Die Afrikaanse komedie, Hoofmeisie, is Donderdagaand bekendgestel en daar was omtrent ‘n klomp celebs wat dié oulike fliek ondersteun het.

Teken in op Huisgenoot

Van Ivan en Ciske Botha tot Jana Strydom en Amalia Uys was daar om te sien hoe vuil die stryd om hoofmeisie te word, werklik kan wees.

Ons hoop nie Ivan en Ciske het wenke neergeskryf vir wanneer hulle dogterjie, Amelié, bietjie groter is nie. Die skrywer van die fliek, Samuel Ferreira, vertel hy was skoon moedeloos gewees en wou tou opgooi voor sy pa hom aangemoedig het om ‘n fliek te skryf.

Die uiteinde is dié prettige gesinsvermaak wat die lagspiere behoorlik gaan kielie. Nie net spog die fliek met veterane soos Lida Botha, Marie Pentz en Christel van den Bergh nie, die nuwe talent het hulle ook bitter goed van hulle taak gekwyt.

Mish'a el de Beer, Annemicke Kotze, Melissa Massyn en Ruan Wessels het natuurlik ook skouers geskuur met hul glansryke mede-kollegas.

Die jong dames het pragtig gelyk, en Ruan se ouers sal self maar ‘n dubbel-loop haelgeweer moet aanskaf ná Hoofmeisie op 23 Desember in die teaters begin draai.

Izak Davel wys sy sexy lyf in die fliek en sorg vir heelwat komiese verligting. Hoofmeisie is beslis gesinsvermaak uit die boonste rakke en het groot en klein in die gehoor se lagspiere geprikkel.