RAM (21 Mrt.-20 Apr.)

Die Ram is selde rebels, maar jy gaan iets hoor of sien wat jou briesend maak. Jy gaan in die voorste linie wil wees om toe te sien dat reg en geregtigheid geskied.

BUL (21 Apr.-20 Mei)

Iets uit jou verlede gaan op ’n baie openbare manier op die lappe kom. Jy kan dit nie vermy nie en sal dit net moet verduur en aangaan met jou dag. Die sedeles is, min mense moet van jou foute weet.

TWEELING (21 Mei.-21 Jun.)

Dis die einde van die week en skielik loop alles skeef. Bly net kalm en gebruik subtiele oortuiging om sake na jou sin te laat verloop. ’n Vriend(in) dra goeie nuus oor.

KREEF (22 Jun.-23 Jul.)

Soms lei vandag se sterre tot ’n soort bevordering. Maar as dit ’n bevordering is, is dit waarskynlik nie als waarop jy gehoop het nie. Dalk moet jy nog nie ’n Rolls-Royce bestel nie.

LEEU (24 Jul.-23 Aug.)

Jy kry nuus uit die verre. Of is dit nuus oor ’n moontlike reis? Jy hoor van iemand wat op ’n verafgeleë plek is of pas daarvandaan teruggekeer het. Dit laat jou voete jeuk en jy kyk na reisbrosjures.