DIT is belangrik dat jy dié politieke spanningsroman lees. Nie omdat dit ’n briljante boek is nie, maar omdat dit moontlik is dat boeke soos dié in die toekoms onder hewige sensuur gaan deurloop as die omstrede Wet op die Beskerming van Inligting deurgevoer word.

Want hoewel die karakters in die boek fiktief is, kan jy vir geen oomblik twyfel dat dit op ware gebeure gebaseer is nie.

Boonop was die skrywer jare lank ’n diplomaat en hy’s goed vertroud met die binnewerkings van die politieke landskap wat hy so genadeloos oopvlek.

Die grootste deel van die verhaal ontvou in diplomatieke kringe oorsee, maar die intrige is so Suid-Afrikaans as kan kom.

Die hoofkarakter, Johan Castelyn, is ’n diplomatieke “spook” wat na Parys gestuur word om daar ’n ogie te hou op die nuwe ambassadeur, Nerina Cloete, ’n vuurvreter-opposisieleier.

Haar aanstelling is deel van ’n strategiese politieke skaakspel blyk dit gou, want met haar onthullings oor ’n wapenskandaal het sy die wêreld warm begin maak vir korrupte politici in Suid-Afrika.

Dit is prikkelende, onthutsende leesstof, maar daar is aspekte wat tog hinder soos dat die karakters nie genoeg vleis het en die spanning nie van die naelbyt-soort is nie.

Quintus is ’n belowende skrywer en dis in landsbelang dat ’n boek wat so na aan die been van politieke magsvergrype sny, gelees word.