CuckoosCallingCover

The Cuckoo’s Calling deur Robert Galbraith

’n Supermodelwat skynbaar na haar dood spring, ’n sukkelende speurder wat die saak moet ondersoek, en ’n sidekick met ’n kop op haar skouers. JK Rowling (oeps, daar verklap ons wie die skrywer is . . .) het weer ’n wenner beet!

EK HET verlede naweek gevoel soos een wat ’n kosbare skat in ’n tweedehandswinkel raakgesnuffel het toe ek hoor JK Rowling, die skrywer van die Harry Potter-reeks, het ’n misdaadverhaal onder die skuilnaam Robert Galbraith uitgegee. Danksy my getroue Kindle (tereg bekend as ’n PlayStation vir nerds), kon ek The Cuckoo’s Calling daardie selfde aand begin lees. (As jy nié ’n e-leser het nie, sal jy nog ’n rukkie moet wag – die papierboek is nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie.) Maar kom nou, glo enigiemand régtig die skrywer se identiteit is per ongeluk laat uitlek?!? Oeps, nog ’n miljoen vir die uitgewer . . .

Die boek is egter heeltemal die bohaai werd.

Wanneer ’n supermodel op ’n koue winternag van haar balkon aftuimel, kom almal vinnig tot die gevolgtrekking dat dit selfdood was. Haar aangenome broer, wat openlik gekant was teen haar verhouding met ’n ongure kêrel, weier egter om dit te glo, en klop aan by die privaat speurder Cormoran Strike. Strike is met die eerste oogopslag nie die beste kandidaat om die saak te ondersoek nie. Hy lyk soos iemand wat uit sy wasgoedmandjie aangetrek het (want hy het), sy onbetaalde rekeninge lê opgestapel, hy word met die dood gedreig, en hy slaap op ’n kampbed in sy karig gemeubileerde kantoor omdat sy meisie hom uitgeskop het. Maar hy het een ding wat in sy guns tel . . . sy sidekick, Robin. (Dink aan Batman en Robin.) Robin is op die oog af ’n vloskoppie wat pas verloof geraak het en heeldag met haar neus in troutydskrifte wil sit, maar dit was haar kleindogtertjiedroom om by ’n speuragentskap te werk en sy bewys vinnig genoeg aan Strike dat sy meer as net ’n aflos-tikster kan wees.

Moenie ’n spanningsverhaal (thriller) in die styl van ’n Robert Ludlum of Dan Brown verwag nie. Hier is geen gehardloop in die strate terwyl die koeëls spat nie. Strike het ’n gestremdheid, hy gaan sukkel om te hardloop. Verwag eerder ’n boek met ’n intrige wat baie slim uitgewerk is, en detail wat van baie fyn waarneming getuig – soos ’n mens van ’n skrywer van Rowling se kaliber verwag.

Nadat haar identiteit aan die lig gekom het, het die resensente hulleself natuurlik geskop dat hulle dit nie vroeër uitgepluis het nie, en sit in besonderhede uiteen watter “leidrade” daar alles is dat dit eerstens deur ’n vrou geskryf is, en tweedens deur JK Rowling. Gaan lees dit by http://www.guardian.co.uk/books/2013/jul/18/cuckoos-calling-robert-galbraith-jk-rowling-review.

Die groot vraag is of dit die begin van ’n nuwe boekreeks is. Sommige resensente is skepties en redeneer as die hoofkarakters polisiespeurders was, sou dit die deur oopgemaak het vir meer en interessanter sake. ’n Gestremde, bankrot privaat speurder se moontlikhede is glo beperk. Maar as Lee Child soveel interessante moordsake vir Jack Reacher, ’n voortvlugtige militêre polisieman, kon vind, glo ek JK Rowling sal géén probleem ondervind nie. Ek hoop tog daar is nog boeke op pad, want in Cormoran en Robin het die boekewêreld nog twee interessante karakters ryker geword.

Lees ander blogs deur ons boekvraat:

Nuwe boeke vir buksies

Oe-la-la . . . vuurwarm leesstof vir koue aande

Leer by die beste. Leer by Jack Reacher

Wat is ’n huis sonder ’n hond?

Op reis deur Florence saam met Inferno

Bloggers en Facebookers sal van dié spanningsverhaal hou