Sterre met Arthur Bowman

VERJAARDAGVERSLAG:

Vanjaar is daar ’n herhaling van ’n tyd lank gelede. Vir party is dit so lank as 20 jaar gelede. Dis ’n tyd waarin jy kyk waarheen jy op pad is en besluit om ’n nuwe rigting in te slaan en aan te beweeg.

BABAS WAT VANDAG GEBORE WORD:

Die sonsverduistering vandag, wat net in die noordelike halfrond sigbaar sal wees, veroorsaak dat hierdie babas ’n merkwaardige lewe sal hê. Hulle het die potensiaal om wêreldbekend te raak. Hierdie persone sal ambisieus en talentvol wees. Dis net ’n kwessie van tyd voordat hulle sukses behaal, maar die meeste sukses kom nadat hulle 28 jaar oud geword het.

VIS (20 Feb.-20 Mrt.)

Omdat die sonsverduistering in die noordelike halfrond in jou teken val, is vandag belangrik. Jy kan verwag dinge sal nou begin. Dis dinge wat dalk onbelangrik lyk, maar later sal dit jou lewe verryk. Klein begin, groot gewin.

RAM (21 Mrt.-20 Apr.)

Iets uit die verlede duik weer op, maar hierdie keer is die fokus op jou betrokkenheid en verantwoordelikheid groter. Dis ’n tyd om albei kante toe te kyk – eers agtertoe na die verlede en dan vorentoe na die toekoms.

BUL (21 Apr.-20 Mei)

Met die sonsverduistering wat vandag in die noordelike halfrond sigbaar is, is die fokus op vriende en vriendskappe asook hoop en wense. Vir baie Bulle sal ’n droom skielik waar word. Dis nie ’n groot droom nie, maar het buite bereik gevoel.

TWEELING (21 Mei-21 Jun.)

As jy in die afsienbare toekoms bevorder gaan word, sal dit vandag gebeur of minstens sal vir jou gesê word dit gaan binnekort gebeur. Dis ’n halwe seën, want dit lyk of daar ekstra verantwoordelikheid sal wees.

KREEF (22 Jun.-23 Jul.)

Die posisie van die sonsverduistering vandag in die noordelike halfrond dui op kontak met veraf plekke, veral plekke oorsee. Vir sommige Krewe beteken dit reis, maar vir die meeste is dit net interessante kontak met oorsese mense.

LEEU (24 Jul.-23 Aug.)

Liefde en romanse is ’n prioriteit. Soms sal hierdie sterre intense passie meebring, maar meestal is dit net effens meer as ’n gevoel van saamwees. Aan die ander kant kan die groot kat sy reputasie gestand doen.

MAAGD (24 Aug.-23 Sept.)

Die sonsverduistering vandag, wat nie in Suid-Afrika sigbaar is nie, val in jou hoek vir die huwelik en intieme verhoudings. Met hierdie sterre kan ek nie verstaan hoe mense kan sê Maagde is afsydig nie. Wel, hulle sal dit sekerlik nie ná vandag kan sê nie.

WEEGSKAAL (24 Sept.-23 Okt.)

Vandag is die omstandighede goed vir werk, maar dis die laaste dag van die werkweek en die kans is goed dat jy sal hoor jy moet volgende week ander werk doen en dit waarmee jy besig is, voltooi.

SKERPIOEN (24 Okt.-22 Nov.)

Die sonsverduistering vandag in die noordelike halfrond sal gunstige omstandighede vir liefde en romanse meebring. Hierdie sterre sal sekerlik veroorsaak dat iemand liefde en omgee vir jou sal wys en omdat die sonsverduistering so intens is, kan daar ’n geleentheid vir ’n namiddagkuiertjie wees.

BOOGSKUTTER (23 Nov.-22 Des.)

Met die huidgie sterpatrone is die fokus op huis en haard. Jy sal uitwerk wat jy vir jou huis wil hê en weer daarmee begin. Ek dink dié keer kom jy naby genoeg aan jou ideale plek.

STEENBOK (23 Des.-20 Jan.)

Daar sal kontak met familie of bure wees. Dit lyk of dit met reisprobleme te doen het. Dalk reël jy ’n wegbreek. Miskien is dit ’n samekoms by ’n sentrale oord.

WATERDRAER (21 Jan.-19 Feb.)

Die sonsverduistering in die noordelike halfrond is in jou hoek vir geld en persoonlike besittings en dit dui op verlies of moeilikheid. Dit sal niks ernstigs wees nie, maar jy het nie nou nog iets nodig wat jou hulpbronne tap nie.