Dolosse

Aubrey het as die “temmer van die branders” bekendgestaan. Die hawe-ingenieur Eric Merrifield het hom in 1966 gevra om ’n plan te bedink om die krag van branders teen die hawemuur te versag. Hy was ’n ontwerptekenaar in diens van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens in Oos-Londen.

Sy ontwerp is op die vorm van die duwweltjiedoring gegrond. Die driedimensionele vorm daarvan, asook die ruimte tussen die soliede stukke, het die energie van branders versprei, eerder as om dit te keer. Die eerste dolosse is by die Oos-Londense hawe geplaas en Gansbaai was volgende. Vandag word miljoene dolosse in meer as 100 lande gebruik.

Hier is nog Suid-Afrikaanse uitvindsels:

Pratley se plakdeeg 

Pratley Putty is die enigste Suid-Afrikaanse uitvindsel wat al maan toe is. Hierdie stewige plakgom is in 1969 gebruik om dele van die Apollo XI se landingstuig aanmekaar te hou. Pratley Putty is in die 1960’s deur ’n ingenieur van Krugersdorp, George Pratley, uitgevind.

Chauvier se Kreepy Krauly

Daardie blou masjienagtige ding wat onder in die swembad tik-tik-tik en soos ’n plastieknaaldekoker lyk, is ’n Suid-Afrikaanse uitvindsel. Was dit nie vir die Suid-Afrikaanse ingenieur Ferdinand Chauvier nie, sou ons nou nog gesukkel het om ons swembaddens skoon te hou. Hy het sy unieke swembad-stofsuier in 1974 by sy huis in Springs in Gauteng begin ontwikkel.

kreepy

Hippo-waterroller 

Wie sou kon dink twee Suid-Afrikaners, Pettie Petzer en Johan Jonker, sou toevallig ’n groot waterkrisis in ons land oplos terwyl hulle eintlik ’n kruiwa aan die ontwerp was? Hul kruiwapoging het tot ’n broodnodige uitvindsel, die Hippo-waterroller, gelei. Hierdie waterkruiwa is ’n waterdrom met ’n staalhandvatsel en dit maak die lewe makliker vir talle Suid-Afrikaners wat nie toegang tot kraanwater het nie. Lees meer by hipporoller.org.

GOOD News: Hippo Rollers from hipporoller on Vimeo.

Henri Johnson se snelgeweer

Henri Johnson, ’n uitvinder van Somerset-Wes in die Wes-Kaap, het in 1992 die SpeedBall uitgevind. Hierdie toestel meet die hoeke van voorwerpe wat teen ’n hoë spoed beweeg soos krieket- en tennisballe. Die slim snelgeweertjie word vandag in Amerika en Europa verkoop en veral in krieketwedstryde gebruik – daarsonder sou ons nooit weet hoe vinnig ons top-krieketspelers boul of hoe vinnig groot tennissterre se afslane is nie.

Allan Cormack se Cat-skandeerder

Allan MacLeod Cormack (1924-’98) was ’n Suid-Afrikaans-gebore Amerikaanse fisikus wat met sy baanbrekerswerk in X-straaltegnologie die Nobelprys vir fisiologie en geneeskunde gewen het. Hy het dit met sy kollega Godfrey Hounsfield gedeel. Hulle het die prys in 1979 vir hul uitvindsel, die CAT-skandeerder, gekry.

Hierdie uitvindsel was die eerste in sy soort wat driedimensionele X-straalplate kon neem. Dokters kon nou vir die eerste keer danksy die ontdekking van hierdie masjien sagte weefsels of lae weefsel van verskillende digthede met X-strale ondersoek.

Chris Barnard – geneser van harte

Nou ja, baie van julle weet seker prof. Christiaan Barnard (1922-2001) het een nag aan die einde van 1967 die eerste hartoorplanting in die geskiedenis uitgevoer. Maar min mense weet hy het ook nuwe hartkleppe ontwikkel en ander chirurgiese prosedures vir orgaanoorplantings gevolg.

’n Van der Merwe is ’n penis-pionier  

Presies 47 jaar en 8 dae nadat Chris Barnard die eerste hartoorplanting gedoen het, het Suid-Afrika weer ’n wêreld-eerste in oorplantingsoperasies behaal. ’n Span dinamiese chirurge van die Universiteit Stellenbosch het in die nag van 10 en 11 Desember 2014 in ’n operasie wat nege uur geduur het die eerste suksesvolle penisoorplanting in die Tygerberg Hospitaal uitgevoer.

Die span, onder leiding van prof. André van der Merwe, hoof van die departement urologie aan die Universiteit Stellenbosch, en bygestaan deur prof. Frank Graewe, hoof van plastiese en rekonstruktiewe chirurgie aan dieselfde universiteit, het die penis van ’n breindood-skenker op ’n 21-jarige man oorgeplant wat sy penis verloor het in ’n rituele bosbesnydenis wat skeefgeloop het.

Olie uit steenkool

Het jy geweet die energiereus Sasol is die wêreld se eerste en grootste raffinadery wat olie uit steenkool maak? Hierdie reusemaatskappy voorsien 40 persent van die land se brandstof.

Virtuele wetenskapopvoeding

Raeez Lorgat, van Kaapstad, is maar alte bewus van al die gebiede waarop rekenaars nog nie ten volle benut kon word nie. Hy het met die idee vorendag gekom om rekenaars op ’n nuwe, moderne en opwindende manier as opvoedkundige middels in te span. Hy noem hierdie opvoedkundige rekenaar-leergebied die VirtuaLAB.

Dit is ’n volledige, driedimensionele, gerekenariseerde wetenskaplike laboratorium, waar leerders eksperimente kan uitvoer en leer.

Oog-uitkenningsmetode

Simone Abramson, ook van Kaapstad, het ’n manier uitgevind om die unieke kenmerke van die menslike oog in te span as sleutel tot ’n nuwe uitkenningsmetode. Anders as vingerafdrukke kan hierdie identifikasienommer nie verander of vervals word nie. Die stelsel – die Fundus-fotografiestelsel – het vir haar ’n hele paar pryse losgeslaan.

oog

Louis van Biljon laat die idees rol

Louis van Biljon, ’n entrepreneur en uitvinder van Pretoria, het sy eerste patent, ’n kraan wat met die voet oop- en toegedraai kan word, in gr. 5 gepatenteer. Hy dink gereeld nuwe idees uit soos ’n oog vir blindes. Dit maak ’n biepgeluid wanneer die draer naby ’n gevaarlike plek kom.

Op die digitale spore van diere

’n Handrekenaar, CyberTracker, was lank die tegnologiese manier om diere in die veld op te spoor. Louis Liebenberg en Lindsay Steventon het dit in 1996 uitgevind. Dis gekoppel aan ’n satellietnavigasiestelsel en is deur Khoisan-spoorsnyers begin gebruik om data oor die diereryk in parke vas te lê. Deesdae is daar ook slimfone . . .

Bronne: thesouthafrican.com, en.wikipedia.org, netwerk24.com, news.bbc.co.uk, webafrica.co.za, news24.com