Komedie.

Met Josh Brolin, Anthony Hopkins en Naomi Watts.

Regie: Woody Allen.

13T.

Begin op 31 Desember.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Groep mense se lewenspaaie kruis toe ’n neurotiese ma by ’n fortuinverteller om hulp aanklop nadat haar man haar vir ’n jonger vrou gelos het.

Wie sal hiervan hou?

Mense wat dink Woody Allen is die kat se snor – en nét hulle. Jonger fliekgangers sal dalk verveeld raak met die baie pratery en met die angs en neurose van stedelinge wat ’n hoofbestanddeel van enige Allen-komedie is.

Die humor is droog en gevat met ’n paar kwinkslae wat ’n mens wil raam en ophang.

En soos gewoonlik lewer akteurs uithalerspel wanneer hulle uiteindelik ’n draaiboek kry wat karakterisering en knap, speelbare dialoog bied.

Dus, as jy al Allen se flieks gesien het, sal hierdie een so lekker wees soos ’n piering melk vir ’n dors kat.

Wag vir DVD?

Ja, jy kan, want dit gaan waarskynlik net by kunsteaters vertoon word.

Indien so ’n teater nie naby jou is nie en jy wil steeds deel in die vreugdes van mense wat van lyding ’n fyn kuns gemaak het en wyshede kwytraak wat net uit Woody Allen se tikmasjien kan kom, sal jy skaterlag. Sy neurose is so glad geolie soos ’n sportmotor se enjin.

Maar as jy nog nooit een van Allen se flieks gesien het nie, pas op, want hy is ’n aangeleerde smaak.

Soortgelyke flieks

Hannah and Her Sisters; Play It Again, Sam.

Springmieliefeite

*Dis die eerste rolprent deur Woody Allen wat nie deur Charles Joffe vervaardig is nie. Hy is onlangs oorlede.

SGemma Jones, wat die neurotiese ma speel, sou Sarah/Anna in The French Lieutenant’s Woman gespeel het, maar Meryl Streep het met die rol weggeloop.