Ons almal het al seker al daarvan gedroom om die hoofrol in ons gunstelingfliek te vertolk. Ongelukkig sal van ons gunstelingtonele nooit in die regte lewe afspeel nie. Byvoorbeeld:

Twilight (2008)

Jy gaan nooit ’n sexy, stinkryk vampier op hoërskool ontmoet, met hom trou en saam veg teen ’n groep magtige vampiere wat jul gesin wil uitwis nie.

Pretfeit: Die fliek is binne 48 dae verfilm.

The Hunger Games (2012)

Jy gaan nie 11 ander tieners moet verslaan in ’n geveg om die dood wat op TV uitgesaai word en boonop in hopelose omstandighede liefde vind nie.

Pretfeit: Manikuriste moes elke dag ’n driekwartier spook om Elizabeth Banks se naels reg te kry vir haar rol as Effie Trinket.

This is the End (2013)

In ’n herehuis in Hollywood staar die einde van die wêreld jou, James Franco, Seth Rogen, Jonah Hill en Jay Baruchel en ’n klomp ander bekendes in die gesig. Asof dit nou sal gebeur!

Pretfeit: Volgens Seth Rogen is die helfte van die dialoog opgemaak terwyl hulle die fliek verfilm het.

Frozen (2013)

Jy raak ’n yskoningin wat almal wat jy liefhet van jou wegstoot en jy vries die hele dorp. Eisj!

Pretfeit: Elsa se kasteel is deur 50 animasiekunstenaars ontwerp.

Step Up (2006)

Kom ons wees nou eerlik: Koel hip-hop-danse gaan jou nie ’n beurs besorg by ’n skool vir uitvoerende kunste nadat jy die plek verniel het nie. Behalwe as jy Channing Tatum is, natuurlik . . .

Pretfeit: Die fliek se oorspronklike titel was Music High.

Romeo + Juliet (1996)

Jy gaan nie jou sielsmaat ontmoet terwyl jy na ’n vistenk staar nie – behalwe as julle albei mal is oor visse.

Pretfeit: Neil Patrick Harris van How I Met Your Mother-faam is oorweeg vir die rol van Romeo.

10 Things I Hate About You (1999)

Die sexy, eenkant ou in jou skool gaan nie in ’n volmaakte stem vir jou sing nie.

Pretfeit: Die fliek is gegrond op William Shakespeare se toneelstuk The Taming of the Shrew.

Enchanted (2007)

’n Prinses gaan nie uit ’n rioolpyp val en haar sprokiesbestaan verruil vir ’n lewe saam met jou nie.

Pretfeit: Meer as 300 aktrises het ’n oudisie vir die rol van Giselle afgelê. Amy Adams was nommer 275.

Slumdog Millionaire (2008)

Oukei . . . jy het dalk ’n kans om op ’n werklikheidsreeks te verskyn en die liefde van jou lewe te ontmoet.

Pretfeit: Die fliek is bekroon met agt Oscars, onder meer vir beste rolprent en beste regisseur.

EKSTRA BRONNE: buzzfeed.com, imdb.com