Die eerste groot Hollywood-uitreiking kom vandeesweek aan die beurt. RoboCop (10-12O TG) is ’n nuwe weergawe van die gelyknamige wetenskapsfiksiefliek van 1987.

Dis die jaar 2028 en die Amerikaanse korporasie OmniCorp is baanbrekers in robottegnologie. Oorsee word hul robotte al jare deur die weermag gebruik, maar die Amerikaanse bevolking wil nie byt aan gesiglose masjiene wat hulle hiet en gebied nie. Die oplossing kom toe ’n polisieman, Alex Murphy (die Sweedse akteur Joel Kinnaman van die TV-reeks The Killing), van Detroit ernstig beseer word. Net masjiene kan hom aan die lewe hou; daarom stem hy in om die eerste polisiebeampte te word wat tegelyk ’n mens en ’n robot is. OmniCorp dink dis ’n gulde geleentheid om die hele Amerika met robo-polisiebeamptes te bevolk, maar waarop hulle nie gereken het nie, is dat Alex sy eie kop gaan volg.

Die fliek kry gemengde reaksie by kritici. Op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan films gee bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, is daar nog nie genoeg resensies bymekaargemaak vir ’n konsensus nie, maar tans het die fliek 46 persent.

Twee gerespekteerde Britse fliektydskrifte, Empire en Total Film, het uiteenlopende menings oor dié prent se meriete. Eersgenoemde se Chris Hewitt gee RoboCop twee sterre, en hy sê dit steek sleg af teen die oorspronklike. “Tot siens, vlymskerp satire oor die media en groot maatskappye; hallo, lomp dwarsklappe na die Amerikaanse buitelandse beleid. Die oorspronklike se sentrale beweegrede, naamlik ’n robot wat stadigaan onthou wat dit is om ’n mens te wees, word vervang deur ’n melodramatiese storie waarin Kinnaman se flou Murphy nader aan sy vrou probeer kom,” skryf Chris. Total Film se Richard Jordan gee die fliek vier sterre en beskryf dit as ambisieus, opwindend en diepsinnig.

Die eksentrieke Coen-broers se flieks is soos Marmite: óf jy dink hulle is vlymskerp meesters óf hulle laat jou koud en jy kan nie verstaan waaroor die ophef gaan nie. Joel en Ethan se nuutste is Inside Llewyn Davis (13 T), wat handel oor die sukkelende musikant van die titel (Robin Hood se Oscar Isaac) wat in 1961 probeer naam maak as ’n folk-musiekskrywer in Greenwich Village, New York, maar die meeste van sy probleme is deur sy eie toedoen.

Die meeste resensente is mal oor die fliek en dit kry 94 persent op Rotten Tomatoes. Die konsensus is dis “slim, snaaks en innig melancholies. Met Inside Llewyn Davis is die Coen broers op hul stukke.” Jason Best van Movietalk sê dit bevat “diepsinnige waarnemings” en beskryf dit as “roerend en subtiel snaaks”. Empire se Dan Jolin gee dit vyf sterre en skryf dis “pragtig, opreg en heeltemal boeiend”.

Ná Romeo + Juliet (1996), Baz Luhrmann se uiters treffende verwerking van William Shakespeare se bekendste toneelstuk, sal enige daaropvolgende weergawe omtrent moet uithaal en wys om ’n indruk te maak. Die nuutste poging, Romeo & Juliet (OT G), se regisseur, die Italianer Carlo Calei, het besluit om nie eens met Baz se gewaagde moderne interpretasie mee te ding nie en keer terug na die tradisionele milieu van Middeleeuse Italië en akteurs getooi in weelderige kostuums.

Die adellike Montagues en Capulets haat mekaar al geslagte lank, maar dit keer nie die jong Juliet Capulet (True Grit se Hailee Steinfeld) om verlief te raak op die aantreklike Romeo Montague (Douglas Booth van LOL) nie. Maar sal hul families hulle ooit toelaat om saam en gelukkig te wees?

Carlo ontduik dalk vergelykings met Baz se fliek, maar ongelukkig herinner sy poging kritici te veel aan ’n ander geliefde en bekende weergawe, Franco Zefirelli se Romeo & Juliet uit 1968 met Olivia Hussey. Terwyl die destydse fliek geloof is vir die amper tasbare passie tussen die verliefdes, is die nuwe fliek glo futloos.

Op Rotten Tomatoes kry dit net 21 persent en die konsensus is: “Shakespeare se klassieke romanse kry ’n so-so verwerking wat passie en energie kort.” Todd McCarthy van The Hollywood Reporter sê die jong akteurs is nie opgewasse vir die taak nie, en dat die ouer akteurs, soos Paul Giamatti as Broer Laurence en Damian Lewis as Lord Capulet, hulle heeltemal in die skadu stel. “Calei plaas baie mooi beelde op die skerm, maar skep geen opwinding in óf die belangrike romantiese tonele óf in die swaardgevegte nie,” skryf Todd. Matt Mueller van Total Film is ’n bietjie beter gesind en gee dit drie sterre. Hy sê dis “’n heeltemal aanvaarbare poging, maar sal jou nie bybly soos Luhrmann s’n nie”.

Die regisseur Jason Reitman is bekend vir sy droë komedies soos Thank You for Smoking (2005) en Up in the Air (2009), maar sy jongste fliek, Labor Day (10-12OT), is ’n perd van ’n ander kleur. Kate Winslet (Titanic) speel Adele, ’n brose, pas geskeide vrou wat ’n kluisenaarsbestaan saam met haar 12-jarige seun Henry (Gattlin Griffith) voer. Toe daag ’n moordenaar (Josh Brolin van Men in Black 3) op by hulle wat ontsnap het ná 20 jaar in die tronk en dwing hulle om hom skuiling en kos te gee. Stadigaan vorm daar ’n band tussen die drie.

Die fliek het gemengde reaksie by kritici ontlok. Dit kry 51 uit 100 op Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en net 32 persent op Rotten Tomatoes. Die konsensus is dat “Kate en Josh beslis jou aandag boei, maar net nie die fliek kan red van die ondeurdagte intrige se vervelige melodrama nie”. Tog was Empire en Total Film se resensente mal daaroor en gee dit albei vier sterre. Eersgenoemde se Dan Jolin noem dit “’n teer, nostalgiese, hartstogtelike familiedrama wat ook onderliggend borrel met die bedreiging en spanning van naderende gevaar. Labor Day wys ’n nuwe kant van Jason, en ons hou daarvan.” Total Film se James Mottram beskryf dit as “’n knap, outydse drama van ’n rypwordende regisseur. Maar siniese kykers moet liewer verbyhou.”

The Best Man Holiday (16 DTS) is die opvolg op The Best Man (1999). Daarin was Harper Stewart (Private Practice se Taye Diggs) senuweeagtig op pad na sy beste vriend se troue omdat hy bekommerd was sy ou vriende kry sy roman in die hande wat op hul lewe gegrond is. Die boek veroorsaak dan ook konsternasie. Veertien jaar later herenig die vriendekring eindelik weer vir die Kersvakansie, maar moenie dink almal het vergeet en vergewe nie. Ook met Nia Long, Eddie Cibrian en Terrence Howard.

Die meeste resensente hou van die fliek. Dit kry 59 uit 100 op die webtuiste Metacritic. Rotten Tomatoes gee dit 67 persent en die konsensus is dat “The Best Man Holiday dit regkry om jou te laat lag met eenvoudige humor. Dit skep oortuigende drama uit ’n uiters alledaagse intrige.” Brian Viner van die Britse Daily Mail gee dit drie sterre en skryf: “Die dialoog is soms baie skerp, die toneelspel is goed en al wat ons moet sluk, is ’n reuse klomp sentimentaliteit.” Total Film se Curtis Woloschuk is minder beïndruk en gee dit twee sterre. “Die stemming swaai van kras na sentimenteel tot terminale siekte eindelik die aksie op ’n melodramatiese moeras laat afstuur,” skryf Curtis.

-Sandra Visser