Godzilla

Al het dit nie sleg by die loket gevaar nie, het 1998 se Godzilla (10-12OG) nie veel van ’n blywende indruk op kritici of kykers gehad nie.

Vanjaar wend Hollywood ’n tweede poging aan om ’n Westerse weergawe van die legendariese Japannese monster te skep, maar deesdae se gehore verwag ál meer dat aksie-avonture met reuse begrotings ook darem iets om die lyf het, dus is gehalte-akteurs en ’n innoverende jong regisseur – die Britse Gareth Edwards, wat baie met min reggekry het in die fliek Monsters (2010) – aangestel.

Vyftien jaar ná ’n ongeluk by ’n Japannese kernkragstasie probeer die fisikus Joe Brody (Bryan Cranston van die TV-reeks Breaking Bad) en sy soldaatseun, Ford (Aaron Taylor-Johnson van Kick-Ass), uitvind wat werklik gebeur het, maar wat hulle ontdek, kan die hele aarde bedreig. Ken Watanabe (Inception), Sally Hawkins (Blue Jasmine) en Juliette Binoche (Chocolat) is ook onder die rolverdeling.

Die meeste resensente hou baie van die fliek. Dit kry 87 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. Hulle bevind: “Dié fliek het net genoeg menslike drama om die meesleurende skouspel – reuse monsters wat alles in sig verwoes – te anker. Edwards se Godzilla bring die franchise se gloriedae terug op ’n bevredigende wyse.” Die Britse filmtydskrif Total Film se Matt Maytum is in sy noppies met die fliek en gee dit vier sterre. “Dié fliek is daardie seldsame lokettreffer wat karakter bo skouspel en spanning bo ononderbroke aksie ag,” skryf hy. “Godzilla beloon jou geduld met sterk toneelspel en spaarsamige, opwindende aksietonele.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ian Freer is egter nie so beïndruk nie en gee die fliek drie sterre. “Edwards en die draaiboekskrywers probeer hul bes om die potensieel lawwe storie ’n gevoel van egtheid te gee, maar onder die lagie realisme kan Godzilla nie ’n intelligente storie vertel wat jou aandag enduit behou nie.” Hy voel ook hulle probeer te ernstig wees en moes ’n bietjie meer pret bygevoeg het.

Filth

James McAvoy (X-Men: First Class) skud sy soetseunbeeld af met Filth (16DTNSG), ’n swart komedie gebaseer op die gelyknamige roman deur die Skotse skrywer Irvine Welsh, bekend vir sy uitdagende, dikwels skokkende romans oor die Skotse werkersklas, soos Trainspotting, wat ook in 1996 in ’n fliek omskep is. In Filth speel James ’n korrupte polisiesersant van Edinburgh wat hom dikwels aan dwelms en drank vergryp. Hy geniet dit ook om sy kollegas te ondermyn en sal enigiets doen om bevorder te word. Maar nadat sy vrou (Shauna Macdonald van The Descent) hom los, begin hy ál meer voeling met die werklikheid verloor en raak hy ál meer buite beheer.

Die oorgrote meerderheid resensente dink dis ’n goeie fliek: Dit kry 69 uit 100 op Metacritic wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Empire se Damon Wise gee dit vier sterre en skryf: “As jy reeds Trainspotting gesien het, kan Filth se oordaad en oormaat jou nie verbaas nie, maar dié fliek se skokkende elemente word beter hanteer te danke aan Jon S. Baird se beheersde regie. En waar Trainspotting op ’n groot rolverdeling gesteun het, dra McAvoy dié swart komedie met ’n dol, besete vertolking.” Dave Calhoun van Time Out gee dit ook vier sterre en beskryf die fliek as “’n skurwe reis deur die gedagtewêreld van ’n psigopaat. Daar is onbeskaamde, in-jou-gesig-flieks, en dan is daar in-jou-gesig-, in-jou-keel-af- en gooi-alles-op-die-sypaadjie-op-flieks. Hierdie wilde verwerking van Irvine Welsh se roman is meedoënloos en donker. Maar dit bied ook galgehumor en het ’n ongepoetste anargie wat getrou is aan Welsh se styl.”

The Last Days on Mars

Die wetenskapsfiksieriller The Last Days on Mars (13TG) handel oor die eerste bemande sending na die rooi planeet. Die sending is amper verby en die bemanning het steeds niks noemenswaardigs gevind nie, tot die wetenskaplike Petrovic (Goran Kostic van In the Land of Blood and Honey) iets ontdek wat lyk soos versteende bakterieë. Maar terwyl hy poog om ’n monster te neem, val hy in ’n diep skeur en moet sy kollegas hom gaan red. Gou blyk dit die bakterieë is tog nie so versteen nie, en ’n virus breek los onder die bemanning.

Die meeste kritici dink die fliek is maar flou. Dit kry 46 uit 100 op die webtuiste Metacritic, en Rotten Tomatoes gee dit 20 persent. Die konsensus is: “Dis nie intelligent genoeg om te werk as ’n wetenskapsfiksiefliek wat jou dieper laat dink nie of pret genoeg om goedkoop opwinding te verskaf nie. The Last Days on Mars is so steriel soos die planeet in die titel.” Tim Robey van The Telegraph gee dit twee sterre en skryf: “Die akteurs vaar nie te sleg met hulle tweedimensionele rolle nie, maar hulle almal, veral Williams, verdien ’n beter draaiboek. Event Horizon en ’n horde vorige oorleef-in-die-ruimte-flieks laat ’n verskeidenheid slaggate agter vir regisseur Ruairi Robinson, en sy fliek trap hardnekkig in omtrent elkeen.”

Maar Richard Jordan van Total Film is toegeefliker en gee die fliek drie sterre. “Robinson se spanningsvolle oorlewingsfliek kry dit reg om los te breek uit die beperkings van ’n klein begroting, maar dit word gekortwiek deur ’n liefde vir sy eie genre,” skryf hy. “Die goeie rolverdeling kan nie die fliek se grootste struikelblok oorkom nie: Ons het dit alles reeds gesien.”

- Sandra Visser