“Hi-Yo Silver, away!” The Lone Ranger (10-12OG), een van die gemaskerde helde wat al die langste met ons is (hy is in 1933 op Amerikaanse radio in die lewe geroep), is terug met dié uitreiking van ’n avontuurfliek met ’n bielie van ’n begroting. Gore Verbinski is die regisseur en Jerry Bruckheimer ’n vervaardiger. Dié twee het ook die Pirates of the Caribbean-flieks gemaak.

In The Lone Ranger vertel die Indiaanse vegter Tonto (Johnny Depp) van sy avonture saam met John Reid (Armie Hammer van Mirror Mirror) en hoe Reid die Lone Ranger geword het wat geregtigheid na die Wilde Weste gebring het.

Die fliek is oorwegend sleg ontvang. Dit het 26 persent op die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes gekry en die konsensus was dat “Hammer en Depp aanloklike hoofakteurs is, maar dat hulle nie vergoed vir The Lone Ranger se flou draaiboek, onnodige uitgerektheid en oordadige aksie nie”.

Aan die ander kant het Angie Errigo van die tydskrif Empire die fliek vier sterre gegee en dit beskryf as ’n “goed vertelde, weldeurdagte storie wat pragtig, en by tye effens mal, aangebied word. Dit bied opwinding, snaakse oomblikke en pret wat jou weer sewe jaar oud sal laat voel.”

The Big Wedding (13 TNS) is ’n komedie met ’n sterbelaaide rolverdeling. Diane Keaton (Something’s Gotta Give) en Robert de Niro (Meet the Parents) speel geskeides wat ter wille van hul aangenome Colombiaanse seun, Alejandro (Ben Barnes van The Chronicles of Narna: Prince Caspian), moet voorgee hulle is gelukkig getroud toe sy biologiese ma (Patricia Rae), ’n stoere Katoliek, besluit om sy troue by te woon. Amanda Seyfried speel Alejandro se verloofde, Topher Grace en Katherine Heigl is sy broer en suster, Susan Sarandon is sy pa se meisie en Robin Williams is die priester wat hulle gaan trou.

Omtrent geen kritici het van die fliek gehou nie. Rotten Tomatoes het dit net sewe persent gegee; die konsensus was dat die “sterbelaaide rolverdeling gestrand is in ’n versinde, geforseerde verhaal wat probeer snaaks wees, maar jou net ’n paar keer laat lag”. Bruce Bennett van die koerant The Spectrum het gesê die fliek “daal na nuwe laagtes van afskuwelik”.

Vir diegene wat op soek is na iets ernstigers, is daar Disconnect (16 DTNS). Dié drama ondersoek die uitwerking van moderne tegnologie op ons lewens en verhoudings deur die onderskeie karakters, onder andere ’n hardwerkende pa (Jason Bateman van Horrible Bosses) wat nie tyd kry om met sy gesin te kommunikeer nie en ’n paartjie (Alexander Skarsgård van True Blood en Paula Patton van Mission: Impossible – Ghost Protocol) wat in ’n gevaarlike situasie beland toe hul geheime aanlyn oopgevlek word.

Die fliek is oorwegend positief ontvang; Rotten Tomatoes het dit ’n gemiddeld van 66 persent gegee. Die konsensus was “al is dit soms didakties en melodramaties, help Disconnect se sterk rolverdeling dit ’n aktuele, doeltreffende ondersoek maak van die oormaat tegnologie in die moderne samelewing”.

Vyf jaar nadat hul TV-reeks Af, ’n Suid-Afrikaanse weergawe van die Amerikaanse waagtoertjiekomedie Jackass, op die DStv-kanaal MK was, is ’n groep plaaslike waaghalse terug met hul eerste fliek, Bustin’ Chops: The Movie (16TG).

Die waaghals Eugene Koekemoer kry die idee om die grootste toertjie uit te voer wat Suid-Afrika nog gesien het en dit dan vir die Amerikaanse regisseur Steven Spielberg te wys. Die fliek is nog nie geresenseer nie.

Bhaag Milkha Bhaag (Engels: Run, Milkha, Run) is ’n biofliek oor die Indiese Olimpiese atleet Milkha Singh, ook bekend as die Vlieënde Sikh. Milkha moes die moord op sy familie, die burgeroorlog tydens die skeiding van Indië en Pakistan en haweloosheid oorkom om een van die wêreld se ikoniesste atlete te word.

Die meeste kritici het die fliek geloof. Subhash K. Jha van IANS het dit vyf sterre gegee en dit beskryf as ’n “byna foutlose huldeblyk aan die gees van Indië se grootste naelloper”. Hy was ook beïndruk met hoe die storie “verweef is in ’n pastiche van drama, emosie, humor en patos”. Robert Abele van die LA Times het dit beskryf as ’n “roerende biofliek wat pragtig verfilm is”.

SANDRA VISSER