Sterre met Arthur Bowman

VERJAARDAGVERSLAG:

Jou lewe sal vanjaar deels in ’n heel nuwe koers beweeg. Dié rigting¬¬¬ is deur die noodlot bepaal toe jy gebore is. Jy gooi uitgediende, nuttelose items weg. Daar is ’n paar gelukslae.

BABAS WAT VANDAG GEBORE WORD:

Hierdie persone is opreg, energiek en ambisieus. Hulle sal naam maak. Hulle is aanpasbaar en beskou mislukkings as deel van die pad na sukses. Hulle is geseën met ’n goeie gestel en sal min las van kindersiektes hê.

VISSE (20 Feb.-20 Mrt.)

Daar sal onverwagte verwarring met of weens reise wees. Vir party is dit ’n oorsese reis of van een provinsie na ’n ander. Die meeste probeer net om sonder ’n gesukkel betyds by die werk te kom omdat daar onvoorsiene omstandighede is.

RAM (21 Mrt.-20 Apr.)

Jou geldsake lyk effens beter en dalk is dit omdat iemand wat jy ken jou help. Dis moontlik ’n vennoot of maat. Die vreemde ding is jy moet geld betaal om geld terug te kry. Wees versigtig. Maak seker of alles eg is.

BUL (21 Apr.-20 Mei)

Jy sal alleen wil werk, maar met vandag se omstandighede sal dit beter wees as jy iemand het wat jou steun. Dit gaan nie oor bevoegdheid nie. Jy het nie oë agter in jou kop nie.

TWEELING (21 Mei-21 Jun.)

Party Tweelinge sal probleme met of weens troeteldiere ondervind. Dalk hap jou hond na die posman of jy vind uit jou mannetjieskat is eintlik ’n wyfie en nou is daar ’n werpsel op jou werf. Dis nie groot probleme nie; net ergernisse.

KREEF (22 Jun.-23 Jul.)

Daar is ’n aangename verrassing en dit het moontlik op ’n manier met geldsake te doen. ¬¬Die verrassing sal jou nie ryk maak nie, maar dit sal jou gerusstel. Jy het ook goeie sterre vir romantiese oomblikke.

LEEU (24 Jul.-23 Aug.)

Party mense leef en leer, ander leef net. Die kategorie waarin jy val, sal blyk uit jou reaksie op vandag se gebeure. Jy reageer op iets wat voorheen gebeur en jou toe geïrriteer het.

MAAGD (24 Aug.-23 Sept.)

Jy voel aanvanklik ’n bietjie terneergedruk, maar wanneer jy besig raak met werk wat vir jou maklik is, voel jy beter en raak jy weer iemand om mee rekening te hou. Daar sal onverwagte uitgawes wees.

WEEGSKAAL (24 Sept.-23 Okt.)

Jou geldsake verbeter, maar net effens. Dit kan wees omdat jy geld wen, maar ek het dit nog nie gesien gebeur nie. Die verbetering is meestal weens goeie kopies of geld wat terugbetaal word omdat sekere items foutief is.

SKERPIOEN (24 Okt.-22 Nov.)

Vandag is daar ’n begin. Wat dit is, hang baie af van jou persoonlike horoskoop, maar gewoonlik bring hierdie sterre iets mee wat bedoel is om ’n lang tyd te hou, iets wat hard vir jou sal werk.

BOOGSKUTTER (23 Nov.-22 Des.)

Probeer vandag op die agtergrond werk. Dit beteken nie daar sal enige onaangenaamheid wees nie, maar as jy op die agtergrond is, sal daar minder dinge wees wat jou aandag aflei en jy sal jou werk beter kan doen.

STEENBOK (23 Des.-20 Jan.)

Wees versigtig met wat jy vir ander sê. Moenie eens mense wat jy ken en vertrou, in jou vertroue neem nie. Met jou huidige sterre kan iemand wat jy vertrou jou lewe blootlê en niemand verwelkom daardie soort publisiteit nie. Andersins is dit ’n goeie dag.

WATERDRAER (21 Jan.-19 Feb.)

Jy het baie om te doen, maar sal so dikwels onderbreek word dat jy aan die einde van die dag nagelaat het om baie van die takies af te handel wat jy op jou agenda gehad het. Vir party hou dit ’n laat nag in en vir ander ’n vroeë oggend môre.