Sterre met Arthur Bowman

VERJAARDAGVERSLAG:

Dis ’n tyd waarin jy groot dink en optree. Die goeie nuus is jou denke sal tot sukses en voorspoed lei. Daar sal een of twee terugslae wees weens situasies buite jou beheer, maar op die ou end sal jy seëvier.

BABAS WAT VANDAG GEBORE WORD:

Hierdie persone sal briljant wees op meer as een gebied en sal waarskynlik gelyktydig twee of selfs meer loopbane volg. Hulle sal gewild wees by hul portuurgroep en maklik hulp kry.

BUL (21 Apr.-20 Mei)

Jy dink oor baie sake na, maar meestal is dit dinge wat met die huis te doen het en wat jy wil afhandel omdat dit eintlik uitgedien is. Moenie dat dit by dink bly nie; tree op.

TWEELING (21 Mei-21 Jun.)

Daar is ’n geheen-en-weer omdat iemand ’n gemors gemaak het en dit lyk of jy die een is wat moet opruim. Daar sal kontak met familielede wees. Waarskynlik gaan dit oor iets uit die verre verlede.

KREEF (22 Jun.-23 Jul.)

Die goeie nuus vandag gaan oor geld en persoonlike besittings. Iemand sal iets van jou kry of dalk vind jy iets en besorg dit terug. Jy verwag nie ’n beloning nie, maar dit sal lekker wees as een aangebied word.

LEEU (24 Jul.-23 Aug.)

Jy begin jou belangstellings uitbrei en terselfdertyd ook die werk wat jy doen. Dis goed. Dis altyd ’n goeie idee om ekstra kundigheid te hê, maar moenie oorhaastig wees nie. Besin eer jy begin.

MAAGD (24 Aug.-23 Sep.)

Dit lyk of iets uit die verlede vandag betrek word by reise wat jy meegemaak het. Dalk ontmoet jy iemand met wie jy oorsee of op ’n ver plek kennisgemaak het. Natuurlik kan jy dalk reëlings tref vir nog ’n langafstandreis.

WEEGSKAAL (24 Sep.-23 Okt.)

Iets wat jy wou hê, gebeur. Dit lyk of dit jou gesamentlike geldsake beïnvloed. Dalk besluit jy eindelik om die sitkamerstel te koop waarvan jy hou of dalk begin jy betaal vir ’n reis wat vir later beplan word.

SKERPIOEN (24 Okt.-22 Nov.)

Vandag sal ’n goeie tyd wees om saam met ’n kollega te werk. Jy kan ook saam met ’n groterige groep werk, maar ’n een-tot-een-reëling sal waarskynlik beter wees. Jy sal in ’n vennootskap jou vaardighede kan wys.

BOOGSKUTTER (23 Nov.-22 Des.)

Werksake sal betrekking hê op mense of omstandighede op ver plekke, meestal in die buiteland. Dalk werk jy saam met iemand wat tans op ’n ver plek is en hulle help jou om ’n gemors uit te sorteer. Of is dit andersom?

STEENBOK (23 Des.-20 Jan.)

Jou gedagtes dwaal na dinge waaraan jy nie gewoonlik dink nie. Daar is twee maniere om hierdie situasie te hanteer. Die eerste is koue storte en rein gedagtes. Die lekkerder manier is om ’n romantiese aand vir twee te reël.

WATERDRAER (21 Jan.-19 Feb.)

Jy ruim tyd in om te dink oor hoe om jou huis te verbeter en in ’n sekere opsig uit te brei. Die sterre dui meestal daarop dat jy jou belangstelling in huissake uitbrei. Dalk begin jy eindelik in die tuin belangstel.

VISSE (20 Feb.-20 Mrt.)

Jy spits jou toe op sake wat met werk en kommunikasie verband hou. Dalk voel jy jy dring nie deur tot ander nie of dalk is dit dat hulle nie tot jou deurdring nie. Hoe dit ook al sy, kommunikasie ly skipbreuk.

RAM (21 Mrt.-20 Apr.)

Die liefde en romanse is hoog op jou prioriteitslys. Ek weet nie of dit beteken jy sal iets daaromtrent doen nie. Die Ram is meer bekend vir optrede as oorpeinsing. As jy wel optree, wees gematig.