’n Lekker fliek wat dié week begin draai vir die hele gesin is Dolphin Tale 2 (O).

Dis die tweede deel van die ware verhaal van Winter die dolfyn wat haar stert verloor het in ’n krapstrik en deur die personeel van die Clearwater-akwarium gered en ’n prostetiese stert gegee is.

Sy kry ’n speelmaat toe die dolfyn Mandy ook gered word nadat sy op ’n strand uitgespoel het en erg deur die son gebrand word. Maar toe die bejaarde dolfyn Panama skielik doodgaan, wil Winter nie meer eet nie en begin sy wegkwyn. Kan haar mensvriende, die tiener Sawyer (Nathan Gamble) en die wetenskaplikes drs. Clay Haskett (Harry Connick jr. van Hope Floats) en Cameron McCarthy (Morgan Freeman van The Shawshank Redemption), haar red?

'Dis ’n onskadelike gesinsdrama met sy hart op die regte plek.'

Die meeste resensente dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 70 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Nes sy voorganger, bied Dolphin Tale 2 oulike dieremaniere en innemende, outydse drama wat die hele gesin kan geniet.”

Anna Smith van die Britse filmtydskrif Empire gee dit drie sterre. Sy voel dis dalk “’n bietjie lank en onsamehangend, maar behoort enigeen op te beur”.

Jason Clark van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly is ’n bietjie minder beïndruk en gee dit ’n C+. “Dis ’n onskadelike gesinsdrama met sy hart op die regte plek, maar die welverdiende punt wat die fliek oordra oor diereregte en bewaring sou makliker wees om te sluk as die onophoudelike sentimentaliteit nie in jou keel afgedruk word nie,” skryf hy.

Die vorige James Bond, Pierce Brosnan, keer terug na aksieflieks met The November Man (16 TG). Dis gegrond op ’n roman in die gelyknamige reeks deur Bill Granger en handel oor ’n voormalige CIA-agent Peter Devereaux (Pierce) met die kodenaam November Man wat nou ’n rustige bestaan in Switzerland voer. Maar natuurlik word hy gevra om ’n laaste sending te onderneem en moet hy ’n waardevolle getuie (Olga Kurylenko van Quantum of Solace) beskerm. Maar toe hy deur sy CIA-protégé (Luke Bracey) geteiken word, besef Peter als is nie pluis nie en probeer hy uitvind of daar ’n verraaier in die CIA se geledere is. Die meeste resensente is nie veel beïndruk met dié poging nie. Dit kry slegs 36 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “The November Man bevat ’n hele paar van die bestanddele wat nodig is vir ’n bogemiddelde spioenasieriller, wat dit net teleurstellender maak dat die fliek terugval op vervelige genre-clichés.”

'The November Man is ’n flou en teenstrydige spioenasieprent.'

Ben Kendrick van screenrant.com gee dit twee sterre. “Nes die fliek se protagonis, is The November Man ’n flou en teenstrydige spioenasieprent wat struikel in sy poging om die ingewikkelde (en moreel grys) wêreld van geheime agente te ondersoek,” skryf hy.

James Berardinelli van reelviews.net gee dit twee uit vier sterre. “Brosnan het ’n indrukwekkende teenwoordigheid en hy word omring deur ’n groep bekwame akteurs, maar daar is min wat hulle met die gegewe kan doen,” skryf hy.

“Daar’s skort niks juis met The November Man nie, maar daar is ook niks juis reg daarmee nie. Dis onnodig en afgewater.”

As jy kans sien vir ’n wetenskapsfiksiedrama wat jou sal uitdaag, kan jy I Origins (13 TS) gaan kyk.

Dis die regisseur Mike Cahill se tweede prent, ná Another Earth (2011), wat baie lof verdien het. Die ster en medeskrywer van laasgenoemde, Brit Marling, is ook in I Origins te sien.

Die molekulêre bioloog dr. Ian Gray (Michael Pitt van die TV-reeks Boardwalk Empire) en sy vennoot, Karen (Brit), bestudeer die evolusie van die oog. Intussen ontmoet en raak hy verlief op ’n enigmatiese vrou (Astrid Bergès-Frisbey van Pirates of the Caribbean: On Stranger Tides) en dit spoor hom aan om ’n opspraakwekkende ontdekking te doen wat die wêreld kan verander. Die meeste kritici dink die fliek is oukei. Dit kry 57 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 53 persent en die konsensus is: “Mike Cahill bly ’n interessante en talentvolle rolprentvervaardiger, maar met dié oneweredige fliek oortref sy ambisie sy vermoëns.”

'Daar is ’n hele paar aangrypende idees versteek.'

Geoffrey Macnab van Brittanje se The Independent gee dit twee sterre. Volgens hom hanteer die regisseur ’n interessante onderwerp op ’n vervelige manier.

“Daar is ’n hele paar aangrypende idees versteek in Mike se draaiboek, maar hy sou ’n Stanley Kubrick (2001: A Space Odyssey) of ’n Jonathan Glazer (Under the Skin) moes wees om reg daaraan te laat geskied,” skryf hy.

In teenstelling gee Matt Glasby van die Britse rolprenttydskrif Total Film die fliek vier sterre en beskryf dit as “treffend, ambisieus en iets waarvan nie almal sal hou nie. Cahill se buitengewone tweede fliek is propvol groot, uitdagende idees.”

In die Deense rolprent The Hunt (16 TGS) speel Mads Mikkelsen (van die TV-reeks Hannibal) vir ’n slag nie ’n psigotiese skurk nie, maar ’n gewone kleuterskoolonderwyser wat ná sy egskeiding probeer om aan te gaan met sy lewe op sy dorpie waar almal mekaar ken. Maar dan beskuldig ’n kind hom valslik daarvan dat hy haar onsedelik aangerand het en sy gemeenskap draai teen hom. Resensente is uiters beïndruk deur dié fliek. Dit kry 93 persent op Rotten Tomatoes, en hulle bevind: “The Hunt word geanker deur Mads se simpatieke vertolking en vra moeilike vra met die moed om die antwoorde reguit in die oë te kyk.”

'Dis rateltaai en vol pragtige toneelspel.'

Empire se David Hughes gee dit vier sterre en beskryf dit as “rateltaai en vol pragtige toneelspel. Die regisseur, Thomas Vinterberg, se maatskaplike drama is uiters tydig.”

Aan die ander kant gee James Adams van die Kanadese koerant The Globe and Mail dit twee en ’n half uit vier sterre. “Soms misluk ’n fliek met ’n sterk emosionele agenda daarin om aan die vervaardigers se ambisie te voldoen omdat die aksie en/of die karakters te dubbelsinnig is,” skryf hy.

“Maar The Hunt ly aan ’n gebrek aan dubbelsinnigheid. Mikkelsen se Lucas word aangebied as ’n uiters deugdelike persoon en bly min of meer so vir die fliek se 111 minute. En ons weet ook van die begin af dat die dogtertjie wat hom beskuldig, lieg. Van daar af beeld die fliek banaal uit hoe giftig ’n geskimp en ’n geskinder kan wees.”

Rolprentvervaardigers wil net nie vampiere met rus laat nie, en nog minder die oer-bloedsuier wat ons fassinasie met hulle in letterkunde begin het, Dracula.

In Dracula Untold (13) word die karakter se oorsprong weer met dié van die bloeddorstige 15de-eeuse Oos-Europese prins Vlad Tepes vermeng.

Die Transsilvaniese prins Vlad (Luke Evans van Fast & Furious 6) se vreedsame heerskappy word bedreig deur sultan Mehmed II (Dominic Cooper van Mamma Mia!), wat daarop aandring dat die Transsilvaniërs 1 000 seuns, onder wie Vlad se eie kind, aan sy weermag afstaan. Om sy mense te red gaan soek Vlad die hulp van ’n towenaar (Charles Dance van die TV-reeks Game of Thrones) en dié verander hom in ’n wese met superkragte. Maar hy dra die vloek van onlesbare bloeddorstigheid. Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar tot dusver kry dit 20 persent by Rotten Tomatoes gegrond op 15 resensies. James Mottram van The List gee dit twee sterre. “Dis ’n onindrukwekkende debuut deur die regisseur Gary Shore,” skryf hy.

'Die spesiale effekte voel net nie, wel, spesiaal nie.'

“Die spesiale effekte voel net nie, wel, spesiaal nie, en dié wat ’n bangmaakfliek verwag, sal uiters teleurgesteld wees. Dis veels te ernstig en sonder ’n sweempie humor. Ook voel die storie asof dit tot op die been gestroop is en niks om die lyf het nie. Die vervaardigers stel dieselfde gehoor as Bram Stoker’s Dracula (1992) in hul visier, maar haal nooit heeltemal die paal nie. Die akteurs slaan hulle tande in maar die gevolg is verbasend bleek om die kieue.”

- Sandra Visser