Die gewilde misdaadromanskrywer Deon Meyer maak sy regisseursdebuut met die Afrikaanse drama Die Laaste Tango, wat hy ook geskryf het.

Dit handel oor die werkverslaafde speurder De Wet (Louw Venter van Corné en Twakkie-faam) wat na die Karoo-dorpie Loxton geplaas word toe hy die reeksmoordenaar Basson (Stian Bam, Dawid in 7de Laan) in aanhouding wreed aanval.

Op Loxton ontmoet De Wet vir Ella (Antoinette Louw, Inge in 7de Laan), ’n kankerlyer wie se laaste wens dit is om die tango perfek te leer dans. Maar dan ontsnap Basson uit aanhouding en vat die pad Loxton toe . . .

Laetitia Pople van Die Burger het die rolprent vier sterre gegee. Sy het geskryf Meyer skep ’n fyn balans tussen spanning en humor en dat hy romanse kan doen sonder om die pap te dik aan te maak.  Die ouderdomsbeperking vir die rolprent is nog nie beskikbaar nie.

Die voormalige superbooswig Gru (stemwerk deur Steve Carell van Crazy, Stupid, Love.) is terug in die animasie-avontuurfliek Despicable Me 2 (O). Nadat hy sy misdadige gewoontes laat vaar het om pa te speel vir drie weeskinders, het Gru nie juis werk vir sy hande nie. Dan word hy gewerf deur agent Lucy Wilde (Kristen Wiig van Bridesmaids) van die Teen-boosaard-liga om ’n nuwe supermisdadiger te help keer.

Die fliek is meesal goed ontvang – dit het 74 persent gekry op die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes en is soos volg opgesom: Al is die fliek “nie so begeesterd soos sy voorganger nie, sal die visuele skeppendheid jou vasgenael hou en gaan jy ’n hele paar keer kraai van die lag”.

Nadat Matthew McConaughey die laaste paar jaar in power romantiese komedies te sien was, sit hy nou sy tog voort om sy reputasie as ’n akteur te herstel. In Killer Joe (18TNSG) speel hy ’n smerige polisieman van Texas wat ook as ’n huurmoordenaar werk.

’n Jong dwelmhandelaar, Chris (Emile Hirsch van Into the Wild), is in die skuld by ’n klomp plaaslike skurke. Sy oplossing is om Killer Joe (McConaughey) te huur om sy ma te vermoor sodat hy die versekeringsgeld kan kry. Maar toe Chris Joe nie vooruit kan betaal nie, ontvoer Joe Chris se suster, Dottie (Juno Temple van The Three Musketeers), om seker te maak Chris loop hom nie in nie. Mettertyd ontwikkel daar ’n vreemde band tussen Joe en Dottie.

Die rolprent het 77 persent op Rotten Tomatoes gekry, waar dit beskryf word as “gewelddadig en onheilspellend met galgehumor en sterk toneelspel”. Rene Rodriguez van die Miami Herald was vol lof vir McConaughey, wie se “uitbeelding van sadistiese, manipulerende boosheid absoluut boeiend is”.

- Sandra Visser