Dié week is Marvel Studios terug met nog ’n superheld uit hul stal. Toe die strokiesprentmaatskappy besluit om Iron Man, Thor en Captain America na die silwerdoek te bring, het dit na ’n risiko gelyk. Hulle was immers nie so bekend by die algemene publiek soos Batman en Superman nie, maar Marvel het daarin geslaag om die wêreld met hul karakters te oorrompel en nou is hul flieks van die suksesvolste superheldreekse nog. Nou stel hulle Ant-Man (10TG) bekend, ’n karakter wat ook al dekades bestaan, maar nog minder bekend is en glad nie so indrukwekkend is soos die ander nie. Sal so ’n fliek ook sukses kan behaal of is dit een risiko te veel vir Marvel?

Anders as die ander Marvel-superhelde, is daar eintlik ’n paar karakters wat al Ant-Man se uitrusting gedra het. Die fliek fokus op Scott Lang (Paul Rudd van I Love You, Man), ’n dief wat deur die afgetrede uitvinder Hank Pym (Michael Douglas van Basic Instinct) gevra word om die mantel van Ant-Man by hom oor te neem. Hank vind uit dat ’n gewetenlose sakeman, Darren Cross (Corey Stoll van House of Cards), sy tegnologie gesteel het en dit vir bose doeleindes wil gebruik; daarom nader hy Scott en versoek dat hy die tegnologie terugsteel. Intussen probeer Scott, wat pas uit die tronk vrygelaat is, sy verhouding met sy vervreemde dogtertjie, Cassie (Abby Ryder Fortson), herbou.

Gelukkig vir Marvel is die fliek ’n treffer by die kritici en die loket. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan films toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 79 persent. Hulle bevind: “Ant-Man bevat ’n bekoorlike vertolking deur Paul Rudd en bied gepaste Marvel-tipe opwinding op ’n kleiner skaal, al verloop dit nie heeltemal so glad soos hul vorige suksesvolste pogings nie.”

Die Britse filmtydskrif Empire se Kim Newman gee dit vier sterre en beskryf dit as “ ’n fliek wat soveel genres bevat as wat die Avengers-flieks karakters het: dis ’n wetenskapsfiksie-aksie-rooftog-superheldsepie. Die filmmakers slaag meestal egter daarin om gereg aan al hierdie elemente te laat geskied. Dis uiters innemend, met ’n paar oomblikke wat jou werklik betower.”

Die aksiekomedie Big Game (10-12OG) is nog ’n ietwat aweregse aksiefliek. Dit speel in Finland af en handel oor ’n seun, Oskari (Onni Tommila), wat op sy 13de verjaardag die woud ingestuur word waar hy 24 uur het om ’n bok te jag en sodoende ’n man te word. Oskari is egter glad nie handig met ’n boog nie en gaan heelwaarskynlik sy naam krater maak voor die hele dorpie en sy hardebaard-pa. Daar ontmoet hy die onwaarskynlikste mens: die Amerikaanse president, William Alan Moore (Samuel L. Jackson van Pulp Fiction), wie se vliegtuig deur terroriste afgeskiet is en wat nou deur hulle gejag word. Gaan Oskari daarin kan slaag om die president, wat self nie veel van ’n vegter is nie, te red en homself aan sy pa te bewys?

Dit klink na ’n premis wat óf vermaaklik óf ’n groot flop kan wees, en met Jackson wat soveel flieks van wisselende gehalte maak, weet ’n mens nooit, maar die kritici dink dis eersgenoemde. Volgens die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, is dit net gemiddeld, met 53 uit 100, maar laasgenoemde gee dit 74 persent. Die konsensus is: “Big Game is ’n geesdriftige poging om hulde te bring aan laebegroting-aksieflieks uit die 80’s en hierin slaag dit, maar die vlak van intelligensie en vaardigheid wat die draaiboekskrywer en regisseur Jalmari Helander aan die rolprent verleen, maak dit baie meer as net eerbetoon.”

Die Britse fliektydskrif Total Film se Jamie Graham gee dit drie sterre. “Die fliek vermeng die immergewilde red-die-president-aksiefliekgenre met die styl en opwinding van ’n lokettreffer uit die 80’s. As jy Big Game ernstig gaan opneem, sal jy dit belaglik vind. Kyk dit egter met jou tong in jou kies en dan sal jy dit beslis geniet, al is dit nie perfek nie. Tussen die aksietonele val die momentum plat, maar dis lekker om Jackson in die rol van ’n lafaard te sien wat skaars sy eie skoenveters kan vasmaak, en daar’s pragtige beelde wat aan die regisseur Steven Spielberg in sy fleur herinner.”

As jy lus is vir iets wat jou sal laat nadink, is daar That Sugar Film (O), ’n dokumentêr deur die Australiese akteur Damon Gameau waarin hy sy lyf proefkonyn hou en vir 60 dae ’n dieet volg wat bestaan uit kos wat as gesond voorgehou word, maar eintlik hopeloos te veel suiker bevat.

Die meeste kritici dink die fliek is goed. Rotten Tomatoes gee dit 63 persent en bevind: “That Sugar Film is afgerond en vermaaklik, maar is tevrede daarmee om net oppervlakkig na ’n onderwerp te kyk wat deegliker ondersoek behoort te word.”

David Clack van Time Out London gee dit drie sterre. “ ’n Dekade ná Super Size Me (waarin die dokumentêrvervaardiger Morgan Spurlock onderneem het om vir ’n hele maand net McDonald’s se kos te eet) klou joernaliste en dokumentêre regisseurs steeds aan dieselfde formule: ’n skokdieet het nie-skokkende gevolge,” skryf hy. “Maar al bied hierdie fliek nie veel groot onthullings oor die suikernywerheid nie, bevat dit genoeg insig om jou in jou broek te laat bewe wanneer jy weer inkopies gaan doen.”

Die ware lewensdrama Woman in Gold (10-12O) gaan oor Maria Altman (Helen Mirren van The Queen), ’n Joodse vlugteling wat in Amerika woon, maar dan terugkeer na Oostenryk om te veg om eienaarskap van Gustav Klimt se bekende skildery (Woman in Gold) met haar tante as onderwerp. Die skildery is deur die Nazi’s gesteel en hang nou in ’n nasionale galery, en Maria soek geregtigheid. Ryan Reynolds (Green Lantern) speel ’n ordentlike jong prokureur wat haar probeer help.

Die meeste resensente dink die film is skaflik. Dit kry 51 uit 100 by Metacritic en 53 persent by Rotten Tomatoes. Hulle bevind: “Woman in Gold vind baat by ’n talentvolle rolverdeling, maar sterk vertolkings deur Mirren en Reynolds is nie genoeg om hierdie saai uitbeelding van ’n fassinerende storie te red nie.”

Empire se Anna Smith stem nie saam nie en gee dit vier sterre. “Al bevat dit ’n sterbelaaide rolverdeling, is die film se uitstaande kenmerk die roerende ware verhaal wat dit uitbeeld. Daar is oomblikke van humor, maar dis nie ’n komedie oor ’n onpaar paar soos Philomena (2013) nie. Die tonele waarin oor gebeure besin en onthullings gemaak word, word op ’n vaardige wyse hanteer en die terugflitse na ’n besette Oostenryk is werklik roerend.”

Die plaaslike drama Thina Sobabili (16TGS en SG, wat vir seksuele geweld staan) se titel is Zoeloe vir “ons twee” en vertel ’n storie van baie kinders se harde werklikheid waarvan die meeste mense wil vergeet. Nadat hul ouma sterf, het Thulas (Emmanuel Nkosinathi Gweva) en sy suster, Zanele (Busisiwe Mtshali), net mekaar. Thulas breek by huise in om Zanele te onderhou en seker te maak sy voltooi haar matriek. Maar soos baie meisies in haar omstandighede dink Zanele sy kan haar lewe verbeter deur ’n vroetelpappie te kry en stel haar sowel as haar broer so in gevaar.

Rozanne Els van Die Burger gee dit drie sterre. “Die storie is ongelukkig nie ’n seldsame een nie. (Die regisseur) Ernest Nkosi se vertelling daarvan is wel,” skryf sy. “Die narratief is boeiend sonder om ooit prekerig te wees, eerder amper terloops: dis hoe dit is en so wys hy dit.”

Nog ’n week, nog ’n goedkoop gruwelfliek met onbekende akteurs. The Gallows (16GSGr) is weereens in die “tuisvideostyl”, wat dit laat lyk asof een van die karakters die gebeure met rukkerige kamerabewegings verfilm. Twintig jaar nadat ’n akteur per ongeluk werklik gehang is tydens die opvoering van ’n toneelstuk, The Gallows, by ’n hoërskool, besluit ’n groep tieners om weer die stuk in die skoolsaal op te voer. Natuurlik is dit ’n onnosel idee en gou-gou begin iemand hulle een vir een vermoor.

Die resensente is nie beïndruk nie. Rotten Tomatoes gee dit slegs 14 persent en beskryf dit as “kunsmatig en deurmekaar. ’n Boomskraapse poging in die ‘tuisvideo’-gruwelgenre.”

Die gesiene Britse resensent Mark Kermode gee dit een ster. “Hier gaan ons al weer met nog ’n resepmatige tuisvideofliek wat jou maklik aan die slaap sal sus. Slegs ’n kakofonie op die klankbaan bestaande uit ’n onheilspellende gerammel en harde slae het my wakker gehou.”

Sandra Visser