Die lang verwagte animasie-fantasiefliek Epic (OG) van Blue Sky Studios, wat ook gesorg het vir Rio en die Ice Age-flieks, begin vandeesweek draai. ’n Tienermeisie, Mary Katherine (stemwerk deur Amanda Seyfriend van Mamma Mia!-faam) gaan woon by haar eksentrieke pa (Jason Sudeikis van Horrible Bosses), wat naarstiglik soek na klein mensies wat in die woud woon.

Toe Mary een van dié mensies teëkom, word sy meteens net so groot soos hulle. Terselfdertyd ontdek sy hulle is die bewakers van die natuurlike wêreld en spook om die woud te beskerm teen wesens wat dit wil vernietig.

In die algemeen is die fliek gunstig ontvang – dit het 62 persent behaal op die webtuiste Rotten Tomatoes. Daar is ook opgemerk “al is dit bekende temas, is die animasiewerk in Epic pragtig en is dit met net genoeg flair geskep om dit goeie gesinsvermaak te maak”.

Mark Wahlberg, Russell Crowe en Catherine Zeta-Jones is te sien in die riller Broken City (16TG). Die burgemeester van New York (Crowe) vra ’n oudpolisieman wat ’n speurder geword het (Wahlberg) om uit te vind of sy vrou (Zeta-Jones) hom verneuk. Maar dan kom die speurder eerder af op bewyse wat dui op korrupsie in die hoogste vlakke van die regering.

Die fliek is origens negatief ontvang en dit slaan talle kritici dronk dat groot sterre soos Wahlberg en kie kon instem om daarin te speel Rotten Tomatoes het dit net 30 persent gegee en die draaiboek as “flou en formule-agtig” beskryf. Op die blog Movie Talk het Jason Best dit beskryf as ’n “soliede, ouwêreldse misdaadriller met die gewone elemente van polisielede, skelms en korrupsie in die stad New York”.

Gambit (10TG) is losweg gegrond op ’n 1966-fliek met Michael Caine en Shirley MacLaine in die hoofrolle. In die nuwe fliek is Colin Firth (The King’s Speech) en Cameron Diaz die hoofakteurs. ’n Britse kurator (Firth) wil hom wreek op sy aaklige baas (Alan Rickman, prof. Snape in die Harry Potter-flieks) deur hom met die hulp van ’n rodeo-kampioen van Texas (Diaz) ’n vervalste Monet te laat koop.

Al het die gerekende Coen-brothers, wat The Big Lebowski (1998) en No Country for Old Men (2007) geskryf en geregisseer het, die draaiboek aangepas, het die meeste resensente dit as vaal en glad nie snaaks nie beskryf. Kim Newman van die tydskrif Empire het dit net twee sterre gegee en geskryf hierdie soort klug benodig ’n ligte benadering; hier is die benadering “effens te geforseerd” en maak dit te veel staat op “poepe, naaktheid en toilethumor”.

Die bekroonde Spaanse regisseur Pedro Almodóvar, wat onlangs gesorg het vir donker, ernstige films soos Broken Embraces (2009) en The Skin I Live In (2011), keer met die komedie I’m So Excited (16STD) terug na die oordrewe, anderster styl van sy vroeëre werk. Tydens ’n vlug van Madrid na Mexikostad ontdek die passasiers die onderstel van die vliegtuig is beskadig. Terwyl die vliegtuig in sirkels oor die lughawe vlieg en die bemanning die situasie so aangenaam moontlik maak, begin die passasiers hul lewens oordink.

Die fliek het gemengde reaksie uitgelok. David Hughes van Empire het dit drie sterre gegee en geskryf in die 70’s en 80’s was Almodóvar se seksueel eksplisiete, oordrewe blik op Spaanse kultuur ondermynend en uitdagend, maar noudat die samelewing soveel verander het, voel hierdie film soos ’n outydse Carry On-komedie. Hughes skryf: “Jy gaan dalk ’n onwrikbare toleransie vir baie oordrewe, plat humor moet hê om dit ten volle te waardeer.”

Sandra Visser