. . . wat ’n probleem met zombies het? Hulle is heel bo aan my lysie van “wesens in ’n post-apokaliptiese toekoms wat ek die meeste vrees”. Gee liewer vir my vampiere en dogtertjies met lang donker hare wat uit die TV-stel klim om jou bang te maak.

Ongelukkig is manlief dol oor zombie-flieks en die TV-reeks The Walking Dead is ’n groot gunsteling. Ek sit daar: doodbang, maar vasgenael. Ja, ek hoef dit seker nie te kyk nie, maar ek sê mos: vasgenael. Ek vrees namens die polisieman Rick Grimes (vertolk deur die Britse akteur Andrew Lincoln) en sy groep oorlewendes terwyl hulle probeer oorleef in ’n wêreld wat deur zombies oorgeneem is. Dis veral moeilik omdat ek heeltyd aan Rick dink as die ou wat so oulik was in die fliek Love Actually waar hy sy liefde aan Keira Knightley met flitskaarte verklaar het. En nou is hy hier vasgekeer in ’n aaklige wêreld, boonop sonder Keira.

Ek moet erken, die reeks is ongelooflik, en die kritici het dit ook geloof. Ek weet ook dit gaan oor meer as die zombies; die oorlewendes se verhoudings is fassinerend en het soveel diepte. Maar dan moet daar ’n bloederige, halfdooie wese op die toneel verskyn en alles bederf. Die probleem met die zombies is dat jy maar net nie teen die skepsels kan wen nie. En hulle het geen goeie eienskappe nie. Hulle skuifel voort, voel geen pyn en wil jou eet. En vir elkeen wat uitgewis word, is daar nog duisende wat wag.

Die mens se stryd om oorlewing beteken daar is min om hulle te troos, hulle vrees vir hul lewe en kan mekaar skaars vertrou. En dan kan hulle boonop nie eens stort nie; hulle is sweterig, vuil en ruik waarskynlik niks lekker nie.

Nee wat, as dit kom by ’n post-apokaliptiese toekoms, verkies ek die wêreld in die reeks Revolution. Ja, daar is nie elektrisiteit nie, die selfaangestelde genl. Sebastian Monroe is effe magsbehep en jou lewe is niks werd, maar hulle het ’n plan gemaak om op die een of ander manier skoon en gesond te bly, en hulle is bedagsaam, selfs voor hulle jou wegblaas. Nes die ouens in The Walking Dead, kry die mense in Revolution ook kans om swaarde rond te swaai en wapens tydens gevegte in te span, maar hulle laat jou tone krul van die opwinding krul omdat dit soveel pret is. En Billy Burke, wat die rol van Miles Matheson vertolk, is een van die amper-helde van Revolution. O ja, hy was ook die sexy pappa in Twilight. En hy is skoon . . . wel, min of meer.

Die eerste seisoen van The Walking Dead wys Vrydae om 21:45 op Fox (kanaal 125).

Die eerste seisoen van Revolution speel Donderdae om 20:30 op M-Net Series (kanaal 114).

- Natalie

[caption id="attachment_30342" align="alignnone" width="612"]Billy Burke wat die rol van Miles Matheson in Revolution vertolk Billy Burke wat die rol van Miles Matheson in Revolution vertolk[/caption]