MySchool Dream School

Om tyd op die stel van Dream School deur te bring was ’n ongelooflike ervaring vir my as ’n jong joernalis. Ek het nie net die uitmuntende onderwysers ontmoet nie (elk top in hul velde landwyd en in die buiteland), maar ek het ook die kans gehad om tyd deur te bring saam met 15 werklik interessante, uiteenlopende tieners.

Ek het die meeste van hulle redelik goed leer ken, maar daar was ’n handjie vol met wie ek nooit genoeg tyd kon deurbring nie. Ongelukkig was Tshepo een van hulle. Aan die begin het dié 19-jarige, wat nog gr.10 moet voltooi, die indruk geskep dat hy nie regtig baie belangstel daarin om deel te wees van Dream School nie. Wanneer hy wakker was in die klas – wat minder is as wat jy dalk sal dink – het dit in elk geval nie regtig gelyk of hy “aanwesig” was nie.

Maar terwyl ek gister se episode kyk, moes ek my aannames heroorweeg.

Dit was sy gesigsuitdrukking van ongebreidelde vreugde toe hy dans. Dit was ongelooflik. Kon dié talentvolle, blinkoog tiener werklik dieselfde een wees as die afgetrokke, apatiese Tshepo wat ek in die akademiese klasse gesien het?  Dis toe dat die aanbieder Anele se stem in my kop weerklink: “As jy ’n goudvis gaan beoordeel op sy vermoë om ’n boom te klim . . .”

Volgens my troue vennoot Google was dit Albert Einstein wat dit eerste gesê het: “Almal is geniaal. Maar as jy ’n vis oordeel aan sy vermoë om boom te klim, gaan hy sy hele lewe glo hy is dom.”

Toe Anele die Duitse fisikus in die eerste episode aanhaal, het sy bygevoeg: “Maar as jy hom beoordeel op hoe hy swem, gaan hy uitmuntend wees. So ek dink ons moet uitvind wat elkeen se ‘swem’ is.”

En dit was duidelik: Die dansklas was Tshepo se “swem”. Terwyl die ander Dream School-kinders aan die vlak kant rondgeswem het – en sommige nie eers hul tone in die water wou sit nie – het Tshepo aan die diep kant ingeduik.

Terwyl ek nou pret het met Anele se metafoor, herinner dit my ook aan verlede week se aflewering. In die sielkundige Esta Hattingh se pottebak-klas het Tshepo ’n renoster gemaak om hom voor te stel (gaan kyk na my vorige blog om die betekenis hiervan beter te verstaan). “Maar as jy dit nou kon verander en sê: ‘Oukei, ek wil eerder iets anders wees?’” het Esta gevra. “Ek sal mal daaroor wees om ’n dolfyn te wees,” het Tshepo eindelik gesê en geglimlag.

En in daardie dansklas wás hy ’n dolfyn.

-         Kirstin Buick

Die Huisgenoot-skrywer Kirstin Buick was op die stel van Dream School en kon op ’n afstand kyk na alles wat aangaan. Bly op die hoogte met haar weeklikse blog vir eksklusiewe agter-die-skerms-inligting.

Kyk vanaf 13 October elke Sondag om 17:00 na MySchool Dream School op M-Net, M-Net HD, Mzanzi Magic and M-Net Series.

MySchool Dream School – Ontmoet die leerders