Die regisseur Darrel James Roodt, wat al verskeie genres getakel het, van internasionale flieks (Cry, the Beloved Country), tot intense dramas (Yesterday) en romanse (Jakhalsdans), is aan die stuur van sake met Alles Wat Mal Is (7-9O).

Iewers tussen trou en kinders grootmaak het Helena Joubert (Erica Wessels van Erfsondes) haarself verloor. Sy en haar man, Gustav (Louw Venter van Swartwater), se eens passievolle verhouding is tot niet, haar joernalistieke drome lê aan skerwe en haar enigste vriendin is haar huishulp, Miriam (Meme Ditshego van Kompleks). Terwyl haar lewe ál chaotieser raak, besef Helena Gustav is besig om slegte sakebesluite te neem te danke aan die invloed van ’n sjarmante belegger (Christina Storm) wat nie net sy maatskappy wil hê nie, maar hom ook wil inkatrol. Maar gaan hy sy vrou glo, of net dink sy is jaloers?

Die Burger se Laetitia Pople gee dit drie sterre. “Alles Wat Mal Is hou die aandag – dit is ’n realistiese greep uit die lewe van ’n jong ma,” skryf sy. “Dit is holderstebolder, maar sonder om ’n greintjie waarheid in the boet.” Stephen Aspeling van spling.co.za gee dit ses uit 10. Hy prys Erica se oortuigende en vasberade spel en voel dat die fliek “meestal werk, nie as ’n skreeusnaakse komedie nie, maar as ’n ligweg amusante, opregte en lewendige emosionele komedie met oomblikke van romanse en drama.”

In vanjaar se tweede fliek wat om die mitologiese held draai, speel Dwayne Johnson (The Scorpion King) die titelkarakter in Hercules (13G). Die storie begin waar die halfgod reeds sy 12 take voltooi het en nou saam met ’n groep krygers antieke Griekeland deurkruis en hul dienste verskaf aan enigeen wat kan betaal. Maar dinge raak ingewikkeld toe Lord Cotys (John Hurt van Alien) hulle vra om sy weermag op te lei om die bloeddorstige krygsheer Rhesus (Tobias Santelmann) teen te staan en Herkules-hulle meer betrokke raak as wat hulle wou.

Die fliek kry baie beter resensies as vroeër vanjaar se The Legend of Hercules met Kellan Lutz. Op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken, en ’n gemiddelde uitwerk, kry dit 62 persent. Hulle bevind: “Hercules het Brett Ratner (Tower Heist, X-Men: The Last Stand) as regisseur en Dwayne Johnson wat sy spiere bult in ’n lendedoek – en lewer presies wat enige redelike persoon sal verwag as hulle dié beskrywing lees.” Die Britse filmtydskrifte Empire en Total Film gee dit albei drie sterre. Eersgenoemde se Dan Jolin skryf: “Dit doen soveel soos wat die lae ouderdomsbeperking sal toelaat. Hercules is lewendige, rowwe, lawwe (op ’n goeie manier) vermaak; daarom kan ons die lomp vertelstyl en foute met kontinuïteit maklik vergewe. Met dié poging is Brett en Dwayne vasbeslote om jou te vermaak, niks meer nie, niks minder nie. En dit is presies wat hulle doen.” Jamie Graham van Total Film meen: “Brett lewer spoedige en prettige opwinding wat (die regisseur) Renny Harlin se moeisame The Legend of Hercules maklik klop.”

Met Chef (13DT) keer die akteur en regisseur Jon Favreau (Iron Man) terug na die kleinskaalse komediedramas soos Swingers (1996), waarmee hy sy loopbaan begin het. Jon speel die sjef Carl Casper van Los Angeles. Hy verloor sy werk nadat ’n snobistiese kosresensent sy geregte slegsê en hy ’n vloermoer gooi wat soos ’n veldbrand op die internet versprei. Sy eksvrou, Inez (Sofía Vergara van die TV-reeks Modern Family), dink Carl bring nie genoeg tyd saam met hul seun, Percy (Emjay Anthony), deur nie en nooi hom Miami toe. Daar vra sy Marvin (Robert Downey jr.), haar ander, ryk eksman om Carl ’n koswaentjie te help koop en Percy, Carl en sy lawwe sous-sjef-vriend (John Leguizamo van Moulin Rouge!) vaar die strate in op soek na klante.

Die meeste kritici hou van die fliek. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 68 uit 100 en laasgenoemde gee dit 88 persent. Die konsensus is: “Chef se sjarmante akteurs en skerp, snaakse draaiboek dra genoeg skop by om hierdie goedvoel-komedie ’n heerlike dog effe oorbekende plesiertjie te maak.” Empire se Angie Errigo gee dit drie sterre. “Dit is veilig, effe te gladdebek en Carl se aanhoudende onvermoë met sy kind skep ’n bietjie te veel onnodige drama,” skryf sy. “Nietemin sal dit jou laat juig en is dit uiters amusant, oulik en aangenaam.” Die gesiene Britse kritikus Mark Kermode gee dit ook drie sterre. “Al bevat dit heelwat herverhitte kosfliek-clichés, glip Chef ’n paar smaaklike bykosse in by die hoofgereg van rys, vleis en aartappels,” skryf hy. “Leguizamo se sous-chef-stoutighede verleen woema aan sy vriendskap met Favreau se ordentlike ou, terwyl Robert baie met min in sy kameerol doen.”

Die omstrede Deense regisseur Lars von Trier (Dancer in the Dark) steek weer grense oor met Nymphomaniac: Volume I (18TGSN). ’n Selferkende seksverslaafde (Charlotte Gainsbourg van I’m Not There) wat erg aangerand is, word in ’n stegie deur ’n ouer man (Stellan Skarsgård van die Thor-flieks) gevind. Hy neem haar na sy huis en terwyl hy haar versorg, vertel sy hom haar lewensverhaal.

Die meeste resensente is beïndruk met die fliek. Dit kry 75 persent op Rotten Tomatoes, waar dit beskryf word as “vol donker humor, vreesloos en selftevrede. Met Nymphomaniac tart Lars kykers weer met oorgawe.” Tom Long van die koerant The Detroit News gee dit ’n B+ en skryf: “Die fliek is mal. Dis snaaks, dis wellustig, dis ontstellend, dis vreemd, dis uiters grafies, dis wreed. En as jy dit alles kan hanteer, is dit nogal goed.” Chris Sawin van examiner.com gee dit drie sterre. “Die fliek wys ’n fassinerende nuwe perspektief van ’n verslaafde wat nog nooit behoorlike behandeling gekry het nie. Dit stroop seks van enige romanse en intimiteit en oorlaai die daad met suiwer wellus.”

Adult World (16 DT) klink dalk na nog ’n seksbehepte fliek, maar dis eintlik ’n komediedrama wat slegs in ’n sekswinkel afspeel. Amy (Emma Roberts van We’re the Millers) het pas graad gevang en is vas oortuig sy gaan ’n bekende digter word. Maar daar is nie baie geld in poësie nie en Amy moet weer by haar ouers intrek en hulle dwing haar om werk te soek. Sy vat die eerste die beste werk en word ’n assistent in ’n sekswinkel. In ’n desperate poging om haar gedigte te laat publiseer begin sy die bekende digter Rat Billings (Jon Cusack van 2012) lastig val tot hy instem om haar te mentor. Sy raak ook bevriend met die winkel se jong bestuurder, Alex (Evan Peters van X-Men: Days of Future Past), ’n fopdosser genaamd Rubia (Armando Riesco) en die bejaarde paartjie (Cloris Leachman en John Cullum) wat die winkel besit.

Die meeste resensente dink die fliek is middelmatig. Dit kry 61 uit 100 op Metacritic en Susan Wloszczyna van rogerebert.com gee dit twee sterre. “Cusack se eiesoortige hantering van die nors digter bied die geleentheid vir die fliek om ’n punt te maak oor jeugdige ambisie en middeljarige ontnugtering, maar Adult World lewer nooit iets meer as net nog ’n selfbejammerende blik op gegradueerdes se swaarkry in die koue, nare 21ste eeu nie.” Bruce Ingram van die Chicago Sun-Times gee dit drie sterre. “Al is die meerderheid van die fliek voorspelbaar en laf, het dit tog ’n paar slim, snaakse en pynlike goed te sê oor die begeerte om kuns te skep versus die begeerte om daarvoor bekendheid te werf.”

Behaving Badly (16DTNS) is nog ’n tienerkomedie waarin ’n skaam hoërskoolseun (Nat Wolff van The Fault in Our Stars) verlief is op ’n meisie (Selena Gomez van die TV-reeks The Wizards of Waverly Place) en enigiets sal doen om haar aandag te trek. Ouer, gevestigde akteurs soos Mary-Louise Parker (Red), Elisabeth Shue (CSI) en Dylan McDermott (The Practice) gooi naam weg in dié fliek.

Dis nog nie wyd geresenseer nie, maar dié wat al die fliek gesien het, dink dis vrot. Dit kry 21 uit 100 gebaseer op ses resensies en tot dusver ’n skokkende nul op Rotten Tomatoes, waar die 20 resensies wat vir ’n konsensus nodig is, nog nie ingesamel is nie. Stephen Dalton van The Hollywood Reporter skryf: “Hierdie dol klugspel is opgeruimd en platvloers, maar het ’n gevaarlike gebrek aan skerpsinnigheid, sjarme of logika. ’n Onaangename sweempie kinderagtige manlike fantasie hang swaar oor Behaving Badly. Dis gewoon neerdrukkend om te sien hoe bekroonde en talentvolle aktrises soos Parker en Shue tot hierdie vlak moet daal: Hulle speel desperate huisvroue of kwylende seksverslaafdes, al laat hulle dit na groot pret lyk. Hierdie kru fliek laat ’n nare nasmaak.”

Sandra Visser