As jy jou simpel gelag het vir die avonture van die onnosele Harry (Jeff Daniels) en Lloyd (Him Carrey) in Dumb & Dumber (1994) sal jy seker daarna uitsien om ná 20 jaar met die twee idiote herenig te word in Dumb and Dumber To (13 TG). Harry het dringend ’n nieroorplanting nodig en toe hy uitvind hy het ’n dogter, vra hy Lloyd se hulp om haar op te spoor. Al wat hulle het is ’n foto van hoe sy nou lyk en Lloyd gee dit net een kyk en raak smoorverlief op haar.

Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om ’n konsensus te bereik nie, maar sover gee hulle dit 40 persent gegrond op ses resensies.

Jordan Hoffman van die Britse koerant The Guardian gee dit drie sterre. “Dumb and Dumber To is merkwaardig getrou aan die oorspronklike – tot die goedkoop stelle en flou storie is in dieselfde styl. Maar ek sal jok as ek sê die fliek het my nie meer as een keer lekker laat lag nie.”

The Drop (16 TG) is gegrond op ’n kortverhaal van die misdaadskrywer Dennis Lehane (Mystic River, Shutter Island) en fokus op die eensame en teruggetrokke Bob (Tom Hardy van The Dark Knight Rises) wat by ’n kroeg in Brooklyn, New York, werk. Die kroeg is deur die Tsjetsjeens Mafia oorgeneem en dien as afleweringspunt vir geld wat op ’n onwettige wyse bekom is. Bob, wat deur die lewe al ’n hele paar dwarsklappe toegedien is, vind ’n mishandelde hondjie in ’n vullisblik en besluit om na hom om te sien. Hy raak ook bevriend met Nadia (Noomi Rapace van die Sweedse weergawe van The Girl with the Dragon Tattoo), maar haar brutale eks (Matthias Schoenaerts van Rust and Bone) maak steeds aanspraak op haar asook die hond wat hy in die drom gegooi het. Dan word $5 000 tydens ’n rooftog by die kroeg gesteel en moet Bob en sy baas, Marv (The Sopranos se wyle James Gandolfini in sy laaste rol), dit êrens uitkrap of die Mafia gaan hulle aanspreeklik hou.

Die meeste resensente dink dis ’n uitstekende fliek. Rotten Tomatoes gee dit 88 persent en bevind: “Daar’s g’n tekort aan misdaaddramas met soortgelyke temas nie, maar The Drop styg uit bo die res te danke aan ’n slim draaiboek en sterk rolverdeling.”

Jamie Graham van die Britse fliektydskrif Total Film gee dit vier sterre. “Oorbekendheid kleef aan die fliek, maar dis ’n goed vervaardigde, bewonderenswaardige prent met ’n stralekrans van hoop wat skitter rondom ’n melankoliese hart – ’n melankolie wat natuurlik verdiep word deur Gandolfini se dood.”

Die Britse filmtydskrif Empire se Angie Errigo is ietwat minder beïndruk en gee dit drie sterre. “Die meeste van hierdie verhaal is reeds deur ander flieks gedek,” skryf sy. “Dennis het sy kortverhaal Animal Rescue verwerk en al brei hy die storie uit met nuwe karakters en intriges, dra hulle eintlik niks noemenswaardig by nie. Die fliek voel beslis uitgerek, maar dis Hardy se simpatieke toneelspel wat dit werklik onderskei van al die ander skaflike maar voorspelbare misdaaddramas.”

Keira Knightley (Pirates of the Caribbean) is te sien in die komedie Laggies (16 T), wat ook bekend is as Say When. Sy speel ’n 28-jarige vrou wat doelloos in die lewe ronddobber, onseker oor watter loopbaan sy wil volg en tevrede daarmee om the kyk hoe haar vriende lewensmylpale behaal. Maar sy skrik groot toe haar kêrel (Mark Webber van Scott Pilgrim vs the World) haar die jawoord vra en besef sy wil nog nie ’n verantwoordelike volwassene wees wat rekeninge en ’n huisverband moet betaal nie. Sy kry die kans om te ontsnap toe sy ’n 16-jarige meisie (Chloë Grace Moretz van Kick-Ass) bevriend en ’n week lank in haar en haar lewensmoë pa (Sam Rockwell van Iron Man 2) se huis gaan wegkruip.

Die fliek kry meestal goeie resensies. Dit kry 63 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 68 persent en die konsensus is: “Die vervaardigers kon baie meer met hul idees uitgerig het, maar die fliek word gedra deur ’n bekoorlike vertolking deur Keira, asook Lynn Shelton se empatieke regie.”

Empire se Liz Beardsworth gee die fliek drie sterre. “Die storie raak ’n bietjie vreemd en die dramatieser dele voel nie heeltemal eg nie. Maar die akteurs is bekoorlik,” skryf sy.

Jason Best van Movie Talk gee dit ook drie sterre. “Lynn (Humpday, Your Sister’s Sister) het al bewys sy is ’n skerpsinnige maar barmhartige waarnemer van deurmekaar lewens en dat sy geloofwaardige toneelspel uit haar akteurs kan kry al is die situasie hoe kunsmatig. In dié fliek is haar akteurs innemend opgeruimd en natuurlik.”

Ewe skielik is die jong Australiese akteur Brenton Thwaites in al wat ’n fliek is. Eers was dit Maleficent, toe The Giver en Oculus en nou The Signal (7-9O TG). Hy speel Nic, ’n Massachusetts Instituut van Tegnologie (MIT) student wat saam met sy vriende, Haley (Olivia Cooke van die TV-reeks Bates Motel) en Jonah (Beau Knapp) op reis is deur Amerika na Kalifornië. Toe hulle by ’n motel oornag ontdek hulle dat die kuberkraker Nomad, wat hulle voorheen in die moeilikheid laat beland het, hulle uittart met vreemde en onheilspellende e-posse. Hulle vind uit waar hy is en gaan soek hom by ’n verlate huis in Nevada. Dan word alles skielik donker en toe Nic wakker word, bevind hy hom in ’n nagmerrie scenario. Om meer te vertel sal die fliek bederf.

Die meeste resensente dink die fliek is gemiddeld. Dit kry 53 uit 100 op Metacritic en 56 persent by Rotten Tomatoes. Hulle bevind: “Regisseur William Eubank het duidelik groot idees en beskik oor ’n indrukwekkende vlak van tegniese kennis. Ongelukkig vermors The Signal hierdie pluspunte op ’n swak gestruktureerde intrige.”

James Berardinelli van reelviews.net is meer geneë en gee dit drie sterre. “William maak staat op die gehoor se intelligensie en vindingrykheid om alles te ontrafel en by ’n antwoord uit te kom,” skryf hy. “Dis harder werk as wat sommige kykers gewillig is om te doen, maar daar’s iets welkom aan ’n fliek wat nie net ’n netjiese en maklike oplossing bied nie.”

Matt Patches van ign.com gee dit 6,2 uit 10. “The Signal is ’n sprekende voorbeeld dat styl nie gelykstaan aan diepte nie,” skryf hy. “Stylvolle beelde is nie genoeg om te keer dat die fliek ineenstort onder die gewig van oordadige emosie nie.”

Indien jy nog nie moeg is vir inspirerende sportdramas gegrond op ware gebeure nie, kan jy dalk When the Game Stands Tall (7-9O G) ’n kans gee. Dis die verhaal van die afrigter Bob Ladouceur (Jim Caviezel van The Passion of the Christ) wat ’n niksbeduidende hoërskool Amerikaanse voetbalspan omskep het in kampioene wat ná 151 wedstryde steeds onoorwonne was.

Volgens Rotten Tomatoes dink die meeste kritici dis ’n swak fliek en kry dit slegs 18 persent. Hulle beskryf dit as “’n ongemaklik kombinasie van skaflike wedstrydtonele en afgesaagde sportdrama-clichés. When the Game Stands Tall word oorskadu deur beter spelers in ’n oorvol genre.”

Mike Reyes van cinemablend.com gee dit twee sterre. “Die fliek probeer nie eens homself aan gehore verkoop wat nie mal is oor voetbal nie. Dit bied dieselfde resep wat ons al tot satwordens toe gesien het en doen dit op ’n aggressiewe manier. As jy nie van voetbal hou nie, is dié fliek nie vir jou nie.”

Cliff Lee van die Kanadese koerant The Globe and Mail gee dit twee uit vier sterre en wonder hoekom sulke uitsonderlike gebeure so ’n ordinêre film tot gevolg het. “Dis niks meer nie as ’n springmielie-fliek wat die kruisies in al die regte blokkies trek om so ’n wyd moontlike gehoor tevrede te stel, en dis ook maar okei.”

Edgar Rice Burroughs se oerwoudheld Tarzan (7-9O G) is weer terug in nog ’n fliek. In 1999 was daar reeds ’n Disney-weergawe in tradisionele handgetekende animasie, en al wat dié een anders maak is dat dit op rekenaars (in Duitsland) geskep is en boonop in 3D is. Ons held (met die stem van Twilight se Kellan Lutz) is steeds die weeskind van ’n adellike Britse familie en word in Midde-Afrika deur gorillas grootgemaak. Hy ontmoet die omgewingsbewaarder Jane Porter (Spencer Locke), wat vergesel word deur die entrepreneur William Clayton (Trevor St. John). William maak asof hy Jane se omgewingsbewaring ondersteun, maar hy is in werklikheid op soek na ’n moontlike nuwe energiebron in die oerwoud en sal enigiets doen om dit te bekom.

Rotten Tomatoes het nog nie ’n konsensus bereik nie, maar sover kry die fliek slegs 17 persent gebaseer op 24 resensies. Total Film en Empire gee dit albei twee sterre. “Hierdie Tarzan voel soos ’n sintetiese plaasvervanger vir Disney se lewendiger, handgetekende held,” skryf Empire se Angie Errigo. “Die fliek gaan gebuk onder ’n swak gestruktureerde intrige wat jou glad nie boei nie. Die stemwerk is flou, die verteller irriteer en die geweld is nie geskik vir kinders nie.”

- Sandra Visser