Twee wetenskapsfiksieflieks begin dié week draai.

Die eerste een is Star Trek: Into Darkness (OG), die langverwagte opvolg op die regisseur JJ Abrams se vindingryke Star Trek (2009). Toe die bemanning van die ruimteskip Enterprise na die Aarde teruggeroep word, vind hulle iemand in hul eie organisasie het hul hele vloot skepe opgeblaas en die mensdom in ’n krisis gedompel. Kapt. Kirk (Chris Pine) soek vergelding en sit af na ’n oorloggeteisterde planeet.

Die meeste resensente het die rolprent geprys en dit het ’n telling van 87 persent gekry op Rotten Tomatoes, ’n webtuiste waar resensies saamgevoeg word. Al is die rolprent “nie so vars soos sy voorganger nie”, word dit as “visueel skouspelagtig en aksiebelaai” en ’n “goeie aflewering in die gerespekteerde wetenskapsfiksie-franchise” beskryf.

Daarteenoor het After Earth (10-12OG) onder die resensente deurgeloop. Die rolprent blyk nog ’n misoes van die regisseur M. Night Shyamalan te wees. Sy loopbaan het so belowend begin met The Sixth Sense (1999) en Unbreakable (2000), maar sy meer onlangse pogings, soos The Happening (2008) en The Last Airbender (2010), is grootliks as mislukkings beskou.

Duisend jaar nadat mense gedwing is om die Aarde te verlaat, maak ’n gerespekteerde generaal, Cypher Raige (Will Smith), en sy eiewys tienerseun, Kitai (Jaden Smith), ’n pletterlanding op die nou onherbergsame planeet. Cypher is ernstig beseer en Kitai moet gevaarlike terrein oorsteek om hul reddingsbaken te gaan haal. Die rolprent het maar 11 persent op Rotten Tomatoes gekry en is as ’n “vervelige, sukkelende oefening in sentimentele wetenskapsfiksie” beskryf.

A Haunted House (16Gl*DTNVS) is nog ’n parodie met Marlon Wayans in die hoofrol. Hy en sy broers het voorheen met hul Scary Movie-reeks parodieë op die Scream-rolprente geskep. Hierdie keer het hulle die Paranormal Activity-flieks in die visier: Malcolm (Wayans) en Kisha (Essence Atkins) trek by hul droomhuis in, maar kom kort voor lank agter hulle leef met ’n demoniese teenwoordigheid saam. Toe die demoon Kisha binnevaar, vra Malcolm by almal hulp – van ’n uitdrywer tot spookjagters. Die tydskrif Empire het die fliek een ster gegee en dit met een woord opgesom: “afgryslik”.

Die veteraanakteurs Al Pacino, Christopher Walken en Alan Arkin is die hoofspelers in die misdaadkomedie Stand Up Guys (16T). Hulle vertolk die rolle van drie misdadigers wat vir ’n gebruiklike laaste keer saamwerk. Maar een van hulle steek ’n gevaarlike geheim weg. Die meeste resensente het die fliek afgemaak en dit het maar 38 persent op Rotten Tomatoes behaal. Op dié webtuiste is die oppervlakkige draaiboek, slordige regie en vermorsing van so ’n talentvolle rolverdeling gekritiseer.

Die hoofakteurs in die Franse komedie Un Plan Parfait (“ ’n volmaakte plan”) of Fly Me to the Moon (10-12TO) is die Duitse aktrise Diane Kruger (National Treasure) en die komediant Dany Boon, wat in Frankryk ’n groot ster is. Isabelle (Kruger) wil met haar tandarts-kêrel (Robert Plagnol) trou, maar haar familie gaan onder ’n vloek gebuk – hul eerste huwelik is altyd ’n ramp. Isabelle besluit om dit te omseil deur met ’n lukrake vreemdeling te trou en dan van dié te skei voor sy saam met die tandarts voor die kansel gaan staan. Sy stel haar plan in werking toe sy ’n eksentrieke reisgidsskrywer (Boon) raakloop. Die tydskrif Hollywood Reporter, wat nie sterre gee nie, het gesê die fliek is onegalig, die storie onoortuigend en ’n vonk ontbreek tussen die sterre.

Yamla Pagla Deewana 2 (ouderdomsperk nie beskikbaar nie) is ’n Bollywood-aksiekomedie wat in Brittanje afspeel. Dis die opvolg van ’n 2011-fliek wat in Indië ’n groot treffer was. Movietarot.com se resensent het die fliek 72 persent gegee en gesê dit het “goeie oomblikke wat die kyker se lagspiere prikkel”.

- Sandra Visser

* Gl staan vir godslastering.