In die laaste paar jaar het Jude Law (Sherlock Holmes) wegbeweeg van die mooiseunrolle wat hy in sy jeug gespeel het en pak hy meer diverse projekte aan. In Black Sea (13T) speel hy ’n kommersiële duikbootvaarder wat summier in die pad gesteek word al het hy sy lewe aan die see gewei ten koste van sy huwelik. Dan hoor hy van ’n versonke duikboot vol Nazi-goud wat glo op die bodem van die Swartsee lê en kry ’n uiteenlopende groep matrose bymekaar om die skat te gaan soek.

'Dit is ’n uitstekend verfilmde riller met klemmende spanning en ’n treffende kontemporêre tema.'

Die meeste resensente dink die fliek is baie goed. Dit kry 82 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk.

Hulle bevind: “Black Sea is dalk nie uiters diepsinnig nie, maar te danke aan die regisseur Kevin Macdonald (Touching the Void) se oordeelkundige regie en ’n magnetiese vertolking deur Jude Law bly dit ’n doeltreffende gehalteriller.”

Die Britse tydskrif Empire gee dit vier sterre.

“Al staan die fliek seker onvermydelik in die skadu van ander flieks in die subgenre wat handel oor goudkoors soos The Treasure of the Sierra Madre (1948), is dit ’n uitstekend verfilmde riller met klemmende spanning en ’n treffende kontemporêre tema.”

As jy op soek is na ligter vermaak, sal A Royal Night Out (10-12OD) dalk die regte fliek vir jou wees. Soos Shakespeare in Love (1998) en Becoming Jane (2007) fokus dit op ware gebeure, maar waar daar leemtes in die feite is, kleur die draaiboekskrywer vrolik in wat kon gebeur het. Dis Mei 1945 en die einde van die Tweede Wêreldoorlog lei tot vreugdevolle vierings oral in Europa.

Die Britse koningspaar (Emily Watson van War Horse en Rupert Everett van My Best Friend’s Wedding) se dogters, prinsesse Elizabeth (Sarah Gadon van Dangerous Method) en Margaret (Bel Powley), wil ook deel wees van die opwinding en smeek hul ouers om hulle vir een aand met die gewone mense te laat meng (op daardie stadium was die koninklikes se gesigte nog nie so oorbekend aan meeste mense nie aangesien daar nie soos vandag ’n oorvloed foto’s van hulle in die media beskikbaar was nie).

Dinge ruk egter handuit en die twee prinsesse word van mekaar en hulle militêre oppasser geskei. Die meeste kritici dink die rolprent is baie goed. Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver kry die prent 80 persent gegrond op 30 stemme. Die Britse fliektydskrif Total Film se Jamie Graham gee dit drie sterre.

'Die fliek is effens styf en stokkerig.'

“Die fliek is effens styf en stokkerig en die regisseur, Julian Jarrold (wat ook Becoming Jane gemaak het), sukkel om genoeg opwinding te skep. Bewyse van ’n klein begroting steek ook kop uit, maar Gadon se sjarme sal jou oorrompel. Die fliek beloof om vanjaar se The King’s Speech (2010) te wees.”

In die komediedrama While We’re Young (13T) speel Ben Stiller (Zoolander) en Naomi Watts (King Kong) ’n kinderlose middeljarige paartjie, Josh en Cornelia, wie se effe vervelige lewens weer opwindend raak toe hulle met die jonger paartjie Jamie (Adam Driver van die TV-reeks Girls) en Darby (Amanda Seyfried van Les Misérables) bevriend raak. Josh sukkel al 10 jaar om sy dokumentêre rolprent te voltooi en dinge trek suur tussen hom en Jamie toe die jonger man se eerste dokumentêr aandag begin geniet. Kritici is oor die algemeen baie beïndruk met die fliek. By die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomates werk, kry dit 76 uit 100 en laasgenoemde gee dit 84 persent. Hulle beskryf dit as “aangrypend en uiters eerlik. Met While We’re Young lewer die skrywer-regisseur Noah Baumbach (The Squid and the Whale) van sy snaaksste dialoog deur middel van sy innemendste karakters.”

'Dis ’n vinnige, slim en snaakse blik op die jaloesie tussen generasies.'

Empire se Ian Freer gee dit vier sterre. “While We’re Young is die beste 2015-fliek in Woody Allen se styl; dis selfs beter as die ikoniese regisseur se eie pogings,” skryf hy.

“Dis ’n vinnige, slim en snaakse blik op die jaloesie tussen generasies, en Ben en Adam is uitstekend.”

Die aktrise Helen Hunt (Mad about You) was die laaste paar jaar stil, maar keer terug na die silwerdoek met Ride (13DT), waarin sy die hoofrol speel en ook die regie en die draaiboek behartig het.

Helen speel die ma van ’n jong man (Brenton Thwaites van The Giver) wat besluit hy sien nie meer die nut van studeer nie en die pad Kalifornië toe vat om ’n branderplankryer te word. Sy oorbeskermede enkelma besluit egter om saam te gaan en ook die branders te ry in ’n poging om ’n nouer band met hom te vorm. Die meeste resensente dink die fliek is maar vrotterig. Rotten Tomatoes gee dit 48 persent en die konsensus is: “Ride herbevestig Helen se akteursvernuf, maar toon dat sy nog tyd nodig het om as regisseur te ontwikkel.” Brad Wheeler van die Kanadese koerant The Globe and Mail gee die rolprent twee uit vier sterre. “Die karakters wat deur die ondersteundende akteurs Luke Wilson (die branderplankry-instrukteur) en David Zayas (die chauffeur) gespeel word, is interessanter as die hoofkarakters,” skryf hy.

'Die ma en seun is moeilik om mee te identifiseer.'

“Die ma en seun is moeilik om mee te identifiseer en die seun se karakter is te tweedimensioneel.”

In die misdaadriller Cut Bank (16TG) speel Liam Hemsworth (The Hunger Games) Dwayne, ’n jong man wat saam met sy meisie (Teresa Palmer van Warm Bodies) graag wil wegkom uit sy afgeleë tuisdorpie, Cut Bank. Toe Dwayne ’n wrede misdaad aanskou, dink hy dis ’n manier om geld te maak deur die misdadigers af te pers, maar gou-gou besef hy hy is nie opgewasse teen die skurke nie. Die veteraanakteurs Bruce Dern (Nebraska), Billy Bob Thornton (Sling Blade) en John Malkovich (Red) is ook in die rolverdeling. Die meeste resensente dink die fliek is maar flou. Metacritic gee dit 44 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 32 persent. Hulle bevind: “Cut Bank bevat tipies uitstaande werk deur betroubare akteurs, maar hul spel raak verlore in ’n vervelige moeras van voorspelbaar afgewaterde misdaadrillerclichés.”

'’n Uitdrukkinglose Liam Hemsworth help ook nie juis nie.'

Die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly se Chris Nashawaty gee dit ’n C.

“’n Uitstekende groep onvoorspelbare akteurs se talente word vermors in hierdie saai, afgewaterde riller. ’n Uitdrukkinglose Liam Hemsworth help ook nie juis nie,” skryf hy.

Die Christelike drama God’s Not Dead (7-9O) handel oor ’n eerstejaarstudent, Josh (Shane Harper), wat in ’n professor (Kevin Sorbo van die TV-reeks Hercules: The Legendary Journeys) se filosofieklas beland. Weens sy pynlike verlede wil die professor die onderwerp van geloof vermy en sê vir die studente om op ’n papier te skryf “God is dood” en dit dan te onderteken sodat hulle kan aangaan met ander onderwerpe. Josh is egter nie bereid om dit te doen nie en die professor daag hom uit om te bewys dat God wel bestaan.

'Selfs gemeet aan die lae standaarde van die Christelike filmbedryf is God’s Not Dead ’n ramp.'

Die teikengehoor sal sekerlik dié fliek waardeer, maar die meeste resensente dink dis swak. Rotten Tomatoes het nog nie ’n konsensus bereik nie, maar in dié stadium gee hulle dit net 16 persent gegrond op 19 stemme.

Todd VanDerWerff van avclub.com gee die film ’n D-. “Selfs gemeet aan die lae standaarde van die Christelike filmbedryf is God’s Not Dead ’n ramp,” skryf hy.

“Die fliek is nie ontwerp om ’n boodskap oor te dra nie, maar om die stereotipes te versterk waaraan die verkose gehoor glo. Die noemenswaardigste oomblikke kom van Kevin Sorbo van alle mense, wat die fliek se booswig speel. Sorbo vertolk die rol van ’n nare mens, maar geniet sy karakter se bose optrede en verleen selfs ’n paar oomblikke van hartseer en berou aan die professor se storie, wat dit net makliker maak om meer met hom eerder as die fliek se protagonis te identifiseer.

“Josh en die film se uitgangspunt waag dit nie om in debat te tree met die professor se standpunte nie. Enige geldige kritiek van die Christendom word geïgnoreer ten gunste van die idee dat alle ateïste net haters is. Die fliek stel voor dat die ergste vorm van vervolging nie is om te sterf vir jou geloof nie, maar om gedwing te word om te aanvaar dat ander mense dalk iets anders glo.”

Sandra Visser