Net betyds vir Valentynsdag is die romantiese komedie Pad na jou Hart (7-9O G) met die 7de Laan-sterre Ivan Botha en Donnalee Roberts in die hoofrolle. Ivan is die arrogante sakeman Basson van Rensburg wat vyf dae het om van Johannesburg tot in Kaapstad te kom vir sy pa (Marius Weyers) se begrafnis. Hy moet ’n lys take langs die pad verrig as hy die familiesaak wil erf, maar sy eerste uitdaging kom reeds toe hy sonder sy spogmotor oor die weg moet kom. Langs die pad ontmoet hy die Boheemse Amory (Roberts) wat haar eie lys moet voltooi. Saam vat hulle die pad Kaap toe in haar Ford Anglia en dis nie lank voor hulle mekaar se uitkyk op die lewe begin verander nie.

Laetitia Pople van Die Burger gee dit drie sterre en loof die “sterk draaiboek en knap spel van almal. Dit wys opnuut die romantiese komedie is nie ’n afskeepgenre nie en as dit reg gedoen word, sorg dit vir groot vreugde.” Die Cape Times se Steyn du Toit gee dit ook drie sterre. “Die vermaaklike en dikwels roerende intrige maak dié fliek genotvol en dit behoort sterk byval te vind by Valentynsgehore,” skryf Steyn.

As jy lus het vir ’n meer aweregse romanse probeer die Oscar-benoemde Her (16 TS) deur die verbeeldingryke regisseur Spike Jonze (Being John Malkovich, Where the Wild Things Are). Joaquin Phoenix (Gladiator) is ’n teruggetrokke skrywer wat verlief raak op sy rekenaar se hoogs gevorderde bedryfstelsel (Scarlett Johansson se stem).

Die fliek kry 94 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat resensente aan films toeken, bymekaargetel word om ’n gemiddelde uit te werk. Her word beskryf as “dierbaar, hartroerend en slim. Jonze gebruik die wetenskapfiksie konsep om droë humoristiese wyshede oor die toestand van moderne menslike verhoudings oor te dra”. Die Britse rolprenttydskrif Empire se Ian Nathan gee dit vier sterre. Hy bewonder veral “die effens ironies en rustige atmosfeer wat jou al die eksentrieke details laat inneem”. Peter Bradshaw van The Guardian gee dit drie sterre en sê hy wens hy kon meer daarvan hou. “Dis aangrypend selfbehep en vreeslik selfbewus. Die fliek dra sy byderwetsheid op sy mou; dis vernuftig maar tog uiters kunsmatig. Dit voel baie nuut, maar die sentimentele einde is so oud soos die berge. Tog is daar ’n paar indrukwekkende oomblikke,” skryf Peter.

As jy die eerste keer nie genoeg kon kry van Will Ferrell se onnosele nuusleser Ron Burgundy nie, kan jy gaan toustaan vir Anchorman 2: The Legend Continues (13 DTVS). Anchorman: The Legend of Ron Burgundy (2004) het in die 70’s afgespeel, maar in die opvolg bevind Ron en sy groepie kollegas, onder wie sy medenuusleser en vrou, Veronica (Christina Applegate), die weeraanbieder Brick (Steve Carell), verslaggewer Brian (Paul Rudd) en sportleser Champ (David Koechner), hulle in die 80’s. Veronica word bevorder en Ron afgedank en hulle paaie skei, wat Ron op ’n afdraande pad stuur tot hy die kans kry om deel te wees van ’n uitdagende nuwe konsep: ’n 24-uur-nuuskanaal.

Die meeste resensente hou van die fliek: Op Rotten Tomatoes kry dit 74 persent en die konsensus is dat “dit net so oneweredig en los gestruktureerd is soos die eerste fliek. Anchorman 2 het dalk nie soveel onvergeetlike kwinkslae nie, maar dis net so snaaks soos sy voorganger.” Empire se Dan Jolin gee dit drie sterre en beskryf dit as ’n “wisselvallige fliek wat sou baat vind by strenger redigering, maar tussen al die onkruid is daar genoeg humor en selfs satire”. Kevin Harley van die Britse fliektydskrif Total Film is geesdriftiger en gee dit vier sterre. “Ron se terugkeer is groter en meer platvloers as voorheen en voel soms te gedwonge. Maar dra genoeg vars humor by om jou deur die selfvoldane dele te kry,” skryf Kevin.

Die Hollywood-ster George Clooney het hom ook al bewys as ’n knap regisseur en vervaardiger, maar dit blyk hy het ’n bloutjie geloop met sy nuutste fliek, The Monuments Men (7-9OT TG). Dis gegrond op ’n ware verhaal en speel af tydens die Tweede Wêreldoorlog. ’n Groep kunskenners word ingespan om meesterstukke van die Nazi’s te red. Die rolverdeling sluit in Matt Damon, Bill Murray, Jean DuJardin (The Artist) en Hugh Bonneville (Downton Abbey).

Die fliek kry gemengde reaksie by resensente. Rotten Tomatoes gee dit 35 persent en die webwerf Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk, gee dit 52 uit 100. Rotten Tomatoes sê die fliek “het edele bedoelinge en die akteurs is indrukwekkend, maar dit kan nie vergoed vir The Monuments Men se stywe, nostalgiese stemming en vreemd spanninglose verhaal nie”. Total Film se Paul Bradshaw gee dit twee sterre en sê die fliek “huiwer onbeholpe tussen komedie en drama. Clooney vertel die storie omtrent net soos dit gebeur het en dis vaagweg interessant dog effens vervelig. Dié hoofstuk van die oorlog verdien beslis beter.” James Mottram van Thelist.co.uk gee dit twee sterre. “Ocean’s Eleven gekombineer met The Dirty Dozen klink mos na ’n lekker fliek? Maar dié prent probeer te hard om aan dié verwagting te voldoen. Selfs lae verwagtinge gaan jou nie hier help nie, want dis nie amusant of dramaties nie”.

Vir dié wat nog nie versadigingspunt bereik het vir tienervampiere nie, is daar Vampire Academy (13 G), gegrond op die gelyknamige reeks boeke deur Richelle Mead. Rose (Zoey Deutch van Beautiful Creatures) is ’n dhampier – ’n halfmens, halfvampier wie se taak dit is om die moroi – vreedsame, sterflike vampiere wat tussen mense woon – te beskerm van die strigoi – bloeddorstige, onsterflike vampiere.

Kritici het dié fliek goed sleggesê. By Metacritic kry dit 30 uit 100 en Rotten Tomatoes gee dit 10 persent. Laasgenoemde kom tot die slotsom: “Al trek die fliek dalk die boeke se aanhangers, leen Vampire Academy se Twilight-gekruis-met-Mean Girls-konsep grootskaals by sy voorgangers en bied min humor of opwinding om die te ingewikkelde storie draaglik te maak.” Sandy Schaefer van Screenrant.com gee dit twee sterre. “Vampire Academy sal seker net die boeke se aanhangers tevrede stel. Almal anders sal dit beskou as net nog ’n onaanstootlike maar dadelik wegdoenbare toevoeging tot die groeiende hoop goedkoop verwerkings van tienerboeke wat onlangs verfilm is,” skryf hy. Dennis Harvey van Variety beskryf dit as “’n kras sameflansing van elemente uit Harry Potter en Twilight” en betreur dit dat Mead se “taamlik intelligente en ingewikkelde boeke tot ’n afgewaterde deurmekaarspul verlaag word”.

– Sandra Visser