Die hoërskoolkomedie The Duff (13T) sal tot baie kykers spreek. Dit handel oor Bianca (Mae Whitman van The Perks of Being a Wallflower) wat woedend is toe sy ontdek sy is haar vriendinne se DUFF, oftewel Designated Ugly Fat Friend, die een wat hulle bevriend het omdat hulle in vergelyking met haar net soveel mooier en maerder lyk.

Bianca laat haar nie onderkry nie en besluit om haar te herskep om die oog van die aantreklike Toby (Nick Eversman) te vang. Om dit te doen vra sy hulp van haar buurman en laerskoolvriend (Robbie Amell van die TV-reeks The Flash), wat nou die sterspeler van die skool se voetbalspan is. Die meeste kritici dink dis ’n oulike fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat resensente aan flieks gee en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 71 persent. Hulle bevind: “The Duff is nie heeltemal op dieselfde vlak as die beste tienerflieks nie, maar word aanbeveel omdat dit ’n postmodernistiese kinkel aan die genre en uitstekende spel van die betroubare Mae Whitman bied.”
'Die fliek voel soos ’n mengsel van She’s All That.'

Die Britse tydskrif Empire se William Goss gee drie sterre. “Die fliek voel soos ’n mengsel van She’s All That (1999) en Mean Girls (2004),” skryf hy. “Al verbeter dit nie op ander onlangse tienerkomedies nie, is die draaiboek speels en vind dit skerpsinnige maniere om tydige onderwerpe soos selfbeeld, kuberboelies en sosiale rangordes te bekyk. Dit laat Whitman en Amell ook toe om hul aansienlike sjarme ten toon te stel.”

Na die bekende 1967-fliekweergawe van Thomas Hardy se klassieke roman Far from the Madding Crowd (10-12OG), het vervaardigers eindelik weer kans gesien om nog ’n silwerdoek verwerking aan te pak. Dit speel af in die laat 19de-eeuse Brittanje en handel oor die onafhanklike en koppige Bathsheba Everdene (Carey Mulligan van The Great Gatsby) wat, nadat sy ’n fortuin en ’n plaas erf, kan bekostig om te trou net vir die liefde. Sy trek drie hoogs uiteenlopende mans se aandag: die standvastige boer Gabriel Oak (Matthias Schoenaerts van The Drop), die pierewaaier-soldaat Troy (Tom Sturridge van Pirate Radio) en haar ryk, konserwatiewe buurman, William Boldwood (Michael Sheen van die TV-reeks Masters of Sex).

Die meeste resensente dink dis ’n baie goeie fliek. Rotten Tomatoes gee dit 83 persent en bevind: “Die fliek sal dalk ongunstige vergelykings ontlok met Thomas Hardy se klassieke roman en die vorige verwerking, maar staan op sy eie te danke aan sterk regie en ’n talentvolle rolverdeling.” Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit egter net 68 uit 100.

Jane Crowther van die Britse tydskrif Total Film gee dit vier sterre en beskryf dit as “’n onomstrede, statige en getroue verwerking. Die sterk akteurs laat ’n mens van die steeds vuurwarm 1967-weergawe vergeet. Mulligan is innemend en die vonke spat tussen haar en Schoenaerts en Sturridge. Maar Sheen se trotse, gepynigde vertolking is waarlik roerend. Die fliek is verfrissend genoeg vir nuwe kykers en respekvol genoeg om kenners tevrede te stel.”

As jy lus het vir iets lafs en Will Ferrell (Anchorman) kan verdra, probeer Get Hard (16TSN). Hy speel ’n idiotiese miljoenêr, James, wat 10 jaar tronkstraf opgelê word vir bedrog en na die berugte San Quentin-tronk gestuur word. Om hom voor te berei vra hy die hulp van die motorwassery-eienaar Darnell Lewis (Kevin Hart van Ride Along), want omdat Darnell swart is, neem James aan hy was al in die tjoekie.

Die meeste kritici dink dis maar ’n swak fliek. Rotten Tomatoes gee dit net 29 persent en beskryf dit as “’n vermorsing van twee skerp grapjasse se talente. Pleks dat hulle die intrige se volle potensiaal ontgin, is die vervaardigers tevrede daarmee om vervelige en aanstootlike grappies op te dis.”

Empire se Dan Jolin gee dit twee sterre. “Vir ’n fliek waarvan die intrige afhanklik is van ’n karakter se vooroordele, steun dit hopeloos te veel op kykers s’n,” skryf hy. “’n Mens raak ook gou onuithoudbaar ongemaklik met al die onaangename grappies.”

Dié wat van aksierillers hou, sal dalk Beyond the Reach (13TG) geniet. Michael Douglas (Basic Instinct) speel ’n selfvoldane sakeman en jagter, Horton Madec, wat ’n jong gids, Ben (Jeremy Irvine van War Horse), op ’n jagtog in die woestyn neem om groothoringskape te jag. Maar dan skiet Madec per ongeluk ’n ou prospekteerder dood en probeer Ben oorreed dat hulle dit moet toesmeer. Ben wil van niks weet nie en Madec dwing hom om sy toerusting, skoene en water neer te sit, waarna Madec wegry en Ben net daar los. Madec is seker Ben sal nie oorleef nie, maar net om seker te maak, hou hy Ben op ’n afstand dop met sy geweer op hom gerig.

Die meeste resensente dink die fliek is bra flou. Rotten Tomatoes gee dit 33 persent en die gevolgtrekking is: “Beyond the Reach beloof om ’n skaflike riller te wees, maar voldoen nie aan hierdie belofte nie. Die lawwe intrige slinger rond en verloor die kyker se aandag.”

Brad Wheeler van Kanada se Globe and Mail gee dit ’n een en ’n half uit vier sterre, en beskryf dit as “uiters vervelig en sonder geloofwaardigheid”.

In She’s Funny that Way (13T) speel Owen Wilson (Midnight in Paris) ’n suksesvolle Broadway-teaterregisseur, Arnold Albertson, wat voel dis sy roeping om prostitute van hulleself te red deur hulle geld aan te bied waarmee hulle hopelik hul lewe sal regruk. Toe hy dieselfde doen met die vrolike Izzy Finkelstein (Imogen Poots van Fright Night) besluit sy om die geld te gebruik om haar droom van aktrise word te bewaarheid en deur ’n sameloop van omstandighede daag sy op vir ’n oudisie vir Albert se nuwe produksie. Sy vrou (Kathryn Hahn van The Secret Life of Walter Mitty) het ’n affair met die toneelstuk se hoofakteur (Rhys Ifans van Notting Hill). Dan is daar ook nog Jennifer Aniston as die wêreld se mees onsimpatieke terapeut en Will Forte as haar dramaturg kêrel, wat op Izzy verlief raak.

Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om ’n konsensus te bereik nie, maar Metacritic gee dit 54 uit 100.

Robbie Collin van The Telegraph gee dit vier sterre. Hy beskryf dit as groot pret, en sê die akteurs is almal uitstekend.

– Sandra Visser