Dis ’n voël! Dis ’n vliegtuig! Nee, dis die nuwe Superman-fliek! Man of Steel (10-12O) – met Christopher Nolan, regisseur van die uitstekende Batman-trilogie, as ’n uitvoerende vervaardiger en onder regie van Zack Snyder, wat vir sy stylvolle strokiesboek-aksieflieks 300 en Watchmen bekend is – is ’n herskepping van die franchise, maar dit ignoreer die Christopher Reeve-rolprente en Superman Returns (2006).

Die rolprent hervertel die verhaal van Superman se oorsprong: Terwyl sy planeet, Kripton, sterf, stuur die wetenskaplike Jor-El (Russell Crowe van Gladiator) ’n ruimtetuig met sy babaseun aan boord Aarde toe. Daar vind die Kents (die Robin Hood: Prince of Thieves-ster Kevin Costner en Diane Lane van Unfaithful) die baba, neem hom aan en noem hom Clark. Sy ouers vrees mense sal hom verwerp as hulle van sy oorsprong weet en Clark (The Tudors se Henry Cavill) hou in sy grootwordjare sy herkoms geheim. Maar toe ’n medeburger van Kripton, die bose General Zod (Michael Shannon van Revolutionary Road), die Aarde aanval, is Clark verplig om tot aksie oor te gaan.

Resensente verskil oor die fliek. Op die webtuiste Rotten Tomatoes kry dit 56 persent en word dit as beskryf as “grootliks suksesvol” en dat dit “opwindende aksie en skouspel” bevat. Maar baie resensente het gekla dit het nie genoeg humor of vreugde nie. Aan die ander kant het die tydskrifte Empire en Total Film albei die rolprent vier sterre gegee. Empire se Dan Jolin het opgemerk: “Dit hunker na meer diepte en warmte, maar dit is skouspelagtige wetenskapsfiksie – groot, melodramaties (en) indrukwekkend”.

’n Paar maande nadat Gerard Butler in Olympus Has Fallen ’n eenmansending aangepak het om die Amerikaanse president en die Withuis van terroriste te red, doen Channing Tatum (Magic Mike) dieselfde in White House Down (10-12OG).

’n Polisieman (Tatum) en sy dogter (Joey King van Ramona and Beezus) besigtig die Withuis toe terroriste die kompleks oorneem en dit hang van hom af om die president (die Ray-ster Jamie Foxx) te red.

Resensente het die fliek, onder regie van Roland Emmerich – bekend vir sy oordadige rampflieks soos 2012 (2009) en Independence Day (1996) – meestal afgekraak en dit het 50 persent op Rotten Tomatoes behaal.  Al word Channing en Foxx se skerp komedie-vonk geloof, word Emmerich daarvoor gekritiseer dat hy dit met clichés en lomp regie versmoor.

Vir diegene wat nie in ontploffings belang stel nie, is daar Song for Marion (O), ’n snaakse, opbeurende drama oor Arthur (Terence Stamp, wat toevallig ook General Zod in 1980 se Superman II gespeel het). Dié knorrige Engelse pensioentrekker is doodtevrede met sy vervelige daaglikse roetine tot sy vrou, Marion (Vanessa Redgrave van Letters to Juliet), se gesondheid so agteruitgaan dat sy nie meer by die plaaslike koor kan help nie. Arthur stem teësinnig in om in te staan en onder die leiding van die koorafrigter Elizabeth (Gemma Arterton van Clash of the Titans) vind ’n omwenteling plaas.

Die fliek het 60 persent op Rotten Tomatoes gekry en die konsensus was “dis onbeskaamd sentimenteel, maar danksy betroubaar kragtige spel deur goed afgeronde veteraanakteurs is Song for Marion ’n bekoorlik meesleurende karakterstuk”. Anna Smith van die tydskrif Empire het dit drie sterre gegee en opgemerk “jou traankliere sal dit nie kan weerstaan nie”.

Sandra Visser