Sterre met Arthur Bowman

VERJAARDAGVERSLAG:

Die sterre gaan vanjaar taamlik unieke situasies vir jou teweegbring. Dit gaan jou lank oor sommige van jou idees en ideale laat nadink. Jy gaan geneig wees om plekke te besoek en dinge te doen. Dit gaan ’n opwindende jaar wees.

BABAS WAT VANDAG GEBORE WORD:

Hierdie een gaan simpatiek, stil, beskeie en opreg wees. Dis iemand wat jy nodig het wanneer dit sleg gaan. Hulle gaan suksesvol in hofmakery en die huwelik wees met ’n groot, gelukkige gesin.

LEEU (24 Jul.-23 Aug.)

Vandag sit jy tussen twee vure. Dit is niks nuuts vir jou nie, maar hierdie keer gaan jy dalk nie ongedeerd daarvan afkom nie. Jy gaan die een of ander kenner moet raadpleeg.

MAAGD (24 Aug.-23 Sep.)

Jy sien kans om ’n droom waar te maak en omdat jy ’n praktiese mens is, gryp jy dié geleentheid aan. Ongelukkig is daar onvoorsiene struikelblokke: Een daarvan is koste, wat aansienlik groot is.

WEEGSKAAL (24 Sep.-23 Okt.)

Jou kommernis oor geld verbaas jou nie, maar jy hoop jou maat kan met ’n paar leidrade vorendag kom. Luister na ander se raad, al dink jy dalk hulle praat deur hul nek.

SKERPIOEN (24 Okt.-22 Nov.)

Jy wil stadig en versigtig vorentoe beur, maar die mense om jou wil hê jy moet jou haas. Enersyds weet jy agteros kom ook in die kraal, maar andersyds wil jy nie soos ’n suurpruim lyk nie.

BOOGSKUTTER (23 Nov.-22 Des.)

Gebeure van lank gelede duik op. Nou is dit nie mense wat jou na ’n gek wil laat lyk of voel nie. ’n Ou patroon herhaal hom dié keer vanself. Dis nou tyd om die bul by die horings te pak.

STEENBOK (23 Des.-20 Jan.)

Jou sterre is vreemd. Eerstens dui dit aan jy kry iets wat jy al lank wil hê en tweedens gaan dit met vertragings gepaard. Dit maak sin as die vertragings reeds gebeur het. Kom ons hoop dis die geval.

WATERDRAER (21 Jan.-19 Feb.)

Jy moet meer verantwoordelikheid aanvaar. Dit lyk nie asof jy hiervoor beloon gaan word nie, maar jy doen dit in elk geval; dit is in die Waterdraer se aard. Vanmiddag lyk rampspoedig.

VISSE (20 Feb.-20 Mrt.)

Soms help dit om dromerig te wees; vandag is so ’n dag. Jy besef weldra jy is vir die gek gehou. Moenie dat dit jou ontstel nie; dit gebeur elke dag met mense.

RAM (21 Mrt.-20 Apr.)

Jy is oorgehaal vir romantiese aksie, maar daar gebeur nie veel nie. Dis omdat die tydsberekening nie reg is nie, en as enigeen weet van tydsberekening, is dit die Ram. Dink dus na oor wat die regte tyd sal wees.

BUL (21 Apr.-20 Mei)

Jy gaan ervaar hoe iets tot ’n einde kom en jy verwelkom dit. Dit is nie net die einde van die werkweek nie, maar van iets wat met jou werk verband hou, soos ’n projek waarmee jy besig is.

TWEELING (21 Mei.-21 Jun.)

Jy kort ’n bietjie ekstra geld, nes almal. Maar vandag vang iets jou oog wat mooi pleks van nuttig is, en jy wonder of jy ’n goeie prys daarvoor sal kry. Hoekom adverteer jy dit nie?

KREEF (22 Jun.-23 Jul.)

Dis ’n goeie dag om werk te maak van jou voorkoms, soos om jou hare te laat stileer of nuwe klere te koop. Daar is ander dinge wat jy kan doen, maar dit hou risiko’s in en jy en risiko’s is nie maats nie.