IS EK die enigste een . . . wat graag van ’n paar karakters in True Blood ontslae wil raak? Ek is mal oor dié reeks, eerlikwaar, maar daar is heeltemal, heeltemal te veel karakters in en soms verloor die verhaal fokus omdat ons móét kyk wat almal aanvang. Net wanneer die storie regtig lekker raak, skakel ons skielik oor van die oulike vampier Eric na die vervelige Sam of die grommende Alcide. En ek beloof ek sê dit nie net omdat ek op Eric verlief is nie. [caption id="attachment_49830" align="alignnone" width="600"]Alcide, leier van die trop en die Groot Grommer Alcide, leier van die trop en die Groot Grommer.[/caption] Die dinge dié seisoen waarvan ek nie hou nie

Óf die weerwolf Alcide óf die vormveranderaar Sam moet beter storielyne kry of padgee, want hulle is vervelig. Naak en vervelig. Dit lyk of dié twee die meeste van die tyd sonder klere is, wat ’n irritasie geword het – behalwe miskien vir een koel toneel waar Sam in ’n groot perd verander. Ons weet maar te goed dat jy ’n indrukwekkend sespak het, Alcide, maar bêre dit asseblief liewer.

[caption id="attachment_49842" align="aligncenter" width="600"]Sam, die vervelige kaalloper en vormveranderaar Sam, die vervelige kaalloper en vormveranderaar.[/caption]

Ek kan ook nie die punt van Sam se nuwe meisie Nicole insien nie en ek gee ook nie meer om nie (hoewel ek van haar hare hou). Plus Alcide en Sam was ’n oomblik gelede nog vriende en nou is hulle geswore vyande, wat geen sin maak nie, so hulle moet weg en Alcide kan ophou met sy verspotte gegrom.

[caption id="attachment_49844" align="aligncenter" width="400"]Minstens het Nicole lieflike hare om na te staar. Minstens het Nicole lieflike hare om na te staar.[/caption]

Verlede seisoen het ek gewens die armsalige oorlogsveteraan Terry verloor sy geveg teen die Irakese spook in wat seker die tweede slegste storielyn van die hele reeks was (die menade van seisoen twee was die slegste). Maar noudat ou Terry hierdie seisoen ’n bietjie vampire glamour gekry het, het ek begin dink hy is nogal pret en hy en Arlene lyk na ’n liewe paartjie. Wonder jy ook waarom niemand al vroeër daaraan gedink het om hom glamour te gee sodat hy sy grusame oorlogverlede kan vergeet nie? En net toe ek Terry geskuif het na my lysie met  “karakters wat maar kan bly”, word hy doodgemaak!! Hoekom het hulle my nie eers vir my uitskoplysie gevra nie?

Sookie is vinnig op pad om ook op die uitskoplys te beland ná daardie bisarre sekstoneel met die fee-vampier Warlow op die feetjieterrein. Ek het lekker gegiggel toe sy die vasgebinde vampier se broek aftrek, maar my omtrent doodgegril toe sy sy nek so hard byt dat sy stukke vleis moes uitspoeg. En net toe ek dink dis nou te erg, begin die gloeiery. Dadelik het Warlow ook ’n plek op my uitskoplys gekry. Net om oor hulle te dink het gemaak dat ek Sookie ook opsit, maar ek het haar naam in potlood geskryf want dis immers min of meer haar program. Andy en sy feetjiebabas is ook op die oomblik ’n bietjie onnodig, maar ek sal eers wag om te kyk hoe die verhaal verloop voor ek meer oor hulle kwytraak. Waarvan ek hierdie seisoen hou Lekker! Eric is weer sy ou self en ’n vamp met ’n plan. Seisoen vyf het hom magteloos laat rondlê in die Authority se nes terwyl hy moes toekyk hoe Bill van sy trollie afraak en Lillith ’n obsessie ontwikkel. Maar hierdie seisoen is hy in beheer, hy veg teen die mal goewerneur wat vampiere probeer uitroei, en het selfs vir hom ’n babavampier gemaak (ek weet dit was eintlik uit wraak, maar ek hou nogal van sy dogter Willa, sy is ’n skattige vampier). En toe moes hy gevange geneem word sodat hy in Vamp Camp kon beland en Pam kon red. Hy is ’n ware held.

[caption id="attachment_49831" align="aligncenter" width="600"]Wie swymel nie oor die sexy Eric nie? Hier is hy by Pam. Wie swymel nie oor die sexy Eric nie? Hier is hy by Pam.[/caption]

Net so gek is ek oor hoe koel Tara as ’n vampier is. Tara die mens was irriterend, maar Tara die vampier het ’n doelwit en word nie meer net ontvoer en gemartel en is met haar vreemde ma opgesaal nie. Al daardie woede wat sy van seisoen een af met haar saamgesleep het, is perfek na haar as vampier gekanaliseer. Sy is ook nogal baie lief met Pam (wat hierdie seisoen weer heeltemal koel en katterig is). En ek is mal oor hoe daar ’n vriendskap besig is om te ontstaan tussen die babavampiere Tara, Jessica en Willa.

[caption id="attachment_49847" align="alignnone" width="400"]Willa, Eric se oulike babavampier. Willa, Eric se oulike babavampier.[/caption]

Ek hou ook van die hele konsep van die Vamp Camp en die bose, waansinnige Sarah. Dis goeie kykstof en ek raak sommer vies as ons uit die kamp moet padgee om te gaan kyk wat Alcide nou weer aanvang – meestal is hy net besig om sy eie ego as leier van die trop te streel – of wat Sam doen – meestal lyk hy net verward.

Daar is nog net vier episodes oor en dan geen True Blood tot volgende jaar nie. Twaalf lang maande sonder Eric . . .

- Natalie Cavernelis

  • True Blood is Maandae om 21:30 te sien op M-Net Series Showcase (kanaal 113).

Lees Natalie se ander TV-blogs:

Verslaaf aan Katvisse en die Kardashians

Verban Junior uit die Dome, sê ek!

10 fantastiese dans-roetines op TV

8 nuwe reekse op pad

Die Emmys, The Fixer en dié wat beroof is . . .

Ontmoet my TV-mans

TV-paartjies wat bymekaar moet uitkom

10 nuwe TV-reekse!

Kyk! Die meisie van My Girl het grootgeword

Wat ’n woeste Game of Thrones!

TV se stylvolste karakters

Watter ander ouers is moeg vir Barney?

Dierbare Emily

The Fixer se koel klere

Is dit net ek?