Met sy oortjies penorent en sy snoet snuiwend teen die grond lei die bruin hondjie sy dierevriende deur die lang gras. Ma Jess, Pezulu, die hoenderhaan, en Polly, die deftige Franse poedel, trippel opgewonde agterna.

Ja, dis Suid-Afrika se beroemdste staffie en hy is terug op die silwerdoek. En raai wat? Dié keer sien ons Jock of the Bushveld se avonture in 3D animasie – in die eerste volwaardige 3D fliek wat in Suid-Afrika gemaak is.

Dié eerstelingbaba in die plaaslike rolprentbedryf is die geesteskind van Duncan MacNeillie, wat 24 jaar gelede die draaiboek vir die eerste supergewilde Jock-fliek geskryf het.

Wanneer al die lekkerkyk-kinderflieks in Desember in ons teaters begin draai, sal ons eie Jock trots sy plek onder hulle inneem – met ’n klankbaan deur niemand minder nie as die legendariese sir Tim Rice van Lion King-faam en die bekende wit Zoeloe Johnny Clegg wat nes in die 1986-fliek sing.

Hy het nog altyd gedink Jock sal wonderlik werk as ’n animasiefliek, vertel Duncan in sy ateljee in Johannesburg, maar hy het net nog nooit iets daaraan gedoen nie. Toe, drie jaar gelede, besluit hy dis nou die tyd.

Maar net toe al die pynlik presiese werk wat ’n animasiefliek vereis, byna klaar is, kom spoel die 3D golf soos ’n tsoenami deur die rolprentbedryf en klits al sy planne deurmekaar. Ook Duncan was meegevoer, en hy het besluit sy nuwe Jock sal ook ’n 3D fliek word. Toe moet elke toneel van voor af oorgeskiet word.

Die nuwe Jock of the Bushveld sal ’n meer eietydse weergawe van die oorspronklike verhaal wees, en dié keer is Jock se vriende hoofsaaklik diere, vertel Duncan.

Jock was natuurlik ’n regte hond en het reeds in 1907 bekend geword toe sy baas, sir Percy FitzPatrick, ’n boek oor sy avonture saam met dié staffie geskryf het. En soos in die boek en die eerste fliek, speel die nuwe fliek ook in die 1880’s af.

Afrika se natuurskoon, sy minerale rykdom en sy eksotiese wilde diere lok ontdekkers, avontuurlustiges en delwers van oor die wêreld na die mooi vasteland.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 29 April 2010