[caption id="attachment_58060" align="alignnone" width="600"]Die hoofkarakters van Sleepy Hollow (van links): Katrina (Katia Winter), Ichabod (Tom Mison), Abbie (Nicole Beharie) en kapt. Frank Irving (Orlando Jones). Die hoofkarakters van Sleepy Hollow (van links): Katrina (Katia Winter), Ichabod (Tom Mison), Abbie (Nicole Beharie) en kapt. Frank Irving (Orlando Jones).[/caption]

DIE nuwe reeks Sleepy Hollow is waansinnige pret van begin tot einde, met hekse, koplose perderuiters, dooie lewendige mense, eienaardige skepsels, vloeke en towerspreuke – en dit alles in een klein dorpie. Ek is so bly dis nie net nóg ’n opwarming van die klassieke kortverhaal The Legend of Sleepy Hollow nie.

Dit was slim van die vervaardigers om die koplose perderuiter een van die vier oordeelsdag-ruiters te maak – dit sorg vir ’n heerlike ekstra aardigheid wat ’n mens met die einde van die wêreld verbind (moenie bekommerd wees as jy ’n Supernatural-aanhanger is nie – hulle doen iets heeltemal anders en dit voel glad nie soos ’n na-apery van seisoen vyf se storielyn nie).

Nog ’n rede waarom die reeks werk en vir ’n tweede seisoen hernu is, is die heerlike vonk tussen die twee hoofkarakters: Ichabod Crane, wat wakker word in die Sleepy Hollow van vandag nadat hy omtrent 200 jaar tevore dood is, en speurder Abbie Mills, die straatwys polisievrou met ’n bonatuurlike geskiedenis wat besef hulle sal moet saamwerk om al die bisarre onaardshede wat die dorp getref het, stop te sit.

sleepy hollow 2

Daar is ook snaakse oomblikke wanneer Ichabod (is ons almal gelukkig daarmee om hom Icky te noem?) verdwaas is oor die moderne lewe en tegnologie, soos ligskakelaars en elektriese motorvensters, en vra of daar ’n wet is wat bepaal daar moet ’n koffiewinkel op elke straathoek wees.

En ek het gehou van die subtiliteit van een spesifieke oomblik waarin Abbie gompapiertjies oral in Ichabod se motelkamer opplak om te verduidelik wat al die dinge doen. Dis hoekom die reeks so goed werk – hulle oordoen nie die vis-uit-die-water-hoek sodat dit simpel word nie.

Ek hou ook daarvan dat die twee deur betreklike nuwelinge gespeel word: die Britse akteur Tom Mison, en Nicole Beharie, wat in die bekroonde fliek Shame was saam met Carey Mulligan en Michael Fassbender (met wie ek sien sy ook vir ’n ruk uitgegaan het). Ek het haar egter nog nie in iets anders gesien nie.

Maar daar is ook dinge aan die reeks wat my pla. ’n Groot een is die feit dat Icky nog steeds dieselfde outydse klere dra wat hy aangehad het toe hy in sy watergraf wakker geword het! Drie episodes is nou al verby en dit lyk of ’n paar weke in hul wêreld al om is, tog dink niemand dis vreemd dat hierdie man in die dorp rondloop in sy effens verslete Onafhanklikheidsoorlog-uniform nie.

sleepy horror 3

Ek het my probleem Twitter toe geneem en ’n baie snaakse gesprek gehad met ander mense wat dieselfde bekommernis het (al dink ons almal daar is ook iets ouliks aan sy slordigheid). @heymeeshi het gesê hy behoort kaal of minstens in toiings wakker te geword het, want sy klere sou gedisintegreer het nadat dit 200 jaar lank begrawe was. @LaJoliePoeta het die goeie punt gemaak dat as hy iets anders aangetrek het, die hele “malletjie-uit-die-1700’s”-idee nie so goed sou gewerk het nie, wat waar is, maar soos @BlackGirlNerds gesê het: “Ek hoop Icky kry binnekort sy oormaaksessie. Tot dan . . . hou ons aan om hom op sy troetelnaam Icky te noem.” Ander mense is dus net so gekwel hierdeur as ek!

Ek het gedink miskien dra hy om finansiële redes nog sy ou klere. Tot dusver het niemand nog genoem dat die polisie hom vir sy dienste as konsultant gaan betaal nie – beteken dit dus dat Abbie hom geldelik ondersteun? Sy kan dit miskien oorweeg om met haar baas, kapt. Frank Irving (Orlando Jones), hieroor te praat.

Uiteindelik het ek tog die antwoord gekry. Die hoofvervaardiger, Alex Kurtzman, het vir Entertainment Weekly vertel dit gaan nie verander nie want dit herinner die gehoor dat hy nie eintlik inpas nie. “Dis soos sy trooskombersie. Hy kan nooit gemaklik in ons wêreld voel nie. Die oomblik as hy gemaklik begin voel, is die reeks verby.”

Nee, jammer, maar dit werk nie vir my nie. In die een of ander stadium sal hy minstens vars klere moet kry, miskien iets van die dorp se museum as jeans dan nie sy ding is nie. Maar wat ook al gebeur – hulle mag nie aan sy hare karring nie. Die akteur laat sowaar daardie poniestert-pruik werk!

My ander irritasie is met die stomme Katrina, Icky se goeie-heks-vrou, wat tussen twee wêrelde vasgevang is. Ek hoop sy gaan ’n beter storielyn kry as om net te ween en Icky te ontbied na die plek waar sy vassit om waarskuwings uit te deel. Sy lyk heeltemal pragtig terwyl sy dit doen, maar almal anders – Abbie se suster inkluis – het ’n sterk storielyn; hoekom nie sy ook nie? sleepy hollow 4 As jy nog nie begin kyk het nie, is dit nie te laat nie want nog net drie episodes is verby! NS Ek het eindeloos gekla oor hoe teleurgesteld ek in die nuwe reeks Ironside is en hoe ek nie verby die eerste episode kon kom nie. ’n Hele klomp lesers het op Facebook saamgestem. Wel, mense, dis gekanselleer nadat net drie episodes in Amerika uitgesaai is. Kom ons hoop maar Blair Underwood kry die goeie reeks wat hy verdien.

  • Sleepy Hollow word Maandae op M-Net Series Showcase (DStv) om 19:30 uitgesaai.

- Natalie Cavernelis

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is blogredakteur en eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, TV, fliek en lees, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Sy skryf ook omtrent al ons boekvraat-blogs oor Engelse boeke. Volg haar op twitter @NatalieCav.