Vandeesweek begin die langverwagte sewende fliek in die X-Men reeks, X-Men: Days of Future Past (10-12OGT). Hierdie opvolg verenig die akteurs van die oorspronklike trilogie en die akteurs wat in X-Men: First Class (2011) dieselfde karakters as jong mense gespeel het.

In 2023 het robotte genaamd Sentinels mutante amper heeltemal uitgewis en verdruk ook gewone mense aangesien hul gene na mutantekinders kan lei. Twee van die wêreld se magtigste mutante, Professor X (Patrick Stewart), die leier van die X-Men, en Magneto (Ian McKellan) beraam ’n desperate plan om te keer dat dié aaklige situasie ooit tot gestand kom: Stuur Wolverine (Hugh Jackman) se bewustheid terug na sy liggaam in 1973 sodat hy die jonger Professor X (James McAvoy) en Magneto (Michael Fassbender) kan waarsku wat die toekoms inhou en hulle dit kan voorkom. Maar kan die noodlot werklik verander word?

Die goeie nuus vir superheld- en X-Men-aanhangers is dat dit blykbaar ’n uitstekende fliek is: Die meeste kritici is gaande daaroor. Dit kry 95 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. Hulle bevind: “X-Men: Days of Future Past kombineer die beste elemente van die reeks om ’n bevredigende, opwindende aflewering te skep wat tel as een van die franchise se bestes”. Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film gee dit albei vier sterre. Eersgenoemde se Nick de Semlyen skryf: “Daar is so baie aan die gang en alles gebeur so vinnig dat ’n paar dele van die storie ondervoed voel. Maar wat ons wel kry, is meestal fantasties. Dis die beste X-Men-fliek sedert die tweede een.” Kevin Harley van Total Film sê: “Met styl, warmte en opwinding slaag (die regisseur Bryan) Singer daarin om reg te laat geskied aan die ambisieusste X-Men-fliek nog.”

Die omstrede biografiese fliek Grace of Monaco (O) begin ook vandeesweek. Nicole Kidman (Moulin Rouge!) vertolk die rol van Grace Kelly, die Amerikaanse aktrise wat gedink het sy betree haar eie sprokiesverhaal toe sy in 1956 met Prins Rainier (Tim Roth van Pulp Fiction) van Monaco trou. Maar Grace het glo hard aarde toe gekom toe sy besef haar man wil haar hele lewe beheer en sy ook haar loopbaan moes prysgee. Grace se kinders, onder wie die huidige prins van Monaco, Albert II, het uitgevaar teen wat hulle sê ’n onakkurate uitbeelding van die huwelik is en die regisseur, Olivier Dahan (La Vie en Rose), het die fliek onteien nadat die vervaardiger Harvey Weinstein besluit het om sommer self in te spring en dit na sy smaak te herredigeer.

Net soos haar goeie vriendin en landgenoot Naomi Watts verlede jaar met Diana, blyk dit Nicole het ook ’n bloutjie geloop met haar biografiese drama oor ’n blonde prinses. Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar dié wat dit wel gesien het, is glad nie beïndruk nie. Gebaseer op 21 resensies kry dit sover slegs vyf persent op Rotten Tomatoes. Dave Calhoun van Time Out gee dit twee sterre en skryf: “Min word aan ons verbeelding of intelligensie oorgelaat. Karakters rammel feite af en moet kort-kort aan die kyker verduidelik wat presies aan die gang is. Ons aanskou ook ’n optog bekende historiese figure in klein rolletjies, maar hulle lei net die aandag af. Grace of Monaco kon kitsch pret gewees het, maar voel te veel soos ’n flou, verouderde TV-fliek.” Richard Corliss van Time beskryf dit as “dikwels laf, maar nooit lewendig nie. Grace of Monaco misluk as ’n waardige drama in die BBC-tradisie en as ’n vermaaklike skinderstorie wat ons agter-die-skerms-toegang gee.”

In Walk of Shame (13T) kry die talentvolle aktrise Elizabeth Banks (The Hunger Games) ’n slag die hoofrol. Sy speel Meghan Miles, ’n aspirant-TV-nuusleser van Los Angeles wat verpletter is toe sy uitvind sy het nie haar droomwerk gekry nie. Sy gaan hou partytjie saam met haar vriende om van alles te vergeet en word die volgende oggend in ’n vreemdeling (James Marsden van X-Men) se bed wakker. Toe sy na haar stemposboodskappe luister, is daar een wat haar laat weet die werk is tog hare, mits sy teen vyfuur die middag op kantoor kan wees. Maar met geen idee waar sy is nie, geen motor, geld of werkende foon nie, moet Megan alles in haar vermoë doen om daar uit te kom.

Ongelukkig vir Elizabeth dink die meeste resensente die fliek is flou. Dit kry slegs 13 persent op Rotten Tomatoes en die konsensus is dis “onsamehangend, nie snaaks nie en neerhalend teenoor vroue. Walk of Shame se titel is uiters gepas.” Scott Foundas van Variety meen “nie eens Elizabeth se talente red hierdie veragtelike, onsnaakse poging om ’n prettige klugspel te skep nie”. Christy Lemire van rogerebert.com gee dit een ster. “Al merkwaardige ding van Walk of Shame is hoe dit die oulike Banks afstootlik maak,” skryf Christy. “Sy gee alles en is bereid om in elke lawwe toneel tot uiterstes te gaan. Maar haar karakter is meer ’n versameling oppervlakkige, geykte idees as ’n regte mens, wat dit so te sê onmoontlik maak om vir haar om te gee. Dis ’n neerdrukkende vermorsing van haar komiese talente en sjarme.”

Vir kykers wat uitgedaag wil word, is daar Under the Skin (16N). Scarlett Johansson (The Avengers) speel ’n enigmatiese vrou wat deur Skotland reis op soek na mans wat die nag saam met haar wil deurbring. Maar soos sy aanreis, begin bevraagteken sy haar bestaan, wat sy doen, asook die waarde van die mense wat sy ontmoet.

Die kritici prys die fliek. Dit kry 78 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en laasgenoemde gee dit 86 persent. Hulle bevind: “Die film se boodskap sal sekere kykers ontwyk, maar die aangrypende beelde en ’n betowerende vertolking deur Scarlett maak Under the Skin ’n ervaring wat by jou sal bly spook.” Die gesiene Amerikaanse resensent Richard Roeper gee dit ’n A+. “Hierdie fliek gaan gehore verdeel. Is dit ’n grap of ’n meesterstuk?” wonder hy. Hy meen Scarlett gee ’n wonderlike vertolking en beskryf die fliek as ’n “gestroopte stuk wat sterk emosies ontlok. Dit dring jou skedel binne en bly daar.”

Nev Pierce van Empire is nie so beïndruk met die fliek nie en gee dit drie sterre. “Diegene wat nie die roman – of enige resensies – gelees het nie, sal dalk deur die hele fliek sukkel om te verstaan wat de joos aangaan, en selfs die ontknoping werp geen lig op die saak nie. As jy sekerheid in jou flieks verwag, is dit onwaarskynlik dat jy hierdie fliek sal geniet,” skryf hy. “Dis vreemd en sexy, onrusbarend en hartroerend, frustrerend en betowerend, vervelig en onvergeetlik.”

Die tekenprent Legends of Oz: Dorothy’s Return (O) is ’n opvolg op die klassieke verhaal The Wizard of Oz deur Frank L. Baum. Ná haar avonture in die vreemde wêreld Oz is Dorothy (Lea Michele van die TV-reeks Glee se stem) terug in haar tuisstaat, Kansas. Maar dis nie lank nie of sy is weer terug in Oz, en vind uit haar ou vriende Scarecrow (Dan Aykroyd), Tin Man (Kelsey Grammer) en Cowardly Lion (James Belushi) se lewe is in gevaar as gevolg van die Jester (Martin Short), ’n nuwe skurk wat die dood van die Wicked Witch of the West wil wreek.

Die meeste resensente dink die fliek is swak. Dit kry slegs 25 uit 100 op Metacritic en 13 persent op Rotten Tomatoes. Paul Bradshaw van Total Film stem saam: hy gee dit een ster en beskryf dit as “goedkoop en sonder sjarme; ’n aanmaning om klassieke werke uit te los”. Adam Markovitz van Entertainment Weekly is effens toegeefliker en gee dit ’n C. “Al is die fliek nog ’n onnodige, ongeïnspireerde opvolg, is dit nie heeltemal boos nie – dit kort net ’n bietjie verstand,” skryf hy. “Legends behoort te voldoen aan wat vermoedelik die doel is, om kinders te hipnotiseer, maar daar is slegs ’n sweempie van die towerkrag van 1939 se The Wizard of Oz. Die bakstene is steeds geel, maar die pad lei nêrens spesiaal nie.”

- Sandra Visser