Daar was lanklaas ’n rampfliek op die silwerdoek; as jy dus dié genre geniet, sal jy dalk hou van Into the Storm (10G). Op die matrieks se laaste skooldag op die Amerikaanse dorpie Silverton tref ’n ongekende aantal tornado’s die gebied. Terwyl inwoners, onder wie die skool se onderhoof (Richard Armitage van die Hobbit-flieks) hul gesinne probeer red, daag die wetenskaplikes Pete (Matt Walsh van die TV-reeks Veep) en Allison (van The Walking Dead-faam) op om die storm te dokumenteer, wat die geleentheid skep vir die fliek om in die styl van ’n amateurvideo verfilm te word.

Die meeste resensente dink dis bra flou. Dit kry net 20 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat resensente aan flieks toeken en ’n gemiddelde bereken. Hulle bevind: “Die draaiboek is lomp en vol vergeetbare karakters. Into the Storm bied min buiten indrukwekkende spesiale effekte.”

Die Britse tydskrifte Empire en Total Film gee dit albei twee sterre en vergelyk dit ongunstig met Twister (1996). Eersgenoemde se Helen O’Hara skryf: “Die soms uiters spannende aksietonele hou die pas lekker op dreef, maar ’n mens gee glad nie om vir die karakters nie.” Total Film se Matt Maytum voel “lomp, onnatuurlike dialoog en ’n gebrek aan logika bederf die amateurvideo-formaat”.

In 2001 het die Amerikaanse regisseur Richard Linklater besluit om ’n eksperiment te begin. Hy wou ’n fliek maak wat die grootwordjare van ’n seun van gr. 1 tot gr. 12 uitbeeld. Jaar ná jaar van 2001 tot 2013 het Richard dieselfde groep akteurs bymekaargekry en nog ’n deel van die storie verfilm.

So sien rolprentgangers hoe die sesjarige Mason (Ellar Coltrane) en sy ouer suster, Samantha (Lorelei Linklater), voor hul oë grootword terwyl hul geskeide ouers (Patricia Arquette van die TV-reeks Medium en Ethan Hawke van Dead Poets Society), nes hul kinders, hulself probeer vind. Die gevolg is Boyhood (16TG).

Resensente is gaande daaroor. Dit kry ’n verbysterende 99 persent op Rotten Tomatoes waar dit beskryf word as “’n epiese dog aangrypend intieme vertelling. Boyhood is ’n uitgestrekte ondersoek na menswees”.

Liz Beardsworth van Empire gee dit vyf sterre. “Linklater se pragtige film is ’n besonderse prestasie – teer, snaaks, wys en weemoedig; vol warmte en medemenslikheid.”

James Berardinelli van reelviews.net is nie ewe oorstelp nie, maar gee dit nogtans drie en ’n half uit vier sterre. “Die film maak ons bewus van hoe vlietend en broos die lewe is,” skryf hy. “Die oorgange tussen die jare is naatloos en omdat dit dieselfde akteurs is, word alle elemente realisties vermeng. Wanneer die fliek verby is, voel jy diep tevrede. Jy het ’n gesin leer ken soos baie min rolprente dit moontlik maak.”

In die gruwelfliek As Above So Below (13GGr), onderneem ’n groep argeoloë ’n verkenningstog diep ondergronds na ’n onbekende deel van Parys se katakombes. Hulle hoop om iets nuuts te ontdek, maar dit waarop hulle afkom, moes liewer begrawe gebly het. Dié fliek is ook in die amateurvideo-styl verfilm.

Die meeste kritici voel dis swak. Dit kry 29 persent op Rotten Tomatoes en 38 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk. Rotten Tomatoes sê: “Ná ’n interessante begin wat dreig om bo die gewone amateurvideo-gruwelflieks uit te styg, tuimel dit terug na clichés en middelmatigheid.”

Simon Abrams van rogerebert.com is effens positiewer ingestel en gee dit twee en ’n half sterre. “Die vervaardigers kry punte daarvoor dat hulle hul fliek anders wil laat lyk as die gewone amateurvideo-gemors,” skryf hy. “Maar hul kenmerkende, impressionistiese kamerawerk laat ook jou maag en kop draai.”

Bruce DeMara van die Toronto Star gee dit twee uit vier sterre. “Die akteurs is nogal innemend en die regisseur John Erick Dowdle gebruik die stel en klank om deurgaans ’n uiters kloustrofobies en onheilspellende gevoel te skep. Maar die talle wendings in die draaiboek is te dikwels laf en irriterend.”

In Moms’ Night Out (OG) kort ’n groep vriendinne dringend ’n aandjie uit waartydens hulle vir ’n tydjie van hul verantwoordelikhede teenoor hul mans en kinders kan vergeet. Die pa’s kan mos drie of wat uur na die bloedjies kyk, of hoe? Die rolverdeling sluit in Sean Astin van die Lord of the Rings-flieks en Patricia Heaton van die TV-reeks Everybody Loves Raymond.

Dis nog ’n flop, volgens die resensente. Op Metacritic kry dit net 25 uit 100 en Rotten Tomatoes gee dit 18 persent. Die konsensus is: “Mom’s Night Out is goedkoop, nie snaaks nie en in ’n mate seksisties. Dis stel strykdeur teleur.”

Kate Taylor van Kanada se The Globe and Mail gee dit een uit vier sterre. “Die gebeure – ’n maalkolk chaotiese onwaarskynlikhede – is freneties en nooit so snaaks soos dit behoort te wees nie omdat die regisseur-broers Andrew en Jon Erwin nie vaardig genoeg is om die pas te handhaaf of die volume af te wissel nie.”

Matt Prigge van metro.us gee dit twee sterre. “Die sedelessie is bra verdag: Ma’s word waardeer, maar moet nooit eintlik die huis verlaat nie en kan netsowel daar vasgeketting bly terwyl die manne geld verdien en videospeletjies speel.”

Lindsay Lohan is deesdae meer berug vir haar manewales as haar toneelspel, maar sy het darem ’n rol losgeslaan in The Canyons (18TSN), met die bekroonde draaiboekskrywer Paul Schrader (American Gigolo, Taxi Driver) as regisseur.

’n Berekende jong rolprentvervaardiger, Christian (die porno-akteur James Deen), maak rolprente om sy trustfonds aan te vul. Sy meisie, Tara (Lohan), steek ’n affair uit haar verlede vir Christian weg, maar wanneer hy daarvan uitvind raak hy buite beheer en begin ál wreder kopspeletjies met Tara speel.

Resensente is min beïndruk. Dit kry 24 persent op Rotten Tomatoes, wat dit beskryf as “verdrukkend misantropies en swak vervaardig. The Canyons is ’n wrang voetnoot in Paul se loopbaan, maar dit bevat tog skaflike toneelspel deur Lindsay”.

Robbie Collin van The Telegraph gee dit twee sterre. “The Canyons is ’n vervelige mislukking om die banaalste redes: die karakters voel nie eg nie, die dialoog is afskuwelik en die meeste van die rolverdeling kan nie toneelspeel nie. Ten minste verleen Lohan ’n vreemde gevoel van geestelike en seksuele uitputting aan haar tonele.”

David Edwards van die Britse Mirror gee dit een ster. “Daar’s naaktonele wat glad nie prikkelend is nie en ’n sepierige intrige wat die vervaardigers van Dynasty sou verwerp,” skryf hy.

“Maak wat dit so neerdrukkend maak, is dat Paul, wat op sy dag Taxi Driver geskryf het, die regisseur is. Die eerste vraag wat jy jou afvra wanneer jy uit die fliek loop, is: “Wat op aarde het hulle gedink?” Die tweede is dalk: “Het hulle enigsins gedink?”

- Sandra Visser