Ná sy weergawe van The Girl with the Dragon Tattoo wend die regisseur David Fincher sy noukeurige, ietwat kil blik op nog ’n topverkoper-speurverhaal.

Gone Girl (16 TSG) is gegrond op die gelyknamige roman deur Gillian Flynn en fokus op die Amerikaanse kroegeienaar Nick Dunne (Ben Affleck van Argo), wat op sy vyfde huweliksherdenking sy vrou, Amy (Rosamund Pike van Jack Reacher), as vermis aanmeld.

Almal, onder wie Nick se familie en die polisie, is aanvanklik baie simpatiek, maar namate hulle agterkom hy lieg oor aspekte van hul verhouding, raak hulle agterdogtig. Het Nick Amy vermoor?

Die meeste resensente is baie beïndruk deur die fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 87 persent en beskryf dit as “donker, intelligent en uitermate stylvol. Gone Girl is die perfekte onderwerp vir David se siek talente en toon ook die beste in Ben en Rosamund.”

Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film gee dit albei vier sterre. Eersgenoemde se Ian Freer voel dis “stylvol, verdorwe en gewaagd. Gone Girl is David se weergawe van ’n romantiese afspraakfliek: donker, slim en gevaarlik. Al is die slot nie heeltemal geslaagd nie, sal die fliek se wendings, kinkels en toewyding aan immorele afstootlikheid jou laat steier.”

Jamie Graham van Total Film skryf: “Ja, Gone Girl is ’n aangrypende speurverhaal wat getrou bly aan die boek se intrige vol kinkels, wat soms moeilik is om te sluk. Maar dit bied ook ’n swartgallige blik op die einde van goeie joernalistiek, die veranderlikheid van die regstelsel, die ekonomie wat in duie gestort het en bowenal die waansin van die huwelik. Fincher se doelstelling was om ’n rolprent te maak wat die fyn onderskeid tussen snaaks en siek betree, en sy beheerste rolprent is vol in die kol.”

Verlede week kon Pierce Brosnan nie die kritici aan sy kant kry toe hy weer die aksieheld in The November Man gespeel het nie, maar as romantiese held vaar hy beter met Love Is All You Need (13TSN). Die eertydse 007 speel ’n grompot Engelse wewenaar wat in Denemarke woon en Italië toe reis om sy vervreemde dogter (Molly Blixt Egelind) se troue by te woon. Daar ontmoet hy sy aanstaande skoonseun (Sebastian Jessen) se ma, Ida (Trine Dyrholm), ’n haarkapster wat haar hare weens chemoterapie verloor het en pas haar ontroue man uitgeskop het. Sal die twee weer geluk by mekaar kan vind?

As jy lus het vir ’n romantiese komedie vir die ouer garde en And So It Goes van ’n paar weke gelede jou teleurgestel het, kan jy gerus Love Is All You Need probeer. Pierce is ook blykbaar baie beter daarmee om ’n verbitterde dog innemende iesegrim te speel as Michael Douglas. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee die fliek 60 uit 100. By laasgenoemde kry dit 74 persent, en hulle kom tot die gevolg: “’n Mens kan nie ontken dat die fliek gering en sentimenteel is nie, maar die skilderagtige milieu en innemende toneelspel deur Pierce en Trine vergoed daarvoor.”

Empire se Angie Errigo gee die rolprent drie sterre en beskryf dit as “baie soos Mamma Mia! (2008), net sonder Abba, gekruis met Under the Tuscan Sun (2003). Vrolik, dierbaar en met ’n oulike rolverdeling, idilliese tonele en prettige komiese oomblikke. Aangenaam innemend.”

Lisa Kennedy van The Denver Post gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Die fliek is soetsappig asook bittersoet, en nie vreeslik oorspronklik wat romantiese komedies betref nie,” skryf sy, “maar dit bevat verfrissende en selfs besielende oomblikke.”

Die res van dié week se flieks is nog nie wyd geresenseer nie. City of Violence (16 DTNVG) was eers bekend as Zulu en sal Suid-Afrikaners dalk spesifiek interesseer omdat dit hier afspeel en verfilm is en ons graag wil hoor of die oorsese sterre die aksent kan bemeester. Orlando Bloom (The Lord of the Rings) en Forest Whitaker (The Last King of Scotland) speel twee Suid-Afrikaanse polisiemanne wat agterkom hul saak het te doen met ’n apartheidsera-program wat chemiese wapens ontwikkel het. Plaaslike akteurs is ook in die rolverdeling, onder andere Tanya van Graan, Sven Ruygrok en Grant Swanby.

Martin Hafer van 1nfluxmagazine.com gee dit ’n C-. “Al is die uitbeelding van korrupte polisielede en Suid-Afrika as ’n gewelddadige plek nie ver van die waarheid nie, maak die fliek net te veel onlogiese spronge om ernstige opgeneem te word,” skryf hy. “En ek word afgesit deur al die geweld en naaktheid – dit kom in die pad van die intrige.”

Die wetenskapsfiksie-riller Autómata speel af in die jaar 2044. Die Aarde se ekostelsel is op die randjie van ineenstorting en die meeste mense besit robotte wat onderworpe is aan twee voorskrifte: hulle mag nie hulself of mense skade aandoen nie. Toe ’n robot dié reëls oortree, word die robotversekeringsagent Jacq Vaucan (Antonio Banderas van Desperado) gestuur om uit te vind wat gebeur het, en hy kom agter dat robotte dalk meer vir hulself kan dink as wat mense besef.

Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies om ’n konsensus te vorm nie, maar sover kry die fliek net 24 persent gegrond op 17 resensies. Keith Uhlich van Time Out is beter ingesteld en ken drie sterre daaraan toe, maar hy meen tog al is die wêreld wat uitgebeeld word, indrukwekkend uitgedink, is die fliek te oneweredig. “Vir ’n tydjie is dit lekker om rond te hang saam met Jacq terwyl hy sy weg baan deur die vervalle stad,” skryf hy. “Maar toe hy later die stad saam met ’n groep robotte verlaat probeer die vervaardigers ’n etiese les lomp oordra. Intussen voel dit asof die ander karakters, soos die hardgebakte sluipmoordenaar gespeel deur Dylan McDermott (van die TV-reeks The Practice) en die geniale dokter, wat deur Melanie Griffith (Working Girl) van alle mense vertolk word, van ’n ander, lawwer fliek afkomstig is. Die poging om ’n ernstige wetenskapsfiksiefliek te maak is bewonderenswaardig, maar dit kort ’n regisseur met meer beheersing en selfvertroue.”

African Safari (O) is ’n dokumentêr in 3D wat jou van dié vasteland se skouspelagtigste tonele wys. Die vervaardigers reis saam met die “leeufluisteraar” Kevin Richardson van die Namib tot die Ngorongorokrater in Tanzanië en die Victoria-waterval.

Frank Heinen van die Nederlandse tydskrif Cinemagazine gee dit drie en ’n half sterre en voel as jy dit nie kan bekostig om ’n safari te onderneem nie, is hierdie fliek ’n goeie plaasvervanger. Die 3D-tegnologie laat jou voel asof jy ’n paar sentimeter weg van ’n olifant se slurp is of dat ’n leeu reguit op jou afpyl. “Dis ’n visueel pragtige film wat natuurliefhebbers sal bekoor,” skryf hy.

- Sandra Visser