Sterre met Arthur Bowman

VERJAARDAGVERSLAG:

Vanjaar lê opwindende tye vir jou voor. Jy bereik van jou spesiale doelwitte. Niks word op ’n skinkbord vir jou aangebied nie, maar jy sal geleenthede wat opduik benut en vorentoe kyk om sukses te behaal.

BABAS WAT VANDAG GEBORE WORD:

Hierdie persone is ’n dromer wat groot droom en dan daardie drome verwesenlik. Hulle is geneig om ietwat eksentriek te wees, maar op ’n aangename manier. Hulle stel in wetenskap en elektronika belang.

TWEELING (21 Mei-21 Jun.)

Jy het goeie sterre vir samesyn met vriende en kollegas. Dis jammer dis ’n werkdag, want daar kon ’n paar onvergeetlike oomblikke gewees het as jy vry was om te kom en gaan soos jy wil. ’n Klein wens word bewaarheid.

KREEF (22 Jun.-23 Jul.)

Daar sal veranderinge bo jou wees. Dis onduidelik hoe dit jou sal raak, maar jy is betrokke en sal bekommerd wees. Die goeie nuus is dis regtig nie nodig om besorgd te wees nie.

LEEU (24 Jul.-23 Aug.)

Daar is nuus van ver. Dis goeie nuus, maar nogal ’n verrassing. Gewoonlik bring die sterre wat jy het nuus oor ’n geboorte, verlowing of selfs ’n troue mee. Daar is ook goeie sterre om op klein skaal te wen.

MAAGD (24 Aug.-23 Sep.)

Jy kry onverwags ’n rekening. Dis ’n rekening wat jy om verskeie redes nie wil hê nie. Die eerste rede is dit is groot en die tweede is die geld gaan vir iets wat nie juis van veel nut vir jou en jou huishouding is nie.

WEEGSKAAL (24 Sep.-23 Okt.)

Daar is goeie sterre vir alle soorte vennootskappe. In werksvennootskape kan julle saam ’n sekere doelwit bereik wat jy gedink het buite jou bereik is. Daar is ook baie goeie sterre vir intieme verhoudings.

SKERPIOEN (24 Okt.-22 Nov.)

Daar is skielike werkveranderinge. Dit lyk of dit veroorsaak word omdat iemand siek is. Dis nie duidelik wie siek is nie, maar dit lyk nie of dit jy is nie en jy kan dus bly wees. Jy het swak sterre vir troeteldiere.

BOOGSKUTTER (23 Nov.-22 Des.)

Jy het goeie sterre. Soms bring die sterre mee dat jy op klein skaal wen. As jy ’n loterykaartjie koop, maak seker dis net een. Daar is goeie sterre vir romanse.

STEENBOK (23 Des.-20 Jan.)

Iets eindig skielik en onverwags. Dit lyk nie asof dit sleg is nie, maar die meeste mense hou nie daarvan dat dinge so skielik gebeur nie, veral nie mense wat onder die Steenbokteken gebore is nie. Moenie daaroor bekommerd wees nie.

WATERDRAER (21 Jan.-19 Feb.)

Daar sal heelwat aktiwiteit wees. Dit beteken hoofsaaklik dat jy van plek tot plek gaan om take af te handel of te reël dat iemand iets vir jou doen. Jou kop is ook baie besig om sake uit te pluis.

VIS (20 Feb.-20 Mrt.)

Hou jou geldsake dop. Jy sal in die versoeking wees om baie geld op ’n onwyse manier te bestee en natuurlik sal jy die gevolge moet dra. As jy besluit om in elk geval iets te koop en dit is tegnies van aard, kry al die beskikbare inligting.

RAM (21 Mrt.-20 Apr.)

Elke dan en wan word die Ram rebels of minstens begin jy sê hoe jy voel oor iets wat jy as onregverdig beskou. Jy kan skree en te kere gaan soos jy wil, Ram, maar sake verander net wanneer jy dit met waardigheid benader.

BUL (21 Apr.-20 Mei)

Iets word uit die verlede opgerakel en teen jou gebruik. Teen dié tyd behoort jy al daaraan gewoond te wees. Die enigste manier om mense te hanteer wat dié soort ding doen, is om hulle die rug te keer en voor te gee jy hoor nie hoe hulle te kere gaan nie.