Ons dink: 4/5 

Oorlogsdrama

Met Jessica Chastain en Joel Edgerton

Regisseur: Kathryn Bigelow

16TG

Begin op 15 Februarie

Ons weet die Navy Seals het Osama bin Laden in Mei 2011 in Abbottabad, Pakistan, gaan uitsnuffel en doodmaak. Hoekom dan na ’n rolprent gaan kyk waarvan jy die uiteinde ken? Dis om saam met die skitterende regisseur Kathryn Bigelow toegang te kry tot die kop van Maya, wat die terroris opgespoor het; om te ontleed hoe dié doelgerigte vrou, wat nie verhoudings of vriende het nie, 10 jaar lank vasbeslote inligting inwin tot sy Bin Laden se nes kry.

Voornemende kykers moet weet: Die eerste helfte gaan oor die opspoor van inligting, ook deur martelmetodes wat die Amerikaanse regering ontstel het, die uitpluis van feite en onsimpatieke politici wat Maya aanvanklik nie wou glo nie. Toe die soldate Bin Laden se huis binneval, loop die spanning hoog, maar Bigelow verlaag nie dié prent tot ’n sensasionele videospeletjie waar mense in stadige beweging in mooi gechoreografeerde skote doodgeskiet word nie. Hier klap doodskote, val mense realisties en is daar geen Bruce Willis-kwinkslae nie; slegs vasbeslote en weldeurdagte aksie om die lyk so gou moontlik terug te kry in Amerika.

Dié rolprent is realisties, probeer geen gehoor bevredig of vermaak nie en wys feite soos dit is, sonder verglansing. Jessica Chastain is uitstekend as Maya.

– LEON VAN NIEROP