Sterre met Arthur Bowman

VERJAARDAGVERSLAG:

Vanjaar moet jy versigtig wees, want jy is geneig om staat te maak op jou geheue, wat jou soms in die steek laat. As ’n uitvloeisel daarvan begaan jy onnodige foute wat deur die jaar en daarna weerklink. Jy moet dalk iets belangriks prysgee.

BABAS WAT VANDAG GEBORE WORD:

Hierdie persoon het ’n goeie geheue en redenasievermoë. Hulle het orde en ’n werkwyse in hul lewe nodig. Hulle is prakties, leergierig en lief vir die wetenskap. Hulle sal dus goeie wetenskaponderwysers of dalk -navorsers wees.

VISSE (20 Feb.-20 Mrt.)

Vandag is daar nuus van werkveranderinge. Dit lyk of daar oponthoude hier is, maar jy is teen dié tyd min of meer gewoond daaraan; dus sal jy dalk nie eens agterkom wanneer dit gebeur nie. Maak jou gereed daarvoor dat dinge stadig gaan gebeur.

RAM (21 Mrt.-20 Apr.)

Jy kry nuus van iemand wat ver is. Gewoonlik bring hierdie sterre goeie nuus van ’n vriend. Jy sal bly wees om van dié persoon te hoor. Dis ’n dag waarop goeie dinge gebeur, maar dit gebeur stadig.

BUL (21 Apr.-20 Mei)

Vandag is daar goeie omstandighede vir samewerking, veral met mense van wie jy hou. Daar kan dalk onaangenaamheid wees omdat iemand voel hulle word geïgnoreer of nie gewaardeer nie. Die kosmiese boodskap is: Neem mense se gevoelens in ag.

TWEELING (21 Mei-21 Jun.)

Daar is goeie sterre vir die huwelik, vennootskappe en intieme verhoudings. Ek sien niks aardskuddends nie, maar daar sal ’n spesiale gevoel van nabyheid wees wat jy nie gewoonlik het nie. Die omstandighede lyk goed om oorsee te reis.

KREEF (22 Jun.-23 Jul.)

Die werkhoek is vandag geaktiveer, maar omdat dit deur Saturnus geaktiveer is, kan jy ’n rowwe dag verwag, selfs al is dit Vrydag. Dis dalk ’n goeie idee om vroeg te begin, en ’n selfs beter idee om hulp te kry.

LEEU (24 Jul.-23 Aug.)

Dis ’n goeie tyd vir die liefde en romanse, maar blykbaar is daar ’n irritasie hier omdat dinge net nie wil uitwerk soos beplan nie. Dis dalk ’n goeie idee om ’n paar keer deur jou planne te gaan voor jy begin.

MAAGD (24 Aug.-23 Sept.)

Iets by die werk eindig. Dit kan beteken ’n projek waaraan jy werk, sal eindelik eindig of dit kan beteken jy beweeg volgende week na ’n ander afdeling en kry vandag nuus oor dié skuif.

WEEGSKAAL (24 Sept.-23 Okt.)

Die gewone interpretasie vir jou sterre is “liefde van ver af”. Vir party beteken dit die spesiale persoon in jou lewe bel en laat weet jou hulle gee om of dalk kry jy ’n brief met drukkies en soentjies. Dis ’n lekker brief om te kry.

SKERPIOEN (24 Okt.-22 Nov.)

Iets eindig eindelik en jou geldsake lyk beter. Dit kan baie dinge beteken, maar dikwels beteken dit jy betaal eindelik die kredietkaarte af sodat jy uit die skuld of gevaar kan kom. Dit kan dalk ook beteken jy word betaal vir werk wat gedoen is.

BOOGSKUTTER (23 Nov.-22 Des.)

Dis Vrydag, en wie kan jou verkwalik dat jy nie so geesdriftig is oor werk en alles wat daarmee gepaardgaan nie? Ongelukkig is daar mense wat op jou staatmaak en as jy nou jou selfbeheersing verloor, sal hul bewondering vir jou verdwyn.

STEENBOK (23 Des.-20 Jan.)

Dit lyk of klein verantwoordelikhede jou beursie raak. Vreemd genoeg hou dié verantwoordelikhede glad nie verband met die hede nie. Loop lig.

WATERDRAER (21 Jan.-19 Feb.)

Jy dink ernstig na oor mense wat voorgee hulle is jou vriende of hulle is “aan jou kant”. Gebruik die ou stelsel: Behandel almal as skurke tot jy vasstel hulle is eerlik en gee om.