Jon Hamm tree weg van Mad Men, die treffer-TV-reeks wat hom bekend gemaak het, met die sportdrama Million Dollar Arm (O), gegrond op ware gebeure.

Jon speel ’n Amerikaanse sportagent wat sukkel om kop bo water te hou nadat die meeste van sy sportster-kliënte afgetree het en hy nie nuwe talent kan ontgin nie. Een aand lê hy mismoedig en TV kyk, en terwyl hy tussen twee kanale rondspring waarvan een Susan Boyle op Britain’s Got Talent wys en die ander ’n krieketwedstryd, kry hy die idee om Indië toe te reis en daar ’n werklikheidsreeks aan te bied om ’n talentvolle jong bouler aan te wys wat hy in ’n bofbalster kan omskep.

Die meeste resensente dink dis ’n goeie fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 62 persent. Hulle beskryf dit “as amper te aangenaam. Million Dollar Arm is ’n gemiddelde drama wat steun op Jon se aansienlike sjarme sonder dat dit iets werklik oorspronklik voeg by Disney se resep vir inspirerende sportflieks.”

Angie Errigo van die Britse fliektydskrif Empire is heelwat gunstiger ingesteld en gee dit vier sterre. Sy voel dis “’n baie snaakse komedie oor verdruktes wat eindelik seëvier. Dis opreg, aangrypend en vol sjarme.”

Maar die Britse rolprenttydskrif Total Film se Kevin Harley is geensins beïndruk nie en gee dit net twee sterre. Hy voel die fliek spring nie een enkele cliché vry nie en herinner te veel aan baie beter rolprente, soos Jerry Maguire (1996) en Slumdog Millionaire (2008).

Die veteraanakteurs Diane Keaton (Annie Hall) en Michael Douglas (Basic Instinct) is die sterre van die romantiese komedie And So It Goes (10T), met die regisseur Rob Reiner (When Harry Met Sally . . ., Stand By Me) aan die stuur.

Michael speel die iesegrimmige eiendomsagent Oren Little wat net een laaste huis wil verkoop sodat hy eindelik kan aftree. Maar dan los sy dwelmslaaf-seun, Luke (Scott Shepherd), sy kleindogter, Sarah (Sterling Jerins van World War Z) – van wie se bestaan Oren nie eens geweet het nie – op sy voorstoep.

Oren het geen benul hoe hy met Sarah moet maak nie, en los haar in die sorg van sy buurvrou Leah (Keaton), terwyl hy probeer aangaan met sy lewe. Maar bietjie-bietjie begin sy hart oopgaan vir Sarah sowel as Leah.

Die meeste resensente dink dis maar flou. Dit kry 38 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en net 18 persent by laasgenoemde. Hulle bevind: “And So It Goes mik na humor, maar met twee talentvolle sterre wat vasgevang is in ’n huiwerige poging deur ’n eens magtige regisseur, loop dit onopsetlik op ’n tragedie uit.”

James Berardinelli van reelviews.net gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Met ’n titel soos And So It Goes sou dit redelik wees om iets generies en vergeetlik te verwag – en dis presies wat hierdie fliek lewer,” skryf hy. “Als omtrent die fliek is so halfhartig soos die titel.”

Joe McGovern van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly gee dit ’n C-, en beskryf dit as “neerdrukkend eentonig”. Al verfrissende pluspunt vir hom is dat Michael vir die eerste keer ’n karakter naby aan sy werklike ouderdom speel en nie meer die middeljarige romantiese held nie.

Die drama If I Stay (10-12OTS) is gegrond op die gelyknamige jeugroman deur Gayle Forman. Die tiener Mia Hall (Chloë Grace Moretz van Kick-Ass) se passie is die tjello, maar as sy dit tot op die hoogste vlak wil nastreef, sal hy haar rockmusikant-kêrel, Adam (Jamie Blackley), moet los. Terwyl sy hieroor tob, beland sy saam met haar gesin in ’n motorongeluk waarin al die ander insittendes omkom. Nou huiwer haar siel tussen die lewe en die dood. Moet sy by haar gesin aansluit of moet sy by Adam bly?

Ook met dié fliek is die meeste kritici nie juis opgemaak nie. Dit kry 37 persent by Rotten Tomatoes. “Al gee Chloë alles en al voeg die storie ’n boeiende bonatuurlike kinkel by die melodramatiese tienerdrama-formule, is If I Stay op die ou end manipulerend pleks van roerend,” is hul gevolgtrekking.

Ian Freer van Empire gee dit twee sterre. “Dis oulik om tieners te sien gesels oor regte goed – ’n liefde vir musiek, familie – pleks van oor vampiere en opofferings (soos in The Hunger Games). Maar selfs gemeet aan tienermaatstawwe het hierdie fliek te veel vals note en die gewoonlik uitstekende Moretz speel toneel soos vir ’n TV-fliek.”

Peter Travers van Rolling Stone ken twee uit vier sterre daaraan toe. “Die fliek se groot trekpleister is Chloë in die hoofrol,” skryf hy. “Sy is ’n talentvolle aktrise wat my van enigiets kan oortuig. Maar nie in dié storie nie, Chloë, nie hierdie keer nie.

“Dis die dokumentêre regisseur R.J. Cutler (The September Issue) se fiksiedebuut, en hy en Moretz bied hierdie nonsens aan asof dit iets beteken. Dit laat my net my oë rol.”

Die aksieriller Drive Hard (16TG) handel oor die voormalige renjaer Peter Roberts (Thomas Jane van Deep Blue Sea) wat nou ’n rustige bestaan as ’n ryskoolinstrukteur voer. Maar toe ontvoer die dief Simon Keller (John Cusack van 2012) hom en dwing hom om sy bestuurder te wees tydens ’n bankrooftog.

Min resensente het al die fliek gesien, maar Leon van Nierop gee dit een ster. “As die twee groot name in die rolprent jou dalk trek, bedwing jou nuuskierigheid en neem liewer ’n goeie DVD uit, want hierdie mistroostige poging stel hoë eise aan ’n mens se geduld en deursettingsvermoë,” skryf hy. “Dit raak soms so ongeloofwaardig, vergesog en goedkoop, jy wil jou geld terugeis.”

– Sandra Visser