In ’n nuwe studie deur ’n span aan die Universiteit van Toronto in Kanada is bevind mense kan uitpluis of iemand ryker of armer is deur bloot na hul uitdrukkinglose gesig te kyk.

Volgens die studie wat in die Journal of Personality and Social Psychology gepubliseer is, is neutrale gesigsuitdrukkings ’n betroubare aanduiding van ’n persoon se ekonomiese status en kan dit selfs sosiale interaksies asook sukses in die werkplek beïnvloed.

Volgens die bevindings word gereelde emosies, soos geluk wat gewoonlik met rykdom en tevredenheid verbind word, mettertyd op ’n persoon se gesig afgeëts. Boonop kan dit so vroeg as die laat tienerjare en vroeë volwasse jare gebeur.

“Jou gesig weerspieël mettertyd jou ervarings,” sê Nicholas Rule, medeprofessor aan die universiteit se fakulteit geesteswetenskappe. “Selfs as ons dink ons het geen uitdrukking, is daar tekens van daardie emosies.”

Navorsers het studente-vrywilligers verdeel in diegene wie se gesin se totale inkomste onder R800 000 of meer as R1,3 miljoen is, en hulle met uitdrukkinglose gesig vir foto’s laat poseer. 

Die span het daarna ’n aparte groep gevra om die foto’s te bekyk en net op instink te besluit wie ryk of arm is. Die deelnemers kon met sowat 53 persent akkuraatheid vasstel watter studente tot die ryk of arm groep behoort – die syfer is hoër as met lukrake keuses, sê navorsers. 

“Ons het gesien dat studente tussen 18 en 22 jaar reeds genoeg lewenservaring opgedoen het wat hul gesig merkbaar verander het tot op die punt waar jy hul sosiaal-ekonomiese of maatskaplike status kon aflei,” sê prof. Rule.

“Daar is neurone in die brein wat spesialiseer in gesigherkenning. Die gesig is die eerste ding wat jy sien wanneer jy na iemand kyk. Ons is so bedraad om uit te kyk vir enige stimuli.

En dit is iets wat mense baie vinnig raaksien,” sê hy en voeg by dat hierdie spesifieke breinfunksie die bevindings op statistieke vlak so betekenisvol maak.

Die grootste kommer met die studie is dat indien ons sulke akkurate afleidings kan maak deur bloot na ’n gesig te kyk, kan ons daardie indrukke ook op bevooroordeelde maniere gebruik.

Werwers kan dalk iemand met ’n “ryk voorkoms” eerder as ’n “arm voorkoms” aanstel, sê Rule. “Mense praat van die kringloop van armoede en dit kan moontlik daartoe bydra.”

Thora Bjornsdottir, ’n doktorsgraadkandidaat in die fakulteit, waarsku egter daarteen om diegene wat so ’n besluit neem, daarvoor te verkwalik. 

“Mense is nie eintlik bewus van watter leidrade hulle gebruik wanneer hulle so ’n oordeel vel nie. Vra jy hulle hoekom, weet hulle nie. Hulle is nie bewus van hoe hulle dit doen nie.”

Volgens Rule kry die studie van sosiale status as tema in sielkunde en gedrag ál meer erkenning. Die gesig het 43 spiere, wat in ’n klein gebied gekonsentreer is – iets wat gesigsuitdrukkings een van die interessantste onderwerpe in dié veld maak.

Die navorsingspan sê studies met ouer vrywilligers kan onthul of hierdie patrone met die jare oorgedra of selfs duideliker word met die ouderdom.


Bronne: dailymail.co.uk, wcpo.com,utoronto.ca, sciencedaily.com